Minstens 3 jaar vir Kaapstad om droogte te hanteer

Foto ter illustrasie (Verskaf deur LekkeSlaap)

Dit sal Kaapstad minstens drie jaar neem om ten volle by die impak van klimaatsverandering en die huidige droogte in dié stad aan te pas.

Só het Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, Dinsdag by die 2018 Adaptation Futures-konferensie, die wêreld se voorste konferensie oor die aanpassing van klimaatsverandering, in Kaapstad gesê.

Volgens De Lille het die Moederstad talle lesse rondom die huidige droogte geleer en waterverbruik toepaslik aangepas.

De Lille het gesê dat Kaapstad in Januarie 2016 meer as 1,1 miljard liter water per dag gebruik het. In 2018 het die waterverbruik van Kaapstadse burgers tot net meer as 500 miljoen liter water per dag verminder. Sy glo dat Kaapstad dus ten opsigte van waterverbruik as een van die veerkragtigste stede in die wêreld bestempel kan word as daar gekyk word na hoe dié stad moes aanpas te midde van die uitdaging van droogte.

Die stryd is egter nog nie gewonne nie en die Moederstad implementeer tans ’n nuwe plan genaamd New Normal om die impak van die droogte in die stad oor die lantermyn te hanteer.

Volgens De Lille is dié plan gegrond op die aanname dat die stad permanent in ’n droogtetoestand sal verkeer. Sy dring daarop aan dat Kapenaars sal voortgaan met waterbesparing, aangesien die droogte nog nie verby is nie ondanks die onlangse welkome reënval.

Die vyfde Adaptation Futures-konferensie word vanjaar vir die eerste keer in Afrika aangebied en word deur meer as 1 200 afgevaardigdes van 87 lande en byna 230 organisasies bygewoon.

Dié konferensie vind vandeesweek by die Kaapse Internasionale Konferensiesentrum (CTICC) plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

marous ·

Die dame is verkeerd . Die aanwas verdubbel elke jaar en mense woon en maak nes hulle wil met die goedkeuring van die regering wat te blind is of te stom of te … om te besef dat daar pro rata voorsiening gemaak moes word vir basiese dinge soos water , riool , paaie , elektrisiteit ens VOOR daar ontwikkeling kan plaasvind.Hoeveel damme is in die Wes Kaap gebou sedert haar bondgenote die beheer van die land oorgeneem het ? Wat het van Clan William se geld geword? Hoeveel damme is in die ander provinsies gebou? Kan net sowel die see met ‘n tee siffie probeer leegskep met die mense . Daar is geen manier wat hulle langtermyn kan beplan behalwe om die land te kelder nie!

Jaco ·

So wat is die plan? n Ontsoutings aanleg of twee wat n druppel in die emmer is, en die resultate van die regering se onbevoegdheid op die betalende verbruikers te plaas deur hul te maan om minder water te gebruik??? Hoekom is die damme nie al lankal vergroot nie? Hoekom is die damme nie skoongemaak toe daar die geleentheid daarvoor was nie? Alhoewel ek nooit water sal vermors nie, WEIER ek om my kwaliteit lewe in te perk deur slegs n onbillike minimale voorgeskrewe hoeveelheid te gebruik omdat die regering wat jaarliks duisende van my ontvang nie hul werk gedoen het nie….PFFFFT!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.