Net R800 van verkwiste miljoene herwin

Mediakonferensie van die regering se interdepartementele groep belas met justisie, misdaadvoorkoming en veiligheid

Thandi Modise, minister van verdediging en militêre veterane. (Foto: GCIS)

Uit sowat R430 miljoen se verkwiste uitgawes kon die departement van verdediging net ʼn skamele R800 herwin.

Dit dui op ʼn herwinningskoers van 0,002%.

Die departement se interne ouditkomitee het dié syfers tydens ʼn voorlegging aan die portefeuljekomitee oor verdediging en militêre veterane onthul.

Ander bevindings van die interne ouditkomitee is dat kritieke poste al geruime tyd vakant is, onder andere die van ʼn rekeningkundige beampte, ʼn hoof‑ finansiële beampte en ʼn hoofouditbeampte.

Volgens die ouditkomitee kan ongemagtige uitgawes teen die einde van die huidige finansiële jaar van R2,6 miljard tot selfs R5,6 miljard styg. Die portefeuljekomitee oor verdediging moes verder hoor dat onreëlmatige uitgawes R15,98 miljard beloop waarvan net R76 000 verhaal is.

Meer as R3 miljoen is ook vir gehuurde persele betaal waarvan die huurooreenkomste lankal verval het.

Opposisiepartye het intussen skerp kritiek teen die departement uitgespreek, asook Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die Nasionale Vergadering, wat tans in die spervuur is oor bewerings van korrupsie in haar ampstermyn as minister van verdediging.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die nasionale vergadering. (Foto: GCIS)

Die speaker word daarvan beskuldig dat sy gedurende haar tyd as minister omkoopgeld van R2,3 miljoen in die vorm van sogenaamde geskenkpakkies van ʼn diensverskaffer van die weermag aanvaar het. Haar dringende aansoek waarin sy vra vir ʼn bevel wat haar inhegtenisneming verbied, sal vandag [Maandag] in die Pretoriase hooggeregshof aangehoor word.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat sal die aansoek teenstaan aangesien dit “ongegrond en sonder meriete is”.

Minister, speaker én ANC moet waai

Die huidige minister, Thandi Modise, is ook deur opposisiepartye gekap vir haar aandeel in die absolute finansiële verval van die departement.

Die Vryheidsfront Plus en die DA meen dit is duidelik dat departement al jare lank in die wurggreep van beweerde korrupte amptenare is en in ʼn diep put ontaard het waarin belastingbetalers se geld spoorloos verdwyn.

Die departement is ook die bron van die chaos en wanfunksionering wat die Suid-Afrikaanse weermag lamlê, aldus Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging en militêre veterane.

Hy meen as dié “onheilspellende prentjie” wat die ouditkomitee skets in ag geneem word, maak dit “heeltemal sin dat individue soos die voormalige minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, misbruik gemaak en na bewering omkopery versoek het in plaas daarvan om die gemors skoon te maak”.

“Selfs haar opvolger, Thandi Modise, het liederlik misluk om die finansiële rillervertoning by die departement reg te ruk.”

Marais sê die stand van sake by die departement is die perfekte illustrasie van die ANC se rampspoedige mislukkings op alle regeringsvlakke.

Die Vryheidsfront Plus het op sy beurt gesê hy hoop die saak teen Mapisa-Nqakula word spoedig afgehandel sodat geregtigheid kan geskied.

“Dit sal hopelik ook ʼn einde bring aan die ANC se gebruik oor byna drie dekades om die weermag as sy eie spaarvarkie te gebruik en kaders op hoogste vlak te ontplooi.

“Dit het begin met die wapenskandaal en later is selfs ʼn nutsmaatskappy soos Denel tot op die been gestroop. Daarby was daar voortdurende besnoeiings aan die weermagbegroting tot op ʼn vlak waar die land se vermoë om homself te verdedig, ernstig bevraagteken word en sy wapenbedryf feitlik vernietig is,” het dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, gesê.

“Mapisa-Nqakula was in die tyd van die groot agteruitgang en verval minister van verdediging en militêre veterane. Sy is in 2012 aangestel as minister en is in 2021 vervang deur Thandi Modise ná verkeie skandes soos die Guptas se landing op die lugmagbasis Waterkloof, die gebruik van ʼn lugmagvliegtuig om ANC-lede na Harare te neem en die leemtes in die weermag wat duidelik geblyk het met die onrus in 2021.”

Groenewald wys daarop dat fluitjieblasers reeds in 2021 na vore gekom met bewerings dat Mapisa-Nqakula miljoene rande van weermagkontrakteurs ontvang het. Sy het dit egter deurlopend ontken.

Hy meen Modise het ook nie veel gedoen om sake te beredder nie, en sê dat sy geensins in haar pos kan aanbly “terwyl die departement onder haar beheer totaal in duie stort nie”.

“Onder Mapisa-Nqakula en nou Modise, is ʼn trotse weermag en wapenbedryf vernietig.

“Om te hoop dat die ANC iets daaraan sal of kan doen, sal waarskynlik beskaam. Die land se probleme kan nog net opgelos word deur so gou moontlik van die ANC by die stembus ontslae te raak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Delia ·

Tannies/mense wat nog nooit eers n soldaat was in die Weermag kan nie in beheer was daarvan nie. Minister moet mos van voetsool vlak af die Mag verstaan.

Mariana ·

Totale korrupsie en vergrype deur die kaders. Daar is niks wat onder die ANC staande gebly het nie, hulle moet hulle koppe in skaamte laat sak, maar helaas het hulle geen skaamte of trots. Tyd vir hulle om die leisels oor te gee aan mense wat weet hoe om als weer reg te ruk.

H.A. ·

Sal die anc asseblief die land verlaat as hulle die verkiesing verloor.

Hendrik ·

Sal iemand dit so dringend en duidelik onder die aandag van c r die sg president bring, want volgens sy toesprake weet hy absoluut niks hervan nie. Ek hoop die oposisiepartye vryf dit goed onder die neus van die anc. Baie werk le voor, die tyd raak min.!!!!!

Ian ·

Dit is tyd om hierdie korrupte amptenare finaal uit die kussings te lig en n gesonde party(e) aan bewind te stel. Komaan SA dit kan gedoen word binne die volgende paar maande.

Kokerboom ·

Daar is meer as genoeg geld beskikbaar in SA om vir elke mens ‘n huis te gee. Die absolute onbeheersde vemorsing getuig daarvan. Die ANC is ‘n gevaar vir voortbestaan van SA

Bevorder geregtigheid - Vrydenker Vlakvark ·

Die ANC-leierskap moet na Iran of Rusland verban word.

koos10 ·

Delia, jy is so reg. Pravin Gordan is ‘n apteker maar word losgelaat in finansies en staats ondernemigs. Ek wil iets onder korreksie sê: Amper geen minister in die goue hok van CR het enige opleiding en ondervinding van hulle poste nie. Minister van hoër onderwys is ‘n sielkundige. Die polisie minister het ‘n diploma in onderwys. Minister van gesondheid het ‘n graad in kunste. Die enigste een wat minister is en geleerd is in die veld van die post is die minister van basiese onderwys.

Anel ·

Hulle het hul oë op ons staatspensioenfonds!!! Hulle het klaar ander pesioenfondse so geplunder. Kyk maar Denel. Daardie mense het hul medies verloor en kry skaars pensioen. Iets wasrvoor hulle ook hil lewe lank gewerk het. Noi land hulle in staatshospitale en gaan gaan dood. Dit is wat met ‘n vriend gebeur het Vrydag. Dood agv mediesevnalatigheid. Ook hy het sy medies verloor agv hul plundering. Verband die lot uit die land!!!!

Jakes ·

Soveel onbekwame anties in beheer van departemente waarvan hulle niks weet nie. Die president stel hulle aan seker omdat hulle mooi is vir hom.

mattk ·

…. en so sit elkeen van hierdie kaders met ‘n Angorabok uitdrukking op hul gesigte….. eish!!! waarvan praat julle en ek weet van niks!!!!

JohanR ·

Weet die een eers watter kant van ‘n geweer die koeel uitkom?

Republikein in die Wes Kaap ·

Delia en Koos, dr. Rina Venter was ‘n puik minister van gesondheid in die 1980s, al was sy ‘n maatskaplike werker. Haar top bestuurders was egter briljante kundiges. Nico Diederiks was ‘n briljante minister van finansies in die 1970s, al was hy ‘n filosoof. Ook sy span was briljante kenners. Dis anders vandag.

Delia ·

@RepvdW. Verseker is jy reg. Onthou wel ook dat maatskaplike werkers deel is van n Gesondheidspan maw sy het verseker n groot deel van die Gesondheidssisteem verstaan.
Hoe kan n onderwyser gekwalifikasie jou bekwaam as Minister van Polisie as jy nooit eers n uniform aan jou lyf gehad het nie. Dieselfde geld vir die Weermag.

Yvonne ·

Dit wat die ANC regering aan RSA gedoen het is n skreiende skande voor God en Sy gebod

Republikein in die Wes Kaap ·

Delia, voor 1994 was dit maar dieselfde. Polisie en weermag ministers was nooit in die magte nie. Dink maar aan PW. Magnus Malan was die uitsondering.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.