‘Moenie afbakening gebruik om verkiesings te manipuleer’

(Grafika: Gordon Johnson/pixabay)

Afbakening is by uitstek ʼn instrument wat gebruik kan word om verkiesings te manipuleer en ʼn desperate ANC wat besig is om sy greep op die regering te verloor, kan allermins daarmee vertrou word.

Só het Michal Groenewald, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder oor samewerkende regering en tradisionele sake, gesê tydens die parlementsdebat oor die wetsontwerp op die onafhanklike afbakeningsowerheid.

“Daar moet dus in die praktyk gestalte gegee word aan die naam van die wetsontwerp wat hiermee handel. Die wetsontwerp op die onafhanklike afbakeningsowerheid maak dit duidelik dat die owerheid onafhanklik moet wees.”

Die munisipale afbakeningsraad is ʼn onafhanklike owerheid wat moet besluit oor die afbakening van munisipale grense en hierdie besluite kan eindelik ʼn beduidende uitwerking op verkiesingsuitslae hê.

Die VF Plus se bydrae tot die wetsontwerp was dat die raadslede asook die komiteelede van die afbakeningsowerheid politiek onverbonde moet wees. Aktiewe deelname aan politieke bedrywighede sal so ʼn lid outomaties diskwalifiseer.

“Die ANC se poging om nogtans beheer oor die raad te hou, word duidelik weerspieël in sy onversetlikheid jeens die keuring van raadslede, nieteenstaande die teenkanting van opposisiepartye,” sê Groenewald. “Die departement se voorstel is aanvaar dat die keurpaneel verantwoordelik vir die voorstelling van die afbakeningsowerheid se raad, behoue bly. Dié paneel kan en sal sekerlik deur die ANC gemanipuleer word om kaders as lede van die raad aan te stel.”

Die voorstel van die VF Plus en ander opposisiepartye was dat só ‘n paneel eerder moet bestaan uit ‘n veelpartykomitee van die parlement wat deursigtigheid sou verseker.

“Saam met deursigtigheid moet daar ook verantwoordbaarheid wees en gegewe die ANC se rekord, dui alles nou reeds daarop dat die raad hom nie daaraan sal steur nie.”

Die VF Plus se mening is dat ʼn proses van openbare deelname gevolg moet word in die samestelling van die komitee.

“Die afbakeningsraad se bevoegdheid om grense te bepaal wat gemeenskappe direk raak, moet verantwoordbaar staan teenoor sulke gemeenskappe. Die VF Plus se boodskap is nogtans aan die ANC dat ongeag watter planne hy smee, dit hom nie aanstaande jaar by die stembus sal red nie.

“Die ANC kan met niks vertrou word nie. Sy onbevoegdheid spreek uit Suid-Afrika se ligte wat nie meer aan is nie. In stede van regeer was daar net ʼn poging tot selfverryking.”

Groenewald meen hierdie dinge sal waarskynlik eers insink wanneer die ANC in 2024 in die opposisiebanke van die parlement sit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Danie ·

Ek wil niks meer hoor van politiek en partye. Die een is soos die ander sit net reg om te gryp. Ek sit reg en maak reg vir wat wag vir ons as blankes.

Martie ·

Die kanse dat hulle uitgestem sal word is skraal. Ons sit met ‘n bevolking wat nie bevoeg genoeg is om vir hulleself te dink nie.

Yvonne ·

Here net U my God kan ons pragtige land red uit die ANC se vuil hande….Here hoor ons bede ????????????

houopkruip ·

Stem saam Danie.
Sekere van ons naiewe volkie se drome is totaal onrealisties.
Een realiteit bly oor – verskans jouself sover prakties moontlik binne die BESTAANDE bestel en maak seker jy kan (en jy gaan !) jouself fisies moet verdedig.

SwartBees ·

Hoe gaan die sê ding “Don’t count your chickens before they hatch”.

Hendrik ·

Afbakening van wyke het ‘n reuse effek dat gemeenskappe nie sitplek kry op ‘n raad nie. Waar in die jou lewe het jy gesien dat ‘n gemeenskap 15km oos van Pretoria in dieselfde wyk is as ‘n gemeenskap net oos van Bronkhorstspruit en aan gemeenskap 30km aan die suidekant. Een wyk? Word dit nou demokrasie genoem met die manipulasie van wyksgrense? Een raadslid wat almal verteenwoordig en hy is gekies deur die meerderheid in die gemeenskap van Bronkhorstpruit. Wat verstaan hy van die ander gemeenskappe se probleme? Die politieke partye het 5 jaar tyd gehad om hierdie onding reg te maak en nou wil hulle voor die verkiesing geraas maak. Dit is te laat en ek gaan nie vir julle stem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.