Moeg of verkouerig? Dis dalk Covid-19

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Die aantal nuwe Covid-19-gevalle is weer aan die toeneem. Kenners én die jongste getalle sê dit neem inderwaarheid al weke lank stil-stil toe terwyl niksvermoedende Suid-Afrikaners glo dat hulle bloot moeg is ná die jaar, of ’n verkoue, sinus of maagvirus onder lede het.

Die departement van gesondheid se jongste getalle wys dat byna 3 000 (2 938) nuwe koronavirusgevalle vandeesweek by die departement aangemeld is. Altesaam 2 107 nuwe gevalle is verlede week aangemeld en 1 970 die week voor dit.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) se getalle wys weer daar was ’n toename van 16,9% in die aantal nuwe gevalle wat gedurende die week van 5 November en 12 November aangemeld is vergeleke met die week voor dit.

Die aantal aktiewe gevalle neem ook al weke lank toe. Tans het net meer as 8 100 mense Covid-19 onder lede, teenoor verlede week se 7 229.

Die meeste aktiewe gevalle is in die Wes-Kaap (2 749), gevolg deur KwaZulu-Natal (1 702) en die Vrystaat (1 462). Gauteng het 999 aktiewe gevalle aangeteken.

Limpopo het tans maar 146 aangemelde aktiewe gevalle – die minste aktiewe gevalle van al die provinsies.

Dokter getuig van toename

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Dr. Angelique Coetzee, ʼn koronaviruspandemiekenner en voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, sê sy beleef al ’n maand lank in haar eie praktyk dat al meer pasiënte by die week positief vir Covid-19 toets.

Kenners waarsku al vanaf Augustus oor ’n moontlike sesde virusgolf. Coetzee sê egter dis in dié stadium uiters moeilik om te bepaal of Suid-Afrika hom tans in dié verwagte virusgolf bevind “want ons het nie die data nie”. Volgens die departement se getalle het 19 000 mense die afgelope week vir Covid-19 laat toets, en 17 000 verlede week. Tydens die vorige Covid-19 golf in Desember, het meer as 30 000 mense daagliks laat toets.

Coetzee doen nou opnuut ’n beroep op Suid-Afrikaners om hulle vir Covid-19 te laat toets indien hulle enige simptome toon.

Coetzee sê voorts dat die meerderheid Covid-19-pasiënte tans sogenaamde “matige Covid-19” onder lede het weens die Omikron-subvariant wat steeds die meeste nuwe gevalle dryf. Hoewel dié subvariant minder ernstig van aard is, waarsku Coetzee dat ingeënte Suid-Afrikaners se immuniteit die afgelope jaar afgeneem het aangesien die meeste einde verlede jaar laas teen Covid-19 ingeënt is.

Pasiënte met komorbiditeite loop dus weer die gevaar om ernstig siek te word. “Die langtermynuitwerking op jou longe is stééds daar. Jy kan stééds in die hospitaal beland.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Phillip ·

Covid-19- Maak my siek en moeg en gee my kopseer . Dis soos griep wat n gewone siekte is . Aan vaar die een ook as n gewone siekte . Kry griep ineting Elke jaar doen dit met Covid-19- die selfde maar as jy so sou voel

Witbaard ·

Ons drink maar vitamine C en bruistablette en werk maar deur die “moegheid”, dankie.

Astrain ·

ALLE griep virusse is covid virusse…..moet nou nie weer mense op hol laat gaan nie!!! Verbeelding is ‘n kragtige skepper!!!

Cherokee ·

Daar gebeur die verwagte – covid 19 is besig om die gees te gee. Volgens wat ek dink en glo, sal dit middel volgende jaar nie meer bestaan.

Namgrl ·

As ek hoor van COVID-19 raak ek net vies, ongelukkig, en hartseer, baie hartseer – want COVID-19 het dierbares van ons gevat sonder genade, sonder om te skroom. So, van COVID-19 wil ek niks hoor nie, ek sny dit uit, ek glo en ek vertrou.

VaalDonkie ·

Ek sit hoeka nou met ‘n toe neus en my mond is kurkdroog in die nagte. Maar dis darem al die tweede keer so ek sal seker oraait wees.

VaalDonkie ·

Nee, dis die SESDE vlaag, so ons moet nou ses maskers dra.

Kuver ·

Ek glo dan jy het bewyse dat covid al honderde jare met ons is

Samuel ·

Wanneer hou hierdie verdagmakery op? Niks so lekker as om mense se vakansiegees te demp nie.

Antie Sarie ·

Here we go gathering nuts in May. All through November and December

Anel ·

Dis mos nou weer amper vakansie. Ou hoed wil seker weer gaan strandpatrollie loop! Mense steur hulle nie meer aan virus 19 stories nie. Iemand wil weer geld maak.

DJ ·

Dit is net gewone outydse verkoue of griep wat nou weer allerhande spoke mee opgejaag word. Die inentings se verval datum is nou naby so hulle moet nou gebruik word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.