Minstens 11 sterf oor langnaweek op Limpopo-paaie

Duisende mense het die afgelope naweek na Limpopo gestroom. (Foto: Dept. van vervoer en gemeenskapsveiligheid: Limpopo)

Minstens 11 mense is tydens die pas afgelope langnaweek op paaie in Limpopo dood nadat duisende mense tussen die noordelike provinsie en veral Gauteng gependel het.

Matome Taueatsoala, woordvoerder van die departement van vervoer in Limpopo, sê verskeie motoriste is ook ernstig beseer.

Onder die noodlottige ongelukke was een op die R518 naby die Masodi-nedersetting in die Waterberg-omgewing waarin twee mense omgekom het. Een van die bakkies was glo besig om ander voertuie verby te steek toe hy die aankomende bakkie getref het. Die bestuurder en passasier in dié voertuig het op die toneel gesterf.

In nog ʼn voorval, in die Capricorn-omgewing, het nog twee mense onherkenbaar verkool toe die bestuurder van ʼn minibus beheer oor die voertuig verloor het, dit omgeslaan en aan die brand geraak het.

Volgens die departement is spoed en roekelose bestuur genoem as moontlike oorsake van al die noodlottige ongelukke wat oor die naweek aangemeld is.

Die LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid in die provinsie, Mavhungu Lerule-Ramakhanya, het die duisende motoriste geloof wat wel by die verkeersreëls gehou het. Die provinsie se paaie was uiters besig, veral weens migrantewerkers wat die langnaweek gebruik het om na die provinsie te reis om familie te besoek, asook toeriste wat die provinsie besoek het.

Een van die talle ongelukke wat op paaie in Limpopo aangemeld is. (Foto: Dept. van vervoer en gemeenskapsveiligheid: Limpopo)

Lerule-Ramakhanya was egter steeds bekommerd oor sommige motoriste wat steeds oproepe verontagsaam het om spoed te verminder en geduldig op die paaie te wees sodat die slagting verminder kon word.

Die provinsie het ʼn teiken van geen noodlottige ongelukke nie vir die naweek gestel, “maar 11 lewens is ongelukkig weens nalatigheid en spoed verloor”.

Teen Sondag omstreeks 13:00 het sowat 2 000 voertuie per uur deur die Kranskop-tolhek beweeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

koos10 ·

DIs vir my bitter erg dat alle partye in ‘n botsing geraak word, selfs deur die dood, maar gewoonlik is dit net EEN persoon wat nie die wette wil nakom nie!

E ·

Daar is mos altyd mense wat reken wette is vir ander mense daar gestel en nie vir hulle nie.

Debby ·

Want hulle wil soos maniake jaag, en gee nie n duit om vir ander motoriste nie

Nie Verbaas ·

Ongelukke gebeur deesdae meeste van die tyd as gevolg van arrogansie, tekort aan breinselle en oorskatte bestuurs vermoë. My hart gaan uit na die onskuldige slagoffers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.