Mej. Heelal: Bryoni eindig in top-20

Mej. Heelal: Sheynnis Palacios van Nicaragua (Foto: Facebook)

Die Mej. Heelal-kroon kom helaas nie terug Suid-Afrika toe nie.

Plaaslike skoonheid Bryoni Govender was nietemin “die sonsopkoms oor Afrika” in Sentraal-Amerika waar die wenner van die 72ste jaarlikse Mej. Heelal-skoonheidskompetisie vroeg Sondagoggend aangekondig is.

Sheynnis Palacios van Nicaragua het as 2023 se Mej. Heelal weggestap.

Dit is die eerste keer dat ’n deelnemer van Nicaragua – die grootste land in Sentraal-Amerika – dié gesogte skoonheidskompetisie wen.

Bryoni, naaswenner in vanjaar se Mej. Suid-Afrika-kompetisie en ’n gunsteling om die titel te verower, het die top‑20 gehaal.

“Baie geluk met ’n uitstekende Mej. Heelal-reis. Jy het die nasie trots gemaak en ons sal altyd agter jou staan,” was die Mej. Suid-Afrika-organisasie se boodskap vanoggend aan Bryoni.

Altesaam 84 skoonhede het hul lande tydens die 72ste jaarlikse Mej. Heelal-kompetisie – dié keer in El Salvador – verteenwoordig.

Thailand se Anntonia Porsild en Australië se Moraya Wilson het saam met Palacios in die topdrie geëindig.

Bryoni Govender (Foto: Facebook)

Suid-Afrika se Bryoni, wat ʼn regsgraad van die Universiteit van Johannesburg het en in Julie vanjaar as prokureur toegelaat is, was vroeër vandeesweek as ’n voorloper in die kompetisie beskryf nadat sy as een van die top-10 silwer finaliste in die kompetisie se Voice for Change-projek aangewys is.

Bryoni het tydens die Voice for Change-geleentheid gepraat oor haar vrouebemagtigingsveldtog, Her Way Out.

Palacios het vanoggend in haar finale antwoord aan die paneel die belangrikheid van gelyke betaling beklemtoon sodat vroue “in enige veld kan werk”.

“Daar is geen beperking op vroue nie,” het die pas gekroonde Mej. Heelal geantwoord.

Die organiseerders van die Mej. Heelal-skoonheidskompetisie het vanoggend aangekondig dat die volgende Mej. Heelal-kompetisie in Mexiko gehou sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bolandse Nooi ·

SA is trots op ‘n “onder-die-laaste 20”-posisie in ‘n kompetisie waar ons dames (eens-op-‘n-tyd, lank gelede) gereeld as wenner gekroon is of ten minste onder die top-3 geëindig het! Tekenend van die verval in die land …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.