Metropolisiebeampte tydens kaping vermoor

(Argieffoto)

’n Metropolisiebeampte van Tshwane is Sondag in die vroeë oggendure tydens ’n kaping doodgeskiet. Die beampte was nie aan diens ten tyde van sy dood nie.

Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, het aan Maroela Media gesê die metropolisiebeampte is omstreeks 02:00 in Olievenhoutbosch in Centurion gekaap. Sy liggaam is later met verskeie skietwonde gevind.

Daar word beweer dat die metropolisiebeampte se vriendin saam met hom was ten tyde van die kaping. Sy is glo tydens die voorval in die been geskiet en sedertdien in ’n hospitaal opgeneem.

Mahamba kon egter nie dié inligting aan Maroela Media bevestig nie aangesien dit deel uitmaak van die polisie se ondersoek.

“Die saak word in hierdie stadium deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ondersoek. Die Tshwane-metropolisie sal die beampte se identiteit op ’n later stadium bekend maak nadat ons bevestig het dat sy familie behoorlik ingelig is.”

Mahamba het sy medelye met die beampte se naasbestaandes betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.