Minister: ‘Dis hoekom jy so lank wag by binnelandse sake’

Minister Aaron Motsoaledi. Foto: GCIS/Flickr

Een van die hoofredes waarom mense in sulke lang rye wag by sommige kantore van die departement van binnelandse sake is weens die entrepreneurskap van arm en werklose Suid-Afrikaners.

Só het die minister van binnelandse sake, dr. Aaron Motsoaledi, in die parlement gesê.

Motsoaledi en topamptenare van sy departement het tydens die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake se jaarlikse begrotingsoorsig verskeie probleme wat die departement in die gesig staar, getakel.

Een daarvan was die lang rye waarin mense moet staan by sommige kantore van die departement, al kom jy ook hoe vroeg daar aan.

Die minister het vertel dat hawelose en werklose mense reeds voor sonop begin tou staan by sommige van die departement se kantore – nie sodat hulle die departement se dienste kan gebruik nie, maar sodat hulle hul plek in die ry kan verkoop aan lede van die publiek.

Motsoaledi het uitgewys dat die tragiek van die situasie alkant erg is – die desperaatheid van die armes om ure lank in ʼn ry te staan net om ʼn geldjie te kan maak én die desperaatheid van werkende mense om die verspeelde wagtyd tog net ʼn bietjie minder te maak.

Argieffoto

Motsoaledi het ook uitgevaar teen die departement van openbare werke en infrastruktuur – die departement onder die ministerskap van Patricia de Lille. Hy sê hy kla al jare lank oor daardie departement, en nou het hulle onlangs geweldige ongerief vir die algemene bevolking veroorsaak.

Volgens Motsoaledi het die departement ʼn gebou in Pretoria wat wesenlik die senu-kern van die departement is – alle versoeke vir paspoorte, ID’s, geboorte- en doodsertifikate moet uiteindelik daardeur gaan, waar dit ook al in die land ingedien word.

Onlangs is die elektrisiteit na die gebou twee dae lank deur die Tshwane-metroraad afgesny omdat die departement van openbare werke en infrastruktuur nie saamgestem het met ʼn eklektrisiteitsrekening van R36 miljoen wat die metroraad uitgestuur het nie, en dit dus nie betaal het nie.

Gevolglik is die elektrisiteit na die gebou 48 uur lank deur die metroraad afgesny, wat beteken het die departement van binnelandse sake het eintlik twee dae lank landwyd by 412 kantore tot stilstand geknars.

Die minister het uitgewys dat, as dit die departement van binnelandse sake se besluit was, hy opdrag sou gegee het dat die rekening eers betaal moet word en dat ʼn dispuut daarna met die metroraad verklaar kon word om die geld te verhaal as die rekening foutief sou blyk te wees. Vir R36 miljoen was dit nie die moeite werd om ʼn landwye onderbreking te veroorsaak nie, aldus Motsoaledi.

Hy en ʼn paar ander ministers het dus nou vir pres. Cyril Ramaphosa gevra dat hul departemente beheer mag oorneem oor die geboue wat hulle gebruik eerder as om huurgeld wat hulle nooit weer gaan sien nie – in die geval van die departement van binnelandse sake ʼn hele R300 miljoen per jaar – oor te betaal aan die departement van openbare werke en infrastruktuur.

Die departement het ook onthul dat hulle wil oorslaan na ʼn sewedag-werkweek omdat werkende mense nie kans het om in die week tou te staan nie en dus eerder oor die naweek hul verpligtinge by binnelandse sake wil afhandel.

Die departement stel dus ʼn fleksieweek voor waar werknemers hul naweke op verskillende tye van die week kan neem, en kantore elke dag oop kan wees om aan te pas by veranderde ekonomiese en beroepswerklikhede.

Die vakbonde byt nog nie daaraan nie, maar onderhandelings duur voort, het departementele amptenare aangedui.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Marietjie Blignaut ·

Stel net bevoegde en persone wat trots is op hul werk aan. Persone wat lus het om te werk. Verbied selfone in elke kantoor en dit sal nie nodig wees om naweke oop te wees nie.

Sanna ·

Ek het iewers ‘n foto van Kaapstad se Binnelandse kantoor waar al die werkers op hul Blackberries besig was (dis ‘n ou foto), en ons het ses ure lank gewag in die ry.

B ·

Die minister verwar die konsepte oorsaak en gevolg. (Maw die oorsaak is onbekwaamheid / die gevolg is wat gebeur soos bo verduidelik)

Heksie ·

Die Binnelandse sake kantoor in Benoni is in ‘n erge toestand van verval, die personeel probeer hul bes en ek het nog net goeie diens daar gekry maar ek kry hul jammer om in sulke omstandighede te moet werk.

Ant ·

Ek stem Heksie, ek het my suen se ID daar gaan doen,. Haaglik gewees, maar die mense was hulpvaardig en vriendelik

Gert van Wierdapark ·

Die agbare mini-ster vertel sommer so uit die vuis uit vroee April-grappies! Nogal heel gepas in die Groot Tent daar onder! Indien amp-te-narre dalk 7 dae n week op kantoor sou wees, gaan daar sekerlik nog minder “gewerk” word, weens “oorlading”. Goeie gesonde bestuurstelsels saam met n werks-etiek asook n wil om n diens te lewer, is die enigste “medisyne”wat die mini-Ster moet toedien. Twak praat en vingers wys na ander departemente help niks om die helse probleem die hoof te bied nie!!!

Nici ·

Vandag saam met my dogter in Bloemfontein om vir haar ID aansoek te doen. Was 5 ure daar net om toe kennis te ontvang die sisteem is af.
Moet nou maar weer van voor af probeer.

AndrewL ·

Huurgeld teen R300 miljoen per jaar! Acelik, wie keur die permanente huur goed?

Maljan ·

Wel liewe minister self met die werkloses en haweloses wat toustaan net om hulle plek in die tou te verkoop, maak dit nie op vir die lang wagtyd nie. Die persoon agter die toonbank tik met een vinger en moet elke letter soek en loop kort kort na n ander venster om te gaan gesels. Dit is maar van die redes vir die lang toue en wagtyd.

Ja swaer ·

Hy raak dieselfde tipe snert kwyt soos toe hy hoofnar van dept (on)gesondheid was

Dries du Toit ·

Entrepeneurskap my gai.Dis uitbuiting en skelmgeid.En ja,n minister wat sulke sotlike idioties onsin smous.Red ons asb

Andre ·

Beste binnelandse sake is by ver is in Edenvale. Die wat aan beheer is daar, julle praat nie julle doen. Ander kan by julle leer.

Caroline ·

Net so hier in Ellisras…….. Ons binnelandse sake gee uitstekende diens. Ten minste 1 departement wat puik funksioneer!

Caroline ·

Hier in Ellisras gee Binnelandse sake net sulke puik diens. Ten minste 1 departement wat uitstekend funksioneer……..

Wiki ·

‘n 7-dag werk week gaan nie probleem oplos nie. As jy voor 2000 gebore is, moet jou inligting in argiewe gesoek gaan word! Verbeel jou! ‘n 6 weke proses word ‘n 20 weke proses… Dit gaan ook nie die onbeskofte persoonlikehede se optrede teenoor kliënte oplos nie. Ek het in my lewe nog nooit sulke onbeskofte mense gesien soos by die Centurion tak nie. En boonop, is die kantoorhoof nooooooit beskikbaar nie….. haar selfoonnommer wat op die nationale webtuiste is, lui tot in ewigheid! Nee, stuur eerder die werkers vir ‘n kursus vir basiese maniere, hoe om met die publike te werk, hoe om tyd te bestuur en hoe om hulle werk te doen. En die sogenaamde entrepeneurs… jaag hulle weg… hulle is net ‘n irritasie.

Johan Kruger ·

Nou ja, sit ek nou hierdie berig en lees. Kom nou net van Centurion BS af. Tou gestaan vanaf 08:30. Wou ‘n vriendin se huweliksertifikaat gaan afhaal. Haar man is oorlede en die pensioenfonds kort die sertifikaat om die kwessie af te handel. Intussen kry sy geen pensioen nie.

Sy kan nie behoorlik loop of staan of sit nie weens heupvervangings. Aansoek gedoen op 23 Julie, aangesê dat dit ongeveer ses weke sal duur. Intussen ‘n ziljoen telefoonoproepe, eposse. Niks, geen reaksie, geen erkenning.

Vandag sê die beampte dit neem drie tot nege maande. Buite by die motor gekom, onder die reënveër , ‘n lekker boete. Daar is geen parkering vir BS klante nie.

Intussen sit die vriendin sonder inkomste.

As senior burger wat die imploffing van ons land die afgelope 25jaar beleef is geen onbevoegdheid en korrupsie meer verbasend of verrassend nie. My kinders se koppe staan almal buiteland toe. Dis vir my reg so. Maar ek, ek sal maar agterbly en help om die ligte finaal af te skakel. Ai!

koos ·

Wonderlik hoe ons minsters blaam kan verskuif! En die ou was minister van gesondheid!

Andre ·

Hulle wil maar net nie erken dat die foute by hulle is nie.

Alex ·

Daar is geen vernuwing in die manier waarop binnelandse sake besigheid doen nie. hulle sisteme is permanent af, geen opgradering word aan geboue gedoen nie (al was daar groot beloftes van soos bv Randburg). Die persele is pateties, vervalle en kan nie lang toue mense akkommodeer nie.
Die aanlyn aansoeke kan ook opgradeer word, Vra ook die poskantoor om uit te help met uitreiking van ID dokumente ens. Hulle sit en doen nie veel nie. Hier is ‘n idee, kry mobiele eenhede wat straat op en af ry en mense vra wat hulle nodig het, ID/paspoorte/etc en doen dit “on the spot”= die tegnologie is daar gebruik dit.

Anoniem ·

As die staatsamptenare produktief is, sal dit nie nodig wees om vir ure en ure in rye te staan nie, en sal dit makliker wees om ‘n uur of twee by die werk af te neem om bv jou ID of bestuurlisensie te hernu. Werksure oor naweke gaan die staat se salarisrekening opjaag – iets wat Suid-Afrika nie kan bekostig nie.

Eenvoudige raad aan die agbare minster: maak die probleem by die WORTEL reg, moenie ‘n pleister op ‘n gebreekte been plak nie.

Hansmyt.eeiskoud ·

Dis BLINDELANDSE SLAKKE! Deel van SAMESWERING EN ONTWRIGTING!

Sandy ·

Lyk my al wie hulle blameer vir die lang rye en gewag is almal behalwe hulself. As die werkloses in die rye staan en die plek dan aan iemand anders verkoop word, kan ek nie sien hoe dit enige verskil maak nie. As hulle, ipv om te bedel, ‘n werkie geskep het, laat hulle dit dan toe. Watse probleem veroorsaak dit dan nou. Ek stem saam oor die selfone wat hulle aandag aftrek. Moet nie toegelaat word nie.

Johanna Botha ·

Nee is onbekwaamheid en more is nog n dag uitkyk ! Lui en arrogante spul wat niks weet nie !

LK ·

Kyk moet net nie bel nie, want dan weet jy minder as voor jy gebel het. Onbevoeg vir die take.

Nita ·

Verlede week was ek by Akasia vir my paspoort en ID. 5 ure, waarvan ons 4 ure buite in die ry moes staan. Ek was baie vroeg die oggend al daar. Binne moes ons na 5 verskillende stasies toe gaan. Elke keer moet jy wag. (gelukkig kon ons darem sit). Die personeel was onvriendelik en party het “bubble gum” gekou. Dit was ‘n baie onaangename ondervinding.

hercu ·

die ANC is van blammeer aanmekaar gesit – hou op om ander te blammeer en stel die saak reg of is julle almal ruggraatloos?

“Slegs wanneer politieke leiers reg regeer, gaan dit in ’n land voorspoedig. Hoë belasting kan ’n volk knak. ’n Slegte mens se verkeerde dade is soos ’n gat waarin hy self val. ’n Gelowige is ’n gelukkige mens. Hy sing van vreugde. Dom mense sweep maklik ’n groep op. Wyse mense weet hoe om die woede te laat bedaar. As die land se president oneerlik is, is die staatsdiens kort voor lank korrup. Wanneer slegte mense regeer, heers wanorde en korrupsie. Gelowiges weet dat so ’n regering tot ’n val sal kom” – Spreuke 29:4‭ DB

“Slegs wanneer politieke leiers reg regeer, gaan dit in ’n land voorspoedig. Hoë belasting kan ’n volk knak. ’n Slegte mens se verkeerde dade is soos ’n gat waarin hy self val. ’n Gelowige is ’n gelukkige mens. Hy sing van vreugde. Dom mense sweep maklik ’n groep op. Wyse mense weet hoe om die woede te laat bedaar. As die land se president oneerlik is, is die staatsdiens kort voor lank korrup. Wanneer slegte mense regeer, heers wanorde en korrupsie. Gelowiges weet dat so ’n regering tot ’n val sal kom” – Spreuke 29:4‭ DB

Adam ·

Die Dept is tot beter in staat en in sommige gevalle kry hulle dit ook reg. Toe ek my paspoort hernu het is ek meegedeel dat elk10 werksdae moet wag op ontvangs daarvan wat aanvaarbaar is. Ek was slegs 40 minute binne die kantore van Binnelandse Sake en het al op dag 5 my sms gekry om my te versoek om my paspoort te kom afhaal. Dit beteken eenvoudig dat dit orals kan gebeur indien die kantore reg bestuur word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.