Mishandeling van baba: ‘Saak van stasie na stasie geskuif’

Die polisiestasie in Pretoria waar AfriForum die dokters en maatskaplike werker gaan bystaan het. (Foto: Verskaf)

AfriForum se private vervolgingseenheid het Dinsdag skrywes aan die departement van maatskaplike ontwikkeling en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gerig waarin geëis word dat die beweerde mishandeling van ’n vyf maande oue baba onmiddellik aandag geniet om verdere trauma vir die slagoffer te voorkom.

Dít nadat die eenheid Vrydag twee dokters en ’n maatskaplike werker by ’n polisiestasie in Pretoria bygestaan het om ʼn klag van kindermishandeling te lê teen die ouers van die babadogtertjie wat glo mishandel word. Die aanvanklike polisieondersoek het niks opgelewer nie.

Luidens ʼn verklaring van AfriForum het dit intussen onder die eenheid se aandag gekom dat die polisie sedert die indiening van die klag verlede week nog glad nie opgetree het nie.

“In plaas daarvan om die verdagtes in hegtenis te neem, hou die SAPD hulle tans besig met die oorplasing van die saak van stasie na stasie en van eenheid na eenheid. Hierdie optrede dui daarop dat die regering se openbare stellings dat sake teen die kwesbares in ons gemeenskap geprioritiseer moet word, bloot lippetaal is,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, in die verklaring.

Maroela Media het vroeër berig die dokters het reeds in April vanjaar ʼn klag van kindermishandeling teen die ouers by die polisie aanhangig gemaak, toe die baba slegs vyf weke oud was. Die polisie het die saak aanvanklik ondersoek, maar het die klaers ingelig dat die saak gesluit is weens ’n gebrek aan bewyse.

AfriForum het vroeër gesê die babadogtertjie is in April in ʼn hospitaal in Pretoria opgeneem met beserings wat met kindermishandeling ooreenstem. Haar dokters en ’n private maatskaplike werker het toe ’n saak by die polisie en die departement van maatskaplike ontwikkeling aanhangig gemaak. Die baba se ribbes was na bewering op 15 plekke gebreek.

Die hospitaal het die ouers se weergawe van wat gebeur het gehad. Die dokters het aangevoer die ouers se verduideliking strook nie met die aard van die beserings nie. “Die dokters is van mening dat die beserings op gereelde kindermishandeling dui en dat dit nie toegeskryf kan word aan ongelukke nie. Die polisieondersoek het toe niks opgelewer nie.

Die baba is toe op 1 Julie weer in die hospitaal opgeneem met longontsteking, skok en dehidrasie. Sy was ook onder die gewigmylpaal vir haar ouderdom en was rasend honger toe sy opgeneem is. Verdere toetse het gewys dat haar sleutelbeen twee tot drie weke vóór haar opname ’n fraktuur opgedoen het. “Volgens die dokters breek ’n baba se sleutelbeen nie maklik in ʼn  ongeluk nie. Verder het ’n MRI-skandering beserings getoon wat heel moontlik veroorsaak is deur iemand wat die baba erg geskud het. Daarbenewens was albei haar femurs gebreek en die tekens van verskeie gebreekte ribbes was nog sigbaar.”

Die dokters wat haar ondersoek het, het almal saamgestem dat sy gereeld erg mishandel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pieterbusa ·

Weet jy wat Alet. Jy is 100% reg. Al is dit skrikwekkend…. Dis die waarheid

MvS ·

Hoe kan enige ouer hulle kind mishandel kinders vra net liefde en aandag my baba is amper 5 maande en ek kan my lewe nie indink sonder die wonderwerk geskenk van God af nie. ek voel hartseer en woedend na ek die artikel gelees het om te dink dat die dogtertjie wat dieselfde ouderdom as my pragkind is al klaar deur die goed moet gaan.

wens ek kon haar ‘n drukkie gee dat sy net kan voel hoe dit voel om deur ‘n liefdevolle mamma vasgehou te kan word. my gebed is dat die dogtertjie in ‘n huis waar liefde in oorvloed is sal opeindig. die is ‘n saak wat my na aan die hart le en ek hoop die ouers word hard gestraf hulle verdien die ergste straf. dit maak nie saak wat jou omstandighede is of redes nie jy doen dit nie aan ‘n weerlose baba of enige kind nie. Hulle verdien nie om ouers te wees nie.

Mense pas julle kinders op God vertrou ons met sy kosbaarste juwele.

sterkte pop die tannie dink aan jou en stort trane van hartseer vir jou uit.

Dries ·

Die 0apier waarop die kinder wet geskryf is, is dit nie werd nie ek weet ook van n geval in Heilbron waar n 12 jarige dogter gemolesteer was deur n man van oor die 40 dit het ook oor n period gebeur en 8s al vroeg die jaar aan gemeld en tot vandag 8s daar geen aksie geneem nie die kind was al by Dr’s en sielkundiges maar die saak loop elke keer net dood wat n klug is ons stelsel nie en jammer om te se die maatskaplike beteken ook nie veel nie ek weet ook van n Ander geval maar Sal liewers nie uitbrei nie dit is pateties dat kinders mishandel Kan word en die ouers kom weg daar nee maar Dan moet ons seker onthou Wie is aan die stuur van sake

ES ·

Dries, die Kinderwet is een van die beste in die wereld. Die probleem is diegene wat hulself skuldig maak aan die gruwelike daad, en die amptenare wat veronderstel is om die vervolging van hierdie diegene the bewerkstellig wat die probleem is. Sodra die wet reg toegepas word, is dit een van die magtigste wette wat bestaan.

Kokerboom ·

Oplossing: Raak ontslae van onbevoegde kaderminister en die oortollige hoogsbetaalde onbevoegde polisie topstruktuur en vernou besluitnemingskanaal deur proffesionele polisiekenners aante stel. Verbeter standard van opleiding en hou op om krummels aan te stel net om Staat se beeld van werkskepping te poets

ES ·

Die amptenare wat hulself skuldig maak daaraan om nie op te tree nie moet self vervolg word vir kinderverwaarlosing. Hulle faal totaal in hul plig om kinders te beskerm omdat hulle te lui is om enigsin om te gee.

Misky ·

Kan nie glo wat ek lees nie….. watter tipe ouer doen dit aan n klein onskuldige kindjie van Jesus….. Hulle dag sal kom van rekenskap en dan is dit te laat

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.