Mees gesoekte misdaadverdagte vas ná 9 jaar

Argieffoto: https://pixabay.com

ʼn Man wat jare lank een van die mees gesoekte misdaadverdagtes in Gauteng was, se geluk het uiteindelik opgedroog toe hy vandeesweek deur polisiebeamptes in die provinsie in hegtenis geneem is.

Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, sê die voortvlugtende Madoda Mqwathi (34) is tydens Operasie O Kae Molao in hegtenis geneem ná nege jaar op vrye voet.

Mqwathi was reeds vroeër in polisieaanhouding, maar het in Februarie 2010 uit ʼn polisievangwa ontsnap. Die vangwa was besig om hom terug te neem na die Modderbee‑gevangenis nadat hy in die Nigel-landdroshof op aanklag van huisbraak en diefstal verskyn het.

Volgens Masondo word Mqwathi met meer as tien verskillende misdaadvoorvalle verbind, insluitend huisbrake, huisrooftogte, diefstal en ontsnapping uit wettige aanhouding.

ʼn Parallelle misdaadbekampingsoperasie is ook die week in Tshwane gehou waar daar nóg drie mans in hegtenis geneem is wat op die polisie se lys van mees gesoekte verdagtes was. Masondo sê dié trio word met meer as twaalf sake van kaping, huisbraak en diefstal verbind.

Dié was egter net twee van die deurbrake wat Operasie O Kae Molao opgelewer het. Die polisie het ook ʼn verdagte in hegtenis geneem wat ʼn polisievuurwapen in sy besit gehad het. Dié vuurwapen het behoort aan ʼn polisiebeampte wat in Maart vanjaar in Katlehong, oos van Johannesburg, beroof en vermoor is. Masondo sê die polisie ondersoek nou of die verdagte met die adjudant-offisier se moord verbind kan word.

“Meer as 100 verdagtes is tydens die operasie [in Johannesburg] in hegtenis geneem vir verskeie aanklagte wat wissel van moord, poging tot moord en aanranding, tot dwelmbesit, bedrog, diefstal, besit van gesteelde goedere en onwettige immigrante,” sê Masondo. “In Tshwane is nog 105 verdagtes in hegtenis geneem, ook op verskillende aanklagte. By padblokkades is verkeersboetes van R141 800 uitgereik en vier ongelisensieerde drankwinkels is toegemaak.”

Al die verdagtes sal binnekort in verskillende landdroshowe in die provinsie verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Buffel ·

Stem saam met die artikel die ou se geluk het opgeraak sy arrestasie het absoluut zero uit te waai met die effektiwiteit van ons polisie.

Netso ·

Baie geluk dit klink my die “Hoop” kom terug! Dink persoonlik dis eerder ñ skande as ñ prestasie om 9 jaar te vat! Dit was blote toeval en nie geen speurwerk nie moes hier gestaan het!

Magda ·

Lekker om iets Positiefs en dit van die Polisie te lees. Daar is altyd n nuwe begin, en hoop die is net die begin van die Nuwe Polisie wat SA so bitter nodig het. Baie dankie

pieter ·

Briljant hoop dit gebeur landwyd en nie net in gauteng nie

witogie ·

Die hele laaste sin in die artikel is waar die probleem le: die howe. Die polisie vang hulle, maar die howe laat gaan hulle.

Zumie ·

Beste witogie
Jou mening is totaal oorvereenvoudig… wanneer die persoon aangekla word met ‘n goed ondersoekte saak met getuienis sal daar gewoonlik ‘n skuldigbevinding volg. Sonder getuienis egter sal hy vrygaan…

Dewi ·

Stem 190% saam hy loop more weer rond staat is te onbevoeg om te vervolg

Theresa ·

En so word die tronke vol. Julle sal die moordenaars, verkragters en ernstige geweld misdadigers die doodstraf moet oplê om plek te maak vir die ander………………………….

Cherokee ·

Dit is opmerkings soos joune wat ‘n ongekende bose krag vrylaat. Ek is meer ernstig met my stelling as wat dit met die eerste oogaopslag mag blyk. Kommentare soos die van jou ondersteun die ongekende mag waarteen ons veg. Moet nie antwoord sonder om dìt wat ek sê te oordink nie.

Andre Stander ·

Welgedaan polisie!

“Never trade Luck for Skill”…..

Hennie ·

So die ou het huisbraak, huisroof en ontsnapping gepleeg en hy is most wanted? Uhm…

Waat ·

Wat van so operasie voor die parlement en op die hoofpad na Nkandla?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.