Miljoene se dwelms by Jeffreysbaai gekry

‘n Hond het die sak toevallig op die strand uitgesnuffel. (Foto: SA Polisie)

ʼn Hond wat saam met sy eienaars op ʼn strand by Jeffreysbaai in die Oos-Kaap gaan stap het, het ʼn besending kokaïen uitgesnuffel wat op die strand uitgespoel het.

Lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, sê die verbygangers het die polisie ontbied nadat hulle vermoed het die hond het ʼn dwelmvonds opgespoor.

Die polisie het beslag gelê op verskeie saamgeperste kokaïenblokke wat altesame 46 kg weeg en ʼn geraamde straatwaarde van R20 miljoen het. Dit is vermoedelik suiwer kokaïen.

Die dwelms was in ʼn dik, swart plastieksak toegedraai wat styf verseël is om te verhoed dat die inhoud nat word. ʼn Leë plastiekhouer is aan die sak vasgemaak om dit te laat dryf, sê Nkwalase.

Die items sal nou vir forensiese ontleding gestuur word en ʼn dossier is na die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad in Gqeberha (Port Elizabeth) verwys.

Geen inhegtenisnemings is tot dusver gedoen nie.

Enigiemand met inligting oor die voorval of wat moontlik op ʼn soortgelyke besending afgekom het, word gevra om die ondersoekbeampte, AO Pit van Zyl, by 082 065 9694 te bel.

Die sak bevat vermoedelik ‘n besending suiwer kokaïen. (Foto: SA Polisie)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

Seker vir die matriek “rave” in Plettenbergbaai bedoel. Dis so 2 ure se ry van Jeffreysbaai af. Ook maar goed die “rave” is gekanselleer. Darem 1 voordeel van lockdown en Corona

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.