Miljarde al aan NGV bestee

Argieffoto (Foto: Parentingupstream, Pixabay)

Miljarde rande se onvoorsiene uitgawes om werknemers van ʼn niebestaande Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te betaal, is nou Suid-Afrika, én Suid-Afrikaners, se voorland.

Die minister van gesondheid, Joe Phaahla, het in ʼn geskrewe antwoord op ʼn vraag van die DA gesê dat die departement van gesondheid reeds ongeveer R5 miljard aan die NGV toegewys het – selfs al is net meer as R1 miljard volgens die nasionale begroting aan die NGV toegewys.

ʼn Groot deel van dié geld word gebruik om personeel vir die NGV in diens te neem, teen salarisse van meer as R1 miljoen per jaar. Daar is glo reeds meer as 28 mense teen hierdie salaris in NGV-spesifieke poste aangestel.

Solidariteit het vroeër vanjaar ʼn hofaansoek teen die departement gebring weens die voortydige advertering van NGV-poste. Die aansoek is sonder koste van die hand gewys.

Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê dat geld roekeloos rondgegooi word vir dié poste, sonder dat ʼn begroting daarvoor bestaan.

“Daar is immers ʼn goeie kans dat die NGV nooit die lig sal sien nie en min. Phaahla weet dit. Bykans niemand is ten gunste daarvan nie én die tesourie het al telkemale laat blyk dat daar nie geld daarvoor is nie,” sê Du Buisson.

Volgens Du Buisson was Solidariteit vroeër vanjaar in die hof om hierdie wanbesteding oor die NGV-poste te verhoed. Hy is voorts oortuig dat hierdie voortydige inwerkingstelling van NGV-planne slegte gevolge gaan hê.

“Die departement van gesondheid mors miljarde wat gebruik kon word om werklike gesondheidsorg in die openbare sektor te bied en te verbeter. Daar bestaan ʼn ernstige behoefte aan verbetering.

“Dit gebeur alles ter wille van ʼn stelsel wat geensins ons land se gesondheidsorg sal verbeter nie. Die regering dra eenvoudig nie landsburgers se belange op die hart nie en hierdie kwessie is net nog ʼn bewys daarvan,” sê hy.

Hy wys daarop dat ʼn 2023-kosteverslag oor die NGV beraam het dat minstens R660 miljard in die begroting nodig sal wees vir die stelsel om in werking gestel te word.

Solidariteit gaan intussen voort om elke afdeling van die NGV deur middel van die howe, asook met openbare druk, te beveg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

GWS ·

Die NGV kan nie werk nie, hulle kan nie eers tans die basiese dienste lewer nie. Dit is net nog ‘n melkkoei vir die ANC!!!

Delia ·

Krap manne krap. Wie is in diens geneem, watter posisies en wat is al gedoen?

domheks ·

SA is mos ‘n baie ryk land, almal wil by die trog uitkom!

Martie Smartie ·

Hierdie gaan die grootste uitgerekte korrupsie skema van alle tye wees. Selfs groter as Eskom. Jacob Zoem se 8+ jaar van diefstal en korrupsie gaan lyk soos ‘ ‘n walk in the park’.

annie ·

Ouch, maar moenie te veel worry nie, hou die worry vir later want dit gaan nodig word, want dit gaan vir seker net voor die verkiesing aangekondig word as die redder van die ANC se lewe terwyl dit sterwende lê op die operasie-tafel. Die noodoperasie sal deur die beroemde dr Cyril en sy span spesialiste uitgevoer wou. Ons ken hul name. Dié spasie is ongelukkig te klein vir die herhaling daarvan. Die miljarde benodig vir suurstof ens sal glo deur die Reserwebank met flukse goudverkope aan die Ooste befonds word.

George ·

Letterlik nog nie eens begin nie, en daars reeds korrupsie.

Cassie Carstens ·

Dis duidelik dat Shamila batoyi nie die regte leier is vir die NGV nie. Net nog ‘n melkkoei vir die kaders. Stel mense aan, geen reaksie op Zondo se staats kapings verslag. Wat help dit?

Rindie ·

Ek wonder net wie is hier almal aangestel…hoeveel kader ontplooing is daar.Daar is hoeveel dokters wat nog nie eens geplaas is nie…maar hulle kan miljarde betaal vir personeel van n instansie wat nog nie eens bestaan nie.Of is dit maar weer net spookwerkers?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.