Meeste verdrinkings in drie jaar hiér aangemeld

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: David Di Veroli/Unsplash)

Teen middel vanjaar het meer mense reeds in die Stad Kaapstad verdrink as tydens enige van die vorige drie jare.

Luidens statistieke uitgereik deur die stad is altesaam 56 verdrinkings sedert die begin van 2019 in die stad aangemeld, met 19 verdrinkings wat reeds vanjaar aangemeld is, gevolg deur 15 verdrinkings verlede jaar, nege verdrinkings in 2020 en 13 verdrinkings in 2019.

Jill Fortuin, die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se uitvoerende hoof van verdrinkingvoorkoming, sê die toename in verdrinkings kan aan verskeie faktore toegeskryf word, soos die feit dat meer mense nou ná Covid-19 hul huise verlaat.

“Die invloed van klimaatsverandering speel ook ʼn rol, soos met die vloede in KwaZulu-Natal, waartydens ʼn hele paar verdrinkings aangemeld is,” sê Fortuin.

Altesaam 86% van al die verdrinkings (sowat 48 van die 56 verdrinkings) was mans.

Fortuin sê dit is omdat mans meer waaghalsig as vroue kan wees. “Ons sien self dat meer seuns –  onder die ouderdom van vier jaar – as meisies van dieselfde ouderdomsgroep verdrink.”

Volgens die stad se statistieke was 60% van alle sterftes jongmense tussen 13 en 35 jaar oud.

“Verdrinking is een van die tien hoofoorsake van sterftes onder kinders en jongmense tussen een en 24 jaar oud,” sê die stad.

Altesaam 90% van alle verdrinkings vind plaas in hawens, getypoele, damme, mere, riviere en kanale.

“In die Wes-Kaap vind ʼn groter deel van noodlottige verdrinkings in die lente en somer plaas, met byna die helfte van hierdie sterftes wat oor naweke en openbare vakansiedae aangemeld word.”

By die volgende strande word die meeste verdrinkings aangemeld: Table View, Milnerton-lagunestrand, Seepunt, tussen Clifton se eerste en derde strand, Glen-strand, Strand Deep Blue en Jetty, Wolfgat-natuurreservaat en Kogelbaai Dappat se Gat.

Patricia van der Ross, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, sê die stad het 12 permanente senior lewensredders wat groepe van 600 seisoenale lewensredders oplei wat jaarliks van Oktober tot April gewerf word om strande en munisipale swembaddens te patrolleer.

“Strandgangers word daaraan herinner om net te swem waar daar lewensredders teenwoordig is en waar tekens aandui dat dit veilig is om te swem. Moenie swem as lewensredders nie teenwoordig is nie,” waarsku Van der Ross.

“Swem altyd tussen die rooi en geel vlae wat lewensredders by die strand opgesit het. Dit dui die veilige swemgebiede aan. Gebiede buite hierdie vlae kan gevaarlike strome en getye verberg.”

Van der Ross sê daar moet ook altyd toesig oor kinders wees wanneer hulle naby die water is.

“Alkohol word ook nie op strande of by openbare swembaddens toegelaat nie. Dit lei tot stadige fisieke reaksietyd sou jy jou in die moeilikheid in die water bevind en verminder die krag van die kunsmatige asemhaling (KRP). Dit veroorsaak ook dat mense hul swemvermoë verkeerd beoordeel, wat veroorsaak dat baie mense risiko’s neem wat hulle gewoonlik nie sou waag as hulle nugter was nie.”

Die stad stel jaarliks ʼn verdrinkingvoorkomingsplan in werking in vennootskap met onder meer die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), Lifesaving South Africa, Lifesaving Cape Town, die polisie en die stad se wetstoepassingsagentskappe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

KatjieDeKat ·

Ja dit is so dat mans in die algemeen meer waaghalsig as vroue is. Ek is n vrou en een vd eerste lesse wat my pa my geleer het, was: “Jy respekteer die see!” Tensy jy n uiters sterk en ervare swemmer is, speel maar net in die vlak watertjies. Dis ook mos lekker, en die gevaar vir jou lewe is klein. As jy wil swem vir oefening, doen dit by n gym, of by n publieke swembad, as jy nie self een het nie. Daar is ten minste lewensredders en/of mense wat jou maklik kan bereik as jy in die moeilikheid kom. As dit kom by die see, liewer bang Jan as dooie Jan. My pa se goeie vriend, oom Kallie, het verdrink in die Langebaan lagoon. Ek dink sy bootjie het omgeslaan. Ek onthou hom uit my kinderdae, dierbaarste ou omie met sy hondjie Oortjies. So as jy in n boot uitgaan, Onthou die lewensgordels en dra dit te alle tye. Die see is niemand se speelmaat nie.

Kobus ·

Hou sekere mense wat nie kan swem nie uit die see want dit is nie almal wat in die see kan swem nie????????????

Koen ·

Wonder wie jou sekere mense is? ‘n goeie vriend van my wat ‘n sterk swemmer is, her verdrink nadat hy mense wou gaan red het. Val hy ook onder jou “sekere mense”? Jou ma moes jou maniere geleer het.

Buks ·

Natuurlik want die polisie het toe mos mense toegesluit wat wou swem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.