Mini-begroting: Groei afwaarts aangepas, belastingkrisis dreig

Malusi Gigaba. Foto: Flickr/GovernmentZA

Malusi Gigaba, minister van finansies, het Woensdag sy eerste mediumtermyn-begrotingsraamwerk gelewer en ʼn donker prentjie geskets van wat vir die land voorlê.

Gigaba het aangekondig die belastingtekort gaan vanjaar R50,8 miljard beloop, die grootste afwaartse aanpassing sedert die resessie in 2009. Die geskatte tekort vir 2018 is R69,3 miljard en vir 2019 ʼn tekort van R89,4 miljard.

Gigaba het gesê die tyd vorentoe gaan nie maklik wees nie. “Ons is vasberade om op koers te bly en nie van die agenda vir fiskale konsolidasie waarmee ons ʼn paar jaar gelede begin het af te wyk nie.”

Die minister het gesê die gekonsolideerde begrotingstekort sal toeneem tot 4,3 % van die BBP in 2017/18, teenoor die 2017-begrotingsdoelwit van 3,1% van die BBP. “Oor die volgende drie jaar sal gekonsolideerde besteding met ʼn jaarlikse gemiddeld van 7,3% styg van R1,6 biljoen (trillion) in 2017/18 tot R1,9 biljoen (trillion) in 2020/21.

Gigaba het gesê die grootse uitdaging is steeds om ekonomiese groeivooruitsigte vir die periode vorentoe te verbeter. “Werkskepping en die stryd teen werkloosheid is ons dringendste prioriteit.” Volgens Gigaba strook die begroting met grondwetlike vereistes en is dit hoogs progressief. “Tweederdes van besteding gaan na die verwesenliking van maatskaplike regte soos vervat in die grondwet.”

Volgens Gigaba moes die ekonomiese groeivooruitsig afwaarts aangepas word van 1,3%, soos vervat in die begrotingsrede in Februarie, na 0,7% vir 2017. “Daar word verwag dat groei stadig sal toeneem tot 1,9% in 2020.” Ons voorspel groei van 1,1% in 2018 en 1,5% in 2019.

Gigaba het gesê die regering het in die nasionale ontwikkelingsplan ambisieuse dog haalbare teikens gestel om armoede, ongelykheid en werkloosheid te verlig. “Ons het gesê ons wil die ekonomie met 5,4% elke jaar laat groei en werkloosheid tot 6% verminder teen 2030. Die vlak van ekonomiese groei tussen 2010 en 2016 is egter teleurstellend in ag genome ons ambisies in die nasionale ontwikkelingsplan.”

Volgens Gigaba het die BBP per capita vir die tweede agtereenvolgende jaar afgeneem. “Miljoene Suid-Afrikaners leef in armoede, werkloosheid staan op 27,7%, die hoogste vlak sedert September 2003, en word die ergste gevoel onder ons jong mense. Rykdom is steeds hoogs gekonsentreerd met 95% van ons rykdom wat in die hande van 10% van die bevolking is.”

Gigaba het gesê direkte swart eienaarskap en bestuur van die ekonomie bly laag. Hy het gesê ʼn nuwe groei- en transformasiemodel word benodig. “’n Model wat geanker is in ʼn gemeenskaplike visie vir die ekonomie en sy samelewing. ʼn Model wat die deel van ekonomiese hulpbronne omhels sodat Suid-Afrika ekonomies aan almal behoort. Ons benodig ʼn transformasiemodel waarin daar nie net regmerkies gegee word vir nakoming nie, maar wat strukturele verandering van patrone van eienaarskap, beheer, bestuur en produksie nastreef.”

Gigaba het pres. Jacob Zuma se beroep vir radikale ekonomiese transformasie beaam en gesê dit moet die volgende fase van groei wees. Hy het toegegee dat sake- en verbruikersvertroue tans op ʼn historiese laagtepunte is en dat dit direkte negatiewe gevolge het vir belegging, werkskepping en huishoudelike besteding.

Gigaba het gesê daar het tydens interaksie met beleggers, internasionaal sowel as plaaslik, verskeie sleutelkwessies vorendag gekom rakende beperkinge en die redes vir lae vertroue. “Beleidsonsekerheid wat voortspruit uit uitstaande wetgewing in sleutelsektore; bestuursuitdagings en swak balansstate vir staatsbeheerde maatskappye; ʼn beperkte fiskale raamwerk en stygende staatskuld en politieke onsekerheid.” Volgens Gigaba kon die regering die afgelope paar maande daarin slaag om weer vertroue in te boesem.

Die minister het gesê die fiskale raamwerk word bedreig deur lae groei die afgelope jare in ʼn omgewing waar daar nuwe maatskaplike druk is. “Trae ekonomiese groei vanjaar het ʼn beduidende afname in die vooruitsig van belastinginkomste tot gevolg gehad wat die regering se fiskale posisie weggevreet het.”

Gigaba het nie veel oor kernkrag gesê nie, maar net herhaal wat Zuma tydens sy begrotingsrede in Mei gesê het. “Ons benadruk dat die kernkragprogram geïmplementeer sal word teen ʼn pas en skaal wat die land kan bekostig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Johanna Botha ·

Presies wat SA verdien ….JUNK STATUS ! En sit asb by …die crime is ook OP !

TAStrydom ·

Vergeet kernkrag. Kyk na die bevolking. Gebruik díe gel d om armes op te hef. Hulle het nie kernkrag nodig nie, net ‘n regering wat hulle kan ophef en hulle belange op die hart dra.
Dalk bang die Russe vra hulle omkoopgeld terug .

Vermeende ·

Kernkrag en radikale transvormasie wat groei teen 2019 sal bring?

Gigaba vertel eintlik vir ons dat volgende jaar nag gaan wees vir die blanke met transvormasie en dat Zuma nie van plan is om onder geen druk af testaan nie.

Dis nie goeie vooruitsigte nie en ook nie die klimaat wat jy nodig het vir groei nie.

Eish ·

Soos verwag kon word, n leë klomp woorde om n donker prentjie te skep en radikale ekonomiese transformasie vleuels te gee.
Hier kom die nuwe mynbouhandves ook in sy volle glorie met die omhelsing van ekonomiese hulp bronne sodat SA ekonomies aan almal kan behoort.
Née wat, ek gee op met die staatskapers.

Johannes van Staden ·

So nou is daar nog minder vir uitdeel en die wielle draai net stywer. Dankie anc dis nou julle goeie ou storie né ….hehe

Johannes van Staden ·

Jy weet as jy dom is dan leer jy netnie. Begin die regte goed se en dinge kan verander. Nou wil almal onntrek en geen beleggings maak maw geen werk word geskep. Maar nee ons leer die ons wil vat en uitdeel …wel daar is nuus en dit is dat daar niks oor is vir uitdeel nie.

JC ·

So wat die affere eintlik se is dat hulle ons eiendom en goedwilvat.
Hoe op aarde kan “strukturele veranderingevanpatronevaneienaarskap, vanbestuur, beheer enproduksie” ‘nagestreef’ ” word,indien daar nie die ambisie,vernuf,nodige BEHOORLIKE opleiding,bevoegdheid of wil is,om ditte doen (op ‘n stapsgewyse wyse) nie, wat nogte se van ‘n politieke wil, watsoos in die beste UITSONDERLIKE “Afrikaintellektuele tradisie” neerkom opniksanders as ‘n stemgejagery, gepaardgaande metopstokery en histories vals gedrewe haatlike propagada?(raai teen wie?) O ja, ek het vergeet, alles het mos nie in duie gestort nie,en tegniese en beroepskolleges floreer mos!Behoorlike dienste word gelewer, en die aanvraag na tegniese (en ander) vereistes word bevredig, hoe kon ek vergeet het, hoe dom van my…/s.
Die enigste manier om die oogmerke te bereik is om te roof, want werklik,vir die “regering” blyk dit die enigste alternatief te wees.
So, bv. Mnr hardwerkende Afrikanerboer A of besigheidsman A,se florerende besigheid moet onderdruk word,sy winste moet verdeel word,aannikkswerd “bydraers”,hy moet gedwing word om toe te gee aan Marxisties-sosiale vereistes-uiteindelik is daar geen meer toekoms vir hom, sy vrou en sy kinders nie- sy eiendom word gevat(watsejydaar? “die Howe”, die “Grondwet”-asseblief!!)
Dit is die realiteite, en dit is wat vir ons wag, in die interim verlaag belasting inkomsteen buitelandse geldenbeleggings, waar moet die geld vandaan kom om “maatskaplike regte”te delg?
Maklik: steel,geweld, onderdrukking/diskriminasie en wetteloosheid’n pragtige Marxistiese, en ondraaglike bestaan wag op ons almal hier, dis verby.

Cherokee ·

“Kernkrag sal geïmplimenteer word teen ‘n pas en skaal wat die land kan bekostig”.
As hy ernstig is, is dit sy manier om te sê dat kernkrag nie geïmplimenteer sal word nie.

Alida ·

Ek dink hy moet n ander bril kry want hy sien nie mooi nie en verstaan gladnie ekonomie nie. Shame

Apache ·

Dis alles verby, die vlam van trots, liefde en respek het vir altyd gedoof en die land sit so ver in die staatsskuld gedompel dat dit n onbegonne taak is om ooit weer daar uit te kom.
Daar staan ons almal baie baie groot probleme te wagte in die komende jare wat volg.

Argus ·

Soos Maggie Thatcher destyds uitgewys het, sosialisme is goed en wel “till you run out of other people’s money.”

James ·

Hulle transformasies was die oorsaak van die huidige swak ekonomie. Nou wil hulle nog meer van dieselfde transformasies doen. Hou op om geld in bodemlose putte in te stort, hou op met korrupsie en hou op om blankes en besighede te reguleer. Die ekonomie sal self weer sy ewewig vind. Al wat die regering regkry is om te bewys dat hulle nie kan regeer nie.

Allan ·

Wil net weet of paragraaf 4 reg is, Biljoen en (trillion) is nie dieselfde nie. Biljoen (Miljard het 9 nulle en ‘n Triljoen het 12 nulle. [Biljoen = Miljard]. Ek dink dit moet miljard wees. In elke geval die volgende is interesante syfers:

Volgens http://www.nationaldebtclocks.org/debtclock/southafrica is Suid Africa se skuld R2 Triljoen. Verskriklik

Die rente per jaar aleen (sonder kapitale delging) beloop R111 miljard – ongelooflik

Skuld op die BBP (GDP) is al 51.7% maw 51.7% van die land se Totale Jaarlikse Inkomste

In 2010 toe Zuma oorgeneem het was die skuld R1.34T (op direkte korrelasie geneem) maw Zuma het in sy termyn die skuld opgejaag met R660,000,000,000 (R660Miljard) of anders gestel met amper R100miljard per jaar.

Wat kan ons sê van ‘n Bokwagter se vermoëns?

Sune van Heerden ·

Dagsê Allan

Dankie vir jou navraag.
Dit moet inderdaad “biljoen” (trillion) wees.
Die bronteks lui soos volg: “Over the next three years, consolidated spending will increase by an annual average of 7.3 percent, from R1.6 trillion in 2017/18 to R1.9 trillion in 2020/21.” Sien gerus die volledige toespraak (in Engels) hier: http://www.treasury.gov.za/documents/MTBPS/2017/speech/speech.pdf

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.