MIV-saak: Oudweermagoffisier ontken skuld

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Die oudweermagoffisier wat nou al jare op aanklag van poging tot moord en verkragting tereg staan nadat hy na bewering ’n ander weermaglid doelbewus en sonder haar wete met MIV besmet het, het onskuldig gepleit op die aanklagte teen hom.

Die 45-jarige man se verhoor het eindelik Donderdag in die Pretoriase landdroshof begin, waartydens die staat aangedui het dat die minimum vonnis van lewenslange tronkstraf van toepassing is.

Die klaer in die saak, ’n voormalige vriendin van die beskuldigde en deesdae ’n sersant in die lugmag, het tydens die eerste dag van die verhoor getuig dat sy MIV-negatief was voordat sy die beskuldigde op 16 Desember 2016 ontmoet het.

Sy het net meer as twee weke voor dié ontmoeting nog negatief vir MIV getoets.

Die klaer (32) het in die hof getuig dat sy destyds as deel van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se standaardprosedure om mediese geskiktheid te bepaal, in Augustus 2016 ’n MIV-toets ondergaan het. Sy het haar ook op 1 Desember 2016 as deel van die weermag se bewusmaking van Wêreldvigsdag vir MIV laat toets. Albei toetsuitslae het destyds negatief teruggekom.

Die klaer en die beskuldigde was sedert Desember 2016 tot April 2017 in ’n verhouding. Die klaer het getuig dat die beskuldigde vir die duur van hul verhouding die kondoom verwyder het wanneer hulle seksuele omgang gehad het. Dit ten spyte daarvan dat die paartjie vooraf ooreengekom het dat hulle slegs omgang sou hê indien hy ’n kondoom dra.

Hy het haar ook na bewering verskeie kere verseker dat hy MIV-negatief is.

Die beskuldigde het ook volgens die klaer se getuienis verskeie kere geweier om saam met haar vir ’n MIV-toets te gaan en kwaad geword as sy hom oor sy MIV-status uitgevra het.

Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê dié eenheid is verheug dat die beskuldigde se vervolging uiteindelik gister kon begin, ten spyte van verskeie vertragingstaktieke wat in die verlede deur die verdediging ingespan is.

“Hierdie is ’n baanbrekersaak vir die geveg teen geslagsgebaseerde geweld in ’n land waar oortreders heeltemal te dikwels wegkom met die mishandeling van vroue en kinders. Ons moet die aanklaer in die saak, adv. Emile van der Merwe, komplimenteer vir die wyse waarop hy die saak benader en is vol vertroue dat geregtigheid uiteindelik vir die klaer sal geskied.”

Die verhoor sal nou eers op 14 Junie hervat as gevolg van die beskikbaarheid van die betrokke landdros.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marius ·

As jy nie jou geite in toom kan hou nie moet jy maar die gevolge dra.

Anel ·

Hy kan sy stats geheim hou maar ek moet sê of ek gedpuit is of nie. Kry vir jou. Wo der hoeveel van hulle is nie besmet nie?

Swerwer ·

Nou ja, wat verwag jy as jy weet die doringdraad het dorings en dit word nie verwyder nie, dan gaan jy mos seerkry as jy aanhou. Nee regtig, word groot en vat die pak slae wat na jou kant toe gegaan het. Geslagsgeweld, so hoekom het jy nie gee pad nie. ‘n Saak het altyd 2 kante.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.