Minister gevra om vals nuus oor formulemelk terug te trek

(Foto: Unsplash)

Die Solidariteit Maatskaplikewerkersgilde en Solidariteit Helpende Hand het Dinsdag in ʼn brief aan die waarnemende minister van gesondheid, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, geëis dat haar departement hul uitlatings dat die verspreiding van formulemelk vir babas onwettig is, moet terugtrek. Dit volg nadat die departement se woordvoerder verlede week aangekondig het dat alle skenkings en verspreiding van formulemelk deur die departement se provinsiale kantore gefasiliteer moet word.

Maroela Media het vroeër berig onrus in veral KwaZulu-Natal het gelei tot ʼn ernstige tekort aan formulemelk in sekere gebiede, maar die departement van gesondheid het gewaarsku dat oproepe vir die skenking en verspreiding van formulemelk vir babas “onwettig” is. Popo Maja, woordvoerder van die departement het gesê die regering het regulatoriese raamwerke vir die bestuur van kommersiële formule vir babas. “Dit word dus aanbeveel dat skenkings vir formulemelk deur die provinsiale gesondheidsdepartement gedoen word.”

Volgens hom sal die provinsiale departemente die ontvang van geskenkte formulemelk fasiliteer om te verseker daar word aan bepalings voldoen. Skenkers sal dan na die regte amptenare op distriksvlak verwys word. “Dit is ʼn tydelike maatreël om die uitdaging te bowe te kom en sal mettertyd hersien word terwyl die situasie weer na normaal terugkeer.”

Die departement het mense ook gemaan om nie resepte vir sogenaamde tuisgemaakte formulemelk te gebruik nie, omdat dit skadelik vir babas kan wees. “Die tuisgemaakte resepte kan moontlik nie genoeg of dalk te veel van sommige voedingstowwe bevat nie en veroorsaak dat babas siek word en diarree kry,” het Maja bygevoeg.

Marisa Engelbrecht, sektorhoof van die Maatskaplikewerkersgilde by Solidariteit, het Dinsdag gesê dit is duidelik dat die minister en die departement van gesondheid geen benul het hoe om hul eie wette te interpreteer nie.

“In die wet word daar geen melding gemaak dat skenkings en die verspreiding van formulemelk in noodsituasies onwettig is nie. Net soos met die verspreiding van kos in 2020, is hierdie niks anders as ʼn poging om weereens ʼn noodgedwonge proses te sentraliseer en beheer nie. Daar is genoeg geregistreerde kundiges wat reeds strukture in plek het wat by kosverspreiding aan behoeftiges betrokke is. Die regering moet hierdie instansies en hul werknemers eerder toelaat om hul werk te doen sodat so veel moontlik babas gehelp kan word eerder as om te wil inmeng in ʼn reeds werkende proses,” het sy bygevoeg.

Volgens die Maatskaplikewerkersgilde en Solidariteit Helpende Hand is dit onmenslik om die proses om formulemelk te versprei, te wil beheer deur dit te sentraliseer. Die instansies voer aan dat ʼn oorhandiging aan die departement van gesondheid katastrofiese gevolge vir babas sal inhou aangesien die departement nie bewese strukture in plek het om die verspreiding van formulemelk doeltreffend te kan hanteer nie.

Solidariteit Helpende Hand het reeds volledige assesseringsprosesse daargestel om sodoende te verseker dat formulemelk wettig en effektief versprei kan word.

“Die staat kan nie waarborg dat hy die verspreiding, veral in die noodsituasie waarbinne die land hom tans bevind, effektief kan behartig nie. Intussen word weerlose babas en desperate ouers oorgelaat aan hul lot. Ons kan doodeenvoudig nie toelaat dat die staat hier toetree en mense mislei met wetgewing wat nie bestaan nie en so ʼn baba van sy voeding ontneem nie,” voer Engelbrecht aan.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê sy organisasie is ook ten gunste van borsvoeding en verantwoordelike babavoeding, maar neem standpunt in teen die sentralisering van formulemelk vir babas. “Tydens Mei 2020 het Solidariteit Helpende Hand ook met sy regspan oorleg gepleeg weens die vereistes van staatsinstellings wat weens Covid-19-regulasies kosverspreiding wou sentraliseer en beheer. In hierdie geval staan ons organisasie weer by die oortuiging dat gemagtigde instansies toegelaat moet word om formulemelk vir babas vinnig en doeltreffend te versprei soos die nood vereis.”

Noëth voer verder aan dat enige iemand wat Helpende Hand verhinder om noodlenigingsaktiwiteite uit te voer, teenstrydig met die wet optree.

“Helpende Hand is bewus daarvan dat daar regulasies en veiligheidsmaatreëls moet wees en toegepas moet word wanneer dit kom by die verspreiding van nie net formulemelk nie, maar enige kos. Dit mag egter nie op magsmisbruik neerkom nie. Daar kan nie aan nieregeringsorganisasies voorgeskryf word oor hoe en waar kos versprei moet word nie.”

Solidariteit Helpende Hand bevestig weer en beklemtoon dat geregistreerde organisasies toegelaat moet word om ongehinderd noodaktiwiteite te verrig, en dring daarop aan dat die verskillende staatsinstellings ter sprake duidelikheid oor hierdie vereistes moet verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Pieter ·

So gaan dit as jy niks tussen jou ore het nie net n lee dop.

Yvonne ·

Kundigheid is die regering so grootste probleem…..hulle dink nie so nie

Strandloper ·

Want hul kan nie dink nie…moet n westerse tegniek wees?

Jdb ·

Hierdie regeringspoging gaan oor een ding: om die verspreiding van formulemelk en kos te kanaliseer na dieselfde mense wat altyd begunstigdes van staatshulp en toelaes is, en weg van ander gemeenskappe en bevolkingsgroepe wat deur die plundery geraak is.

Sonia ·

voeg daarby dis ook ‘n verkiesingsfoefie om stemme te werf

Chris ·

Mensig, die vermetelheid van “sogenaamde” BBMe om die gewillige donateurs voor te skryf is nou die “cherrie opi koek”. As ‘n baba melk nodig het, sonder allergieë, hoekom moet dit deur ‘n staatsorganisasie gaan…. O wag, moontlik word daar gedink om dit te verkoop…. extra inkomste.

Tanniepetoors ·

ANC wil als doen, maar kan niks reg doen nie. Feit.

LeanetteS ·

Wat n klomp snert!!!!! Mmamoloko Kubayi-Ngubane, as ek of ander mense of instansies uit die goedheid van ons harte formulemelk wil skenk aan honger babas, sal jy ons nie keer! Jy is volwasse groot, uitgevreete mens en gun babas niks??? Gmmmf!

Bushy ·

Solidariteit, dagvaar hulle, briewe en mooi praat is van geen waarde. Slegs optrede deur hulle tot verantwoording te roep vir hul Dade kan soortgelyke voorvalle voorkom in die toekoms. Daarsonder mors julle net julle tyd.

Hellsbells ·

Die woordvoerder, Mnr Popo Maja… die Naam sê baie! LOL

Janine ·

Die arrogansie….. JULLE besluit wie mag hulp kry? Skande! Julle kan net mooi niks in stand hou of beheer nie. Wat ‘n grap!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.