Minister aan boere: ‘Ek het geluister en ek het gehoor’

Minister Thoko Didiza. (Foto: GCIS)

“Ek het geluister na wat julle gesê het, en ek het gehoor hoe julle bereid is om in moeilike omstandighede betrokke te raak (by grondhervorming). Ons sal saamwerk,” het Thoko Didiza, minister van landbou, Donderdagaand by Landbouweekblad se grondberaad gesê.

Sy het honderde boere van reg oor die land toegespreek nadat sy die hele dag geluister het na verhale oor suksesvolle grondhervormingsprogramme wat grootliks sonder die staat se hulp deur boere en plaaswerkers geïmplimenteer word.

Didiza het die heeldag op die taamlik afgeleë vergaderplek in die Koue Bokkeveld tussen Ceres en Citrusdal aangebly en ook in die ete- en teepouses individueel met boere en plaaswerkers gesels oor hul belewenis van grondhervorming.

In voorlegging na voorlegging was die boodskap duidelik: dit moet eerstens ʼn hartsaak wees – boere en werkers moet mede-eienaars word omdat albei meen dis moreel die regte ding wat hulle gaan maak werk ten spyte van terugslae – anders gaan die uitdaging om dit te maak werk, te groot wees.

Die tweede belangrike les van die dag het gekom van plaaswerkers – dat dit vir baie plaaswerkers moeilik is, soos verskeie dit ruiterlik erken het – om die kopskuif te maak van werker na vennoot en mede-eienaar.

Die derde les van die dag was dat enige ooreenkoms tussen boer en bemagtigde plaaswerkers maar moet plaasvind sonder om staatshulp te verwag, hetsy van die departement van landbou, die Landbank of enige vorm van owerheid, behalwe sommige munisipaliteite, wat bereid is om meentgrond in munisipale besit uit te verhuur.

Keer op keer het boere en hul bemagtigde werkersvennote met vers en kapittel aangetoon hoe hulle by die staat om hulp aangeklop het net om deur onwillige en dikwels korrupte amptenare gesaboteer te word.

Die vierde les van die dag was deursettingsvermoë. Elke deelnemer op die podium het getuig wat ʼn  taai proses selfgedrewe grondhervorming is, en hoe terugslae – finansieel, in wantroue-gewortelde magsverhoudinge, weens droogte- of ander natuurkwessies, of deur onbeholpe owerheidsamptenare – volharding, volwassenheid en die oorkoming van selfgenoegsaamheid by alle betrokkenes verg.

Verskeie boere en bemagtigde plaaswerkers het getuig dat dit hul geloof is wat hulle laat moed hou het.

Die vyfde les was dat dit baie help as daar ʼn organisasie is wat kundige hulp kan verskaf en veral wat druk op owerheidsamptenare kan volhou sodat projekte nie deur amptelike rondslomp versmoor word nie. Die PALS-inisiatief van die Witzenberg-gemeenskap is as voorbeeld uitgelig.

Die sesde les was dat alles wetlik, amptelik en skriftelik moet geskied – daar kan nie net op aanvanklike wedersydse welwillendheid tussen boer en bemagtigde werker gesteun word nie. Hiervoor is prokureurs met bewese suksesvolle spesialiservaring nodig.

Toe sy uiteindelik aan die einde van ʼn daglange program vol getuienis aan die beurt kom vir haar toespraak, het Didiza gesê: “Dit is duidelik daar is uitdagings, maar uit jul verhale weet ‘n mens alle uitdagings kan oorkom word. Verhale soos julle s’n wys daar is ʼn nuwe manier van doen wat ons as Suid-Afrikaners byeen kan bring.”

Sy het uitgewys dat pres. Cyril Ramaphosa self boer en die landbou se probleme verstaan, wat die rede is vir sy klem op die landbou se rol om die ekonomiese trajek tot groei om te draai.

Sy het kennelik deeglik kennis geneem van die kritiek op haar departement en het gesê die duisternis reëls waaraan staatsdepartemente en staatsamptenare onderworpe is kan soms samewerking moeilik maak.

Sy het gevra dat boere die regering help planne beraam, en die boere verseker dat die regering saam met hulle bekommerd is oor die droogte, wat reeds tot verskeie selfmoorde gelei het.

Didiza het ʼn sterk pleidooi teen plaasaanvalle op boere en hul gesinne asook plaaswerkers gelewer, en is aan die einde van haar toespraak staande toegejuig deur honderde boere.

In sy bedanking aan Didiza het Landbouweekblad se redakteur, Chris Burgess, gesê hy hoop hy weet watter hoop haar boodskap aan boere gaan bring. Hy het haar ook bedank dat sy as minister die hele dag na boere gesit en luister het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

34 Kommentare

jongste oudste gewildste
Peanut

Ja, CR boer self, maar gaan kyk wie is sy bestuurders op sy plase, beslis nie oorgepigmenteerd nie.

wilma

Ons almal luister en ons hoor, maar wat word daaromtrent gedoen?

Bek en klou en niks binnegoed nie

Hierdie beraad was n watergat en bedel sessie, Landbouweekblad probeer ook punte verdien net soos al die ander landbou organisasies en politieke partye. Dit alles vir hul eie voortbestaan Want waar is landbouweekblad sonder boere wat kan boer. JohnDeere, Toyota, kunsmis, saad mpye en baie dorpe vou oornag sonder die boer. Standard bank en ABSA kan regmaak vir groot aantal plase verniet. Die staat kan duisende plase uitdeel, sonder reën is dit nutteloos. Die minister moet dalk luister en mooi hoor, reën kom van n ander plek as wat mense kan voorsien. Daar is egter geen illusie by my nie.… Lees meer »

JV

Sy het geluister en gehoor, maar dit is net waar dit gaan bly. Verder het Ramaphosa plase maar hy het bestuurders wat vir hom boer. Volgens hom is daar geen plaas aanvalle.

jaco

wat van die Cyril model vir grondhervorming? onteien ALLE wit grond, dra eienaarskap van daardie plase oor na groepe mense wat grond wil hê en stel wit boere aan om daardie plase te bestuur. ontneem terselfdertyd daardie boere se stemreg. dan het hulle darem werk, maar hulle is dan nie meer n sogenaamde politieke bedreiging nie. die werk wat hulle doen verseker hulle van n salaris en dit verseker die eienaars van daardie plase, wat nie eens almal noodwendig daar hoef te bly nie, ook van inkomste.