Miljoene rande se bates van korrupte Eskom-verskaffer gegryp

Een van die eiendomme wat by die beperkingsbevel ingesluit word. (Foto: NVG)

Die owerhede het ingevolge ʼn suksesvolle aansoek deur die batebeslagleggingseenheid beslag gelê op bates van meer as R11 miljoen van ʼn korrupte diensverskaffer van Eskom.

Die kurator wat die hof aangewys het, die balju, lede van die Valke en ondersoekers van die batebeslagleggingseenheid is vanoggend na verskeie woonadresse in Roodepoort, Cosmo City en Springs om die voorlopige beperkingsbevel wat vroeg verlede maand in die Johannesburgse hooggeregshof toegestaan is, uit te voer.

Die bates wat geraak word, sluit in vaste eiendom, asook 32 voertuie wat geregistreer is in die naam van Megra Transport CC. Onder die voertuie is verskeie peperduur swaar voertuie wat Megra gebruik het.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Gauteng, sê kort nadat die bevel toegestaan is, is nog drie landbouhoewes in Springs, wat verbind word met ʼn trust van Tshabalala, opgespoor. Die persele, ter waarde van sowat R1,8 miljoen, word nou ook by die beperkingsbevel ingesluit en die ondersoek duur voort om verdere bates te vind.

Die batebeslagleggingseenheid het aansoek gedoen om die beperkingsbevel nadat ʼn fluitjieblaser forensiese ondersoekers op die spoor van korrupte bedrywighede tussen ʼn sekere Eskom-werker en ʼn diensverskaffer – Megra Transport CC – geplaas het.

Die ondersoek het onthul dat Mosia Barnard Moraka, voorheen ʼn finansiële kontroleerder by Eskom, met Victor Vilosi Tshabalala, eienaar van Megra Transport CC, saamgespan het om Eskom te bedrieg.

Een van die 32 voertuie wat deur die beperkingsbevel geraak word. (Foto: NVG)

Megra het ʼn kontrak met Eskom gehad om steenkool by sekere myne af te lewer.

Moraka en Tshabalala het saamgewerk om fiktiewe fakture te skep vir ʼn roete wat nie ingevolge die ooreenkoms met Eskom gedek is nie. Moraka het die bedrieglike fakture dan by Eskom ingedien wat eindelik tot ʼn verlies van nagenoeg R35 miljoen vir die sukkelende kragvoorsiener gelei het.

Moraka en Tshabalala is in September vanjaar in die handelshof skuldig bevind aan bedrog van byna R35 miljoen nadat hulle skuldig gepleit het. Hulle word in Februarie volgende jaar gevonnis.

Mjonondwane sê die batebeslagleggingseenheid gaan ook voort met ʼn aansoek om te begin met ʼn beslagleggingsondersoek wat daarop gemik is om uiteindelik die gesteelde geld te herwin.

Adv. Ouma Rabaji-Rasethaba, hoof van die eenheid, het ook opnuut benadruk dat misdadigers nie toegelaat gaan word om die opbrengs van hul misdade te behou nie en dat daar beslag gelê sal word op eiendom wat uit die misdade gespruit het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Gert ·

. Nie net eindom uit misdaad nie hulle moet als vat wat aan die kriminele behoort en verkoop

Kokerboom ·

Sou voorstel dat hul ook vir ‘n onbep[aalde tyd geswartlys word..stroop hul van hul menslikheid

Casper ·

So daar gebeur tog iets al is dit hopeloos te min om die kragreus uit die verknorsing waarin hy hom bevind te red maar elke bietjie help.Nou wat van die diefstalle by Thuthuka,wanneer word daar op daai verdagtes se bates beslag gelê of moet hulle eers skuldig bevind word.R 100.000.000 se brandstof olie en toerusting is baie geld.

Opinie ·

Casper, dit was R100 000 000 se olie n maand, en hulle kan nie se vir hoe lank dit aangegaan het nie. Ons praat hier van miljuisende wat weg is.

Sobymykoolkop ·

Enige iemand wat glo dis net R35 miljoen glo ook seker in kersvader

Nie Verbaas ·

En daar gly Tshabalala & kie. Hy kon mos nou net nie tevrede wees met normale opbrengs nie. Easy come easy go.

JoHines ·

Net R12,8m terug gekry van R35m, ek sal ook daarvoor val. Goeie wins.

Catherina ·

Ons pensioenarisse sukkel om belasting te betaal. Ander gebruik ons belastinv en lewe in weelde

Elize ·

Wat word van alles waarop hulle beslag le, en wie kry uiteindelik die geld. Gaan dit terug eskom toe

Marius ·

Dan wil eskom nog die krag tariewe verhoog ook sodat die gebruiker vir al die diefstal en bedrog moet betaal.

Johanna ·

Glo my die Bate-Beslagleggings Eenheid los net n bed agter.
Sluit hulle toe vir tenminste 30 jaar.
Ek gaan hierdie saak dophou om te sien.of hulle behoorlike straf kry. Compare apples with apples..

Anthony ·

Nou toe – kan ons nie vir eens en vir altyd HARD probeer om saam korrupsie uit te roei nie. Begin by die ouens en probeer hulle +- “25000” sindikaat vriende ook te kry (sal waarskynlik by verskillende instanties / organisaties soos SAA , PRASA ens ens n draai maak). Als ten einde om krag verhogings te stop (en miskien te verminder in 2022). Wil nie eers noem hoeveel mense in RSA tans verniet krag het (terwyl die wat betaal eintlik vir almal moet betaal – hoe onregverdig ESKOM). Maak seker dat daar vir elke KW betaal word ! Kry almal op pre-paid !

madels ·

Ek hou aan bid dat ALLE korrupsie sal uitkom… Dankie hierdie een is ook in die lig

Gerhard ·

Soos hulle sè die wiel draai…Dalk baaaaiiieee stadig in SA maar hy draai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.