Minister van gesondheid beantwoord minste vrae

Zweli Mkhize, minister van gesondheid. (Foto: GCIS)

Die nasionale minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, is die laksste as dit kom by sy pligte om parlementêre vrae te beantwoord, het die DA se navorsing getoon.

Mkhize, wat ook geen trotse rekord in dié verband gehad het toe hy minister van samewerkende regering en tradisionele sake was nie, het luidens die DA se jaarlikse rapporteringskaart net 43% van die parlementêre vrae wat vanjaar aan hom gestel is, beantwoord.

Parlementêre vrae is ʼn uiters belangrike manier vir opposisiepartye om hul oorsigtaak uit te voer, want vir ministers om misleidende of onwaar antwoorde te verskaf, is ʼn oortreding van die wet.

Ministers is ook veronderstel om alle antwoorde binne tien dae nadat dit gevra is te verskaf, maar die afdwing van dissipline in daardie verband berus by adj.pres. David Mabuza as hoof van regeringsake. Hý handhaaf slap dissipline.

Bheki Cele, minister van polisie. (Foto: ParliamentofRSA)

Hoewel sommige ministers soos die minister van polisie, genl. Bheki Cele, volledig hul kant bring en antwoorde betyds sowel as korrek verskaf, is ander ministers byna so laks soos Mkhize.

Die tweede swakste met die beantwoording van parlementêre oorsigvrae is Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, met 45%.

Hy word gevolg deur Thulas Nxesi, minister van arbeid en indiensneming, met 48%.

Dan volg Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings met 50%, Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, ook met 50%, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, met 54% en Thoko Didiza, minister van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming, met 59%.

Van vanjaar se parlementêre oorsigvrae is 70% deur die DA gevra, 16,4% deur die EFF, 7,8% deur die IVP, 4,3% deur die VF Plus, 1,2% deur ander opposisiepartye en 0,3% deur die ANC.

Dr. Leon Schreiber.

Vir die DA is sy grootste parlementêre suksesse behaal deur dr. Leon Schreiber, danksy dié se ontmaskering van wanbestuur en oorbetaling in die staatsdiens, die DA-LP Siviwe Gwarube se stryd teen die nasionale gesondheidsversekering (NGV), asook die party se daarstelling van ʼn volledige alternatief op die ANC-regering se nasionale begroting.

Die DA-leier, John Steenhuisen, het onderneem dat die party sal voortgaan met sy stryd teen onteiening sonder vergoeding, sy stryd teen die NGV, sy veldtog om die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, uit haar pos te laat verwyder, om ʼn beter begroting daar te stel en goedkoper, betroubaarder elektrisiteit te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cherokee ·

Nou wat nou (skreeu jy uit).
Laat dit oor aan die lokale kommentators wat, as hulle nie vir Hofmeyr stem as president nie, dan is dit Gordhan. Hy word in selfs hierdie forums opgehemel as diè politikus van die politici. Toe hy opsmêsh met die lugdiens, was hulle stil. Gee hulle ‘n regverdige kans nou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.