NVG staan speaker se aansoek Maandag teen

Nosiviwe Mapisa-Nqakula (Foto: ZKostile/Parlement)

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die Nasionale Vergadering, se dringende aansoek waarin sy vra vir ʼn bevel wat haar inhegtenisneming verbied, sal Maandag in die Pretoriase hooggeregshof aangehoor word.

Die aansoek sal om 10:00 aangehoor word, sê adv. Mthunzi Mhaga, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

“Die NVG se ondersoekdirektoraat sal die aansoek teenstaan aangesien ons glo dat dit ongegrond en sonder meriete is,” sê Mhaga.

Die speaker gaan in die aansoek vra dat die hof die nasionale direkteur van openbare vervolging en die minister van polisie verbied om haar in hegtenis te neem.

Sy gaan ook die hof vra vir volle toegang tot alle wesenlike inligting wat met die saak verband hou. Dit sluit in die volledige dossier, sodat sy haar verdediging kan voorberei teen wat sy beskou as ongegronde bewerings teen haar.

Maroela Media het vroeër berig die speaker doen in die hofstukke ʼn beroep op die NVG om die besonderhede van die saak teen haar bloot te lê omdat dit oënskynlik reeds aan die media gegee is.

Daar word al dae lank bespiegel oor wanneer Mapisa-Nqakula in boeie geslaan gaan word nadat verdoemende bewerings van korrupsie teen haar geopper is.

Die speaker word daarvan beskuldig dat sy gedurende haar tyd as minister van verdediging en militêre veterane omkoopgeld van R2,3 miljoen in die vorm van sogenaamde geskenkpakkies van ʼn diensverskaffer van die weermag aanvaar het.

Sy ontken die bewerings en het vroeër aangedui dat sy haar volle samewerking in die ondersoek sal gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

domheks ·

Verhewe bo die wet? Toe nou nie!!! As jy skuldig is kry vir jou….

KB ·

Nou pleit sy verhewe bo die wet. Ai, die arrogansie darem…(geld/mag is ʼn euwel).

Ore ·

Sy sal ook soos Zuma net ‘n uur in die selle wees waarna haar borgtog verhoor sal plaasvind….en dan die begin die Zuma taktiek en sy sit heerlik by die huis en ons betaal haar salaris. Jammer dat ons ministers nie hulle Engelse eweknieë se voorbeeld vold deur te bedank indien daar ongeruimdhede plaasvind nie. Hier veg hulle tot die bittereinde toe

annie ·

… Was nogal ook die minister van verdediging. Toe al gewonder hoekom nogal sy. Ingewortel by die hogeres in die ANC. Cyril is ook te blameer vir haar vordering en hoë pos. Sy het niks om te wys nie en is pateties in haar hantering van situasies. Maar die ANC het sy planne en kaders. Sal sy ooit vervolg word? Wie was al?

Herman L ·

Ons is mos almal gelyk! Sommige is net meer gelyk as ander. Die verkiesing is om die draai, so ons sal nou sien hoe waar dit is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.