Miljarde nodig om vervalle weermagbasisse op te knap

Die weermag sukkel reeds om sy toerusting in stand te hou en benodig nog sowat R8 miljard om vervalle basisse op te knap. (Argieffoto: SA Weermag)

Suid-Afrikaners moet reeds sowat R2,5 miljard opdok vir die weermag se buitelandse ontplooiing in die Demokratiese Republiek die Kongo en dit het nou aan die lig gekom dat die weermag se basisse landwyd in so ʼn vervalle toestand is dat sowat R8 miljard nodig is om die weermag se uitgebreide netwerk geboue op te knap en in stand te hou.

Thandi Modise, minister van verdediging en militêre veterane, het in antwoord op ʼn parlementêre vraag van die DA gesê ʼn assessering van geboue deur die departement en die WNNR het bepaal dat R8 miljard nodig is om die infrastruktuur- en instandhoudingsagterstand van die 36 890 geboue op al sy basisse in te haal.

Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging en militêre veterane, sê die beroerde situasie met infrastruktuurinstandhouding het reeds die weermag se operasies negatief begin raak en skep groot risiko’s vir die weermag se staat van gereedheid. Vroeër vanjaar moes die Loftus-gebou in Pretoria ontruim word nadat die departement van arbeid en indiensneming bevind het die gebou is onveilig weens stukkende ventilasiestelsels.

“Terwyl die weermag versuim om sy kernsendingtoerusting in stand te hou of te vervang – wat ʼn groter prioriteit behoort te wees – is dit duidelik dat daar eenvoudig geen geld beskikbaar is om die infrastruktuur- en instandhoudingsagterstand weg te werk nie,” sê Marais.

“Militêre basisse is die primêre ondersteuningsfasiliteite vir die land se staat van gereedheid in geval van ʼn nasionale noodgeval en die feit dat dit toegelaat is om te verval tot ʼn punt van ineenstorting, is ʼn nasionale skande.”

Dit help ook nie die departement van verdediging, wat moet help om die basisse in stand te hou, is platsak of verloor geld weens verkwistende besteding nie. Die departement se ouditkomitee het onlangs onthul die departement se nuttelose en verkwistende uitgawes beloop R430 miljoen. Hiervan kon die departement ʼn skamele R800 weer herwin.

Die DA herhaal sy oproep dat die departement van verdediging onder administrasie geplaas moet word, sê Marais.

“Die departement het ʼn woesteny van ondoeltreffendheid, voortgesette aftakeling en onverskilligheid jeens die manne en vroue in uniform geword,” sê Marais.

Suid-Afrikaners moet die ANC en die minister ten volle aanspreeklik hou omdat hulle die weermag se gevegsgereedheid en die mense van Suid-Afrika in die steek gelaat het, sê hy.

Marais het vantevore al gesê die ANC het die weermag “gebreek” nadat dit aan die lig gekom het dat Suid-Afrika se soldate in die DRK ontplooi is ondanks ʼn gebrek aan veldkombuise, ʼn tekort aan mediese personeel, geen verkoelde vraghouers nie, ʼn gebrek aan ablusiegeriewe en geen geld vir voorraad nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

hpven ·

Die skade wat die ANC, De Klerk regering en hul meelopers, die land aangedoen het is onberekenbaar!

Michael ·

Ek het nie geweet sa het n weermag nie en as hulle dan een het hoekom word die grense nie beskerm teen onwettige immigrante nie?

Nie Verbaas ·

In ons dae het ons oor naweke self die onderhoud gedoen, of jy nou rang gehad het of nie. Almal het gehelp.

Pieter ·

Orals is daar te kort aan geld. Nou waarheen is die geld dan?
Tussen die wishlist en noodsaklike, weet ons regtig nie meer waar julle van plan is om al die beloftes te bewaarheid?
Breek alles af en speel maar met klippe, daar is genoeg bewyse reeds dat dit al is wat sommige mense goed kan doen, of WIL doen.
Waar ‘n wil is is ‘n weg. So sal hulle afbreek en kry wat hulle regtig wil, maar ons sal ok wees, want waar ‘n wil is, is die Weg. Give a man a fish ;-)….

Wondermaarnet ·

En wie gaan betaal? Sekerlik nie weer die belastingbetalers nie.

Nicholaas ·

En as die geld beskikbaar gestel word hoeveel gaan in die kaders en hul families se se opeindig, dit maar beter dat dit so bly totdat n nuwe regering aan bewind kom.

Nicholaas ·

En as die geld beskikbaar gestel word hoeveel gaan in die kaders en hul families se se sakke opeindig, dit maar beter dat dit so bly totdat n nuwe regering aan bewind kom.

kragaap ·

Dis lankal ‘n nasionale skande. Die minister kan begroot tot die perde horings kry geen geld gaan by die basisse uitkom nie. Geldjies sal in kaders se sakke verdwyn.

Marthinus Johannes ·

Nee wat, Los maar uit. Net Soos die ander SO’s weermag tot niet. Wat eens die trots van ons land was is nou n seeroog., en ons was een van die bestes ter wêreld. Los maar die 8MJ ook uit want dit gaan ook gemors word en sakke toe.

koos10 ·

Die hele regering moet onder administrasie geplaas word, want oral lyk dit so. SAPS, Gesondheid, Skole, DPW en gaan maar aan.

domheks ·

Miljarde geld geleen – OM WAT MEE TE DOEN? Ek sien nie een staatsinstelling wat WERK nie. Die hele SA is afgebreek tot in die grond. Maar groot salarisse word betaal om NIKS te doen. Kan defnitief nie nog 30 jaar so aangaan nie!

Giel ·

Bakkie vragte kos word daagliks by ons plaaslike koerier afgelaai wat vir die naasbstaandes huis toe gestuur word. Kyk net in watter toestand die voertuiie is waarmee gery word.

Im my tyd in die weermag sal jy les opgese het as n voertuig in so n toetsandwas. ons goed het nie eens op die Angola grens so gelyk nie.

Dis n skande as jy my vra.

Anel ·

Die a en c ken nie die woord “instandhouding” nie. Waar daar disipine is is alles netjies. Ons weermag en polisie ken nie meer die woord nie. Ons is van kleins af geleer om jou eie gemors skoon te maak. Lyk my nie die lot nie.

skurweberg ·

Skryf oor die ANC. Vlag(hoe meer siele hoe meer vreugde) hulle is daarmee uitstekende)

Niklaas ·

Toe ek , 30 jaar na my diensplig , in Potchefstroom was met kunsfees , wou ek uit nuuskierigheid na Potch se militêre basis (naby die Pukke se dames koshuise) , waar ek in daai kamp destyds bloed gesweet het in uniform , gaan oë wys. Dit was die skok van my lewe om daardie geboue en paradegrond , menasie en voertuig parke se toestand te sien . Het sleg geslaap daardie aand.

Korrelkop ·

Kry maar eers Denel reg, anders mors julle julle geld. En verander maar weer die naam van Denel want niemand in die wêreld wil meer met hulle besigheid doen nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.