Saak oor MIV-besmetting uitgestel ná ongeluk

Argieffoto bloot ter illustrasie van weermag. (Foto: Henk Kruger/ANA)

Die saak teen die oudweermagoffisier wat nou al jare op aanklag van poging tot moord tereg staan nadat hy na bewering ’n ander weermaglid doelbewus en sonder haar wete met MIV besmet het, is Dinsdag vir die vierde keer uitgestel.

Die verhoor sou na verwagting vandag in die Pretoriase landdroshof voortgegaan het. Die beskuldigde se regsverteenwoordiger het egter nie opgedaag nie nadat hy na bewering vanoggend in ’n motorongeluk betrokke was. Hy het wel ’n kollega hof toe gestuur om aansoek om uitstel te doen.

Die beskuldigde sal nou in Maart verhoor word.

Natasha Venter, adviseur by die burgerregteorganisasie AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê dit is betreurenswaardig dat die saak vandag wéér te wyte aan die beskuldigde se regspan uitgestel moes word. “Die beweerde misdryf het reeds in 2017 plaasgevind, wat beteken dat die klaer nou al vir vyf jaar wag vir geregtigheid.”

Die saak is reeds drie keer vantevore uitgestel – elke keer op versoek van die verdediging.

Venter sê die verdedigingsprokureur was op die vorige geleentheid skynbaar siek. Dié het egter steeds nie ’n doktersbrief aan die hof verskaf nie. Die hof het egter vandag gelas dat die saak nou vir die laaste keer vir verhoor uitgestel word en dat die saak op 3 Maart sál voortgaan al moet die beskuldigde sy eie verdediging behartig.

Die prokureur moet ook op hierdie datum bewyse ter bevestiging van die ongeluk en die daaropvolgende mediese ondersoeke aan die hof verskaf.

“Die hof se beslissing is ’n stap in die regte rigting, want ons is van mening dat sterk optrede deur die hof noodsaaklik is om die onredelike vertraging van strafsake hok te slaan. Een van die grootste motiewe van die onredelike vertraging van strafsake is om slagoffers tot só mate te frustreer dat die vervolging laat vaar word. Ons wil ook die aanklaer van die NVG komplimenteer dat hy die aansoek om uitstel ten sterkste teengestaan het en slaggereed was om vandag met die verhoor te begin,” sê Venter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.