Moenie De Ruyter-bewerings té gou afmaak

André de Ruyter, voormalige hoof van Eskom. (Argieffoto: Eskom)

Sy lede by Eskom se ervaring op grondvlak strook met die intelligensieverslae wat André de Ruyter, Eskom se voormalige hoof, oor grootskaalse korrupsie in dié organisasie bekendgemaak het en waarby hooggeplaaste politici betrek word, het Solidariteit Vrydag bevestig.

“Ons weet daar is baie ongerymdhede. Ons neem dit gereeld waar,” sê Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).

“Dis ook baie belangrik om nie ʼn intelligensiedossier met ʼn hofdossier te verwar nie. Intelligensie is nie bedoel om te bewys nie, dit is bedoel om rigting aan te wys. Hierdie intelligensie moet opgevolg word. Dis myle ver van wat ʼn hofdossier sal wees.”

De Ruyter het Woensdag voor die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) verskyn om verdere lig te werp op die skokonthullings wat hy vroeër in ʼn televisie-onderhoud oor omvattende korrupsie by die kragvoorsiener gemaak het. Hy het gedeeltelik op ʼn private ondersoek deur George Fivaz Forensic and Risk (GFFR) gesteun om sy bewerings te staaf.

Die ondersoekende joernalis Jacques Pauw het De Ruyter se bronne egter dieselfde dag in ʼn berig op News24 gekritiseer en in twyfel getrek.

Pauw voer aan dat die intelligensieverslae waarop De Ruyter oënskynlik gesteun het toe hy vroeër die plofbare bewerings gemaak het, op geen wesenlike feite berus nie. Dit word bestempel as “wilde en ongetoetste bewerings” wat afkomstig is van ʼn skaduagtige intelligensie-operateur wat by apartheidsera-misdaad betrek word.

GFFR, ʼn maatskappy wat besit word deur voormalige polisiehoof George Fivaz, is getaak om die ondersoek na die beweerde korrupsie te lei. De Ruyter het Fivaz glo in die tweede helfte van 2021 gevra om ʼn strategie saam te stel om wandade by die kragvoorsiener aan die kaak te stel, nadat wetstoepassingsowerhede nie kon nie.

Pauw sê dié sogenaamde Eskom-intelligensieverslae is deur Tony Oosthuizen saamgestel, wat glo ʼn sleutellid van ʼn geheime apartheidsera- militêre intelligensie-eenheid was, en dat dit basies nutteloos is.

Mulder sê egter die verwerking van intelligensieverslae het al gelei tot inhegtenisnemings (veral op grondvlak), en dat dit dus voortydig is om hierdie intelligensieverslae as waardeloos af te maak “omdat hy graag ʼn hofdossier wil hê”.

“Dit is soortgelyk aan iemand wat in ʼn casino rondstap waar geen mense is nie en dan sê hy sien niemand wat hier geld verloor nie.

“Daar is enorme probleme by Eskom wat korrupsie betref en georganiseerde misdaad funksioneer nie op hierdie vlak op enige plek in die wêreld sonder dat daar politici, en selfs hooggeplaaste politici, betrokke is nie – dit is net nie moontlik nie.”

Dus, sê Mulder, is die bewerings in die intelligensieverslae hoegenaamd nie ondenkbaar nie.

“Ek dink André de Ruyter het alles probeer vasstel wat hy enigsins kan met bestaande wetstoepassing. Dit is ons ervaring ook dat niks gebeur nie. Jy kan mense aangee en dan is hulle maar net weer terug by die werk met geen klagte teen hulle nie, want in baie gevalle is ander mense ‘in op [die korrupsie]’.

“Hierdie frustrasie lei tot die besef dat jy ʼn agentskap moet kry wat buite die bestaande raamwerk en buite die staat se finansiering is om ondersoek in te stel. Dit help nie jy maak wolf skaapwagter nie. Dit help nie om die ouens wat steel te vra om hulself te ondersoek nie, hulle gaan dit nie doen nie.

“Ek dink hy [De Ruyter] het reg opgetree. Dit is kritiek noodsaaklik, want Eskom is tot op sy knieë gesteel.”

Mulder sê De Ruyter het oor die afgelope maande verskeie van hierdie intelligensieverslae ontvang wat ander joernaliste gelees het en wat nie tot dieselfde gevolgtrekking as Pauw gekom het nie.

“Ek dink in dié geval is dit belangrik om ook mense se oordeel te vertrou. De Ruyter was in Eskom. Hy sou tog sekerlik self van hierdie inligting kon staaf met sy werklike ervaring van wat op grondvlak gebeur.

“Ons lede in Eskom se ervaring strook baie nou met hierdie intelligensieverslae.”

Mulder sê hy dink wel beriggewing oor die bedenklikheid van die inligting het reg in die regering se hande gespeel.

“Ek dink dit was ʼn uitsonderlik roekelose ding om te doen. Die regering, veral David Mabuza en Gwede Mantashe [wat betrek word], gaan absoluut enige aantygings teen hulle nou afmaak as apartheidspropaganda.

“News24 en in besonder Jacques Pauw het nou vir hierdie politici [en ANC] ʼn besonder gerieflike verskoning gegee. Hulle gaan dit beslis gebruik om De Ruyter swart te smeer en seker te maak dat sy harde terugvegpogings teen korrupsie as apartheidspropaganda afgemaak word, en enigiemand wat nie ʼn lojale kader in die staatsdiens is nie se geloofwaardigheid in twyfel te trek.”

Mulder benadruk ook dat hierdie samevatting en bewerings nie forensiese verslae is nie. Die georganiseerde misdaadstruktuur werk immers so dat daar selde bewyse is wat hooggeplaastes direk met misdade verbind.

Juis om dié rede moet intelligensie en bronne verder ondersoek en opgevolg word.

“Daar is wel bewyse op laer vlak wat kan lei tot inhegtenisnemings. En so bou jy ʼn saak van onder af op.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

domheks ·

Ruik ek jalosie van Pauw se kant af? Pauw – Nou hoekom vertel jy ons nie wat daar aangaan nie?

Frank ·

Was self ook my eerste gedagte en nogal teleurgesteld in Pauw. As SY boek en whatever dan so vol bo redelike twyfel bewysbare feite was, hoekom is niemand dan al in die tronk na sy voortreflike klag- en bewysstaat nie of het hy OOK nie so iets nie?

Cherokee ·

Frank, jy stel my teleur wanneer jy sê dat jy teleurgesteld is in Pauw. Het jy dan ooit iets anders van hom verwag? Liberaliste veg teen enigiets wat selfs net konserwatief klink. Dit is bekend aan watter kant van die draad hy veg.

Samuel ·

Ek was ook geskok om News24 se afmaking van De Ruyter se intelligensie te lees. Nie net Pauw nie, maar ook Pieter du Toit, het in die hande van die kaders gespeel? Moedswillig?

Piet 6 ·

My opinie is dat mnr de Ruiter die 2 menere voorgespring het met sy aankondiging oor die korrupsie. Hulle wou die eer daarvoor gehad het.

Jaco ·

Noem net die name. As diegene wie se name genoem word, dan hof toe hardloop met klagtes van naamskending, beveg dié hele ding dan in die hof met bewyse. Dié hele proses is mos nou nie so moeilik nie. PLUS, organisasies soos Solidariteit, Afriforum en Lawyers for Human Rights sal maar te bly wees om betrokke te raak en André te help verdedig.

Katinka ·

Eskom sal nooit beter kry nie, dis nou letterlik nag vir ons!

Mariana ·

Waar ‘n rokie is, is ‘n vuurtjie en hierdie kan dalk net bosbrand wees. Nee moenie die saak as nonsens afmaak nie, ondersoek moet ingestel word.

houopkruip ·

Ironies, die eerste instansie wat Andre de R uitmekaar trek, is die ANC se nuwe spreekbuis, Media24.
De R is dalk nie 100% in die kol met sy bewerings nie, maar hierdie linkse liberale kan nie wag om hom te kruisig nie, selfs voor al die feite op die tafel is nie.
Die 1990’s van vooraf, en die liberale mainstream ex NP ondersteuners is weer hard aan die werk.

Amelia ·

mnr de ruyter daar is baie wat jou glo en ek is een van hul hoekom anders sou jy dan so iets gese het
skerlik nie om afbetaal te word nie maar as ek jy was sou ek oe en ore agter in my kop wou he want glo my skeris gaan jou lewe probeer hel maak

Prinses Bella ·

Pauw, doen ons almal ‘n guns en tree uit die media bedryf uit. Jy het ‘n dekade terug al jou vervaldatum bereik.

Treurwilger ·

Geensins verbaas of geskok oor News24 óf Pauw se kommentaar nie, verwag dit van ‘n redaksie wat nie ‘n goeie woord vir AfriForum het nie.
Mense moet meer oplettend en minder goedgelowig wees, gesonde verstand gebruik, dan sal min(der) dinge teleurstel.

Kosie ·

As De Ruyter dan nie die waarheid praat nie waar is die hofsaak waarmee hy gedruig is, Soos gewoonlik probeer Pauw sy kaders beskerm, n blinde mens met n stok kan aanvoel daar is korrupsie en almal weet wie is betrokke.

domheks ·

So trek die kaders (Kadawers) maat weer apartheid in om hulle te beskerm.

Jan ·

Ek lankal nie meer netwerk24 nie.Ek hetal verskeie kere nuus op radio gehoor en dan hoor jy some eers ‘n week later daarvan op netwerk 24

Wendy ·

Aage nee en net daar verloor ek nou respek v mnr Pauw – ek twyfel nie v een oomblik aan Mnr de Ruyter se geloofwaardigheid nie .

Owlie ·

As n intelligensie dosier met n hof dosier verwar word is daar baie ??????????????? Oor ons land se geleerdheids en kennus vlakke.

Apartheidspropoganda is beslis nie betrokke in die sin waar daar na die verlede verwys word nie maar wel in die hede in die teenoorgestelde rigting aswat hulle tans apartheid gooi. Apartheid hoort ook nie ras of taal gebonde te wees nie maar wel persoonlikheid/polities.

Om die georganiseerde misdaadstruktuur se bewyse wat hooggeplaastes direk met misdade verbind te bewys is dit nodig om die reeds vas gekerrde beskuldigdes te laat sinh.

Dries ·

Pauw kan gou praat .Dis nie asof sy boeke enigsins gelei het tot arrestasies nie.Praat van ongegronde bewerings,en Pauw is tops.

My siening ·

Mnr De Ruyter ek glo wat jy doen is reg vir jou veiligheid, die feit dat ANC ondersoek afkeur spreek boekdele korupsie en weet wie die beskermende korruptes is!

Vonny ·

Jinne Andrè jy is SO n sexy, handsome man!
Love die foto van jou

Linda ·

Met die Guptas se lugmag basis landing het hulle gesorg daar is n ander sondebok terwyl die een wat
skuldig was weggekom het.

Anel ·

Genl. Fivaz wat ‘n speurder en hoof van die speurdiens voor hy kommissaris geword het, as ek dit nie mis het nie. So glo my vry, hy weet van skelms ondersoek. Hier Pauw het ek nog nooit tyd voor gehad nie. So, ek glo ADR en ek wens hom stetkte toe want benoude katte is nou besig om benoude spronge te maak. Hoekom blameer hulle nie maar sommer vir ou Jan ook nie. Hulle blameer speletjie raak ook nou afgesaag. Veral omdat hulle nou weer uit gevang is!!!!

Jakkie ·

De Ruyter moet name noem en die bewyse gee. Maklikste om die waarheid te praat. Genl Fivaz was een van die heel beste in beheer van destydse polisie en sal hom nie ophou met nonsens nie en glo ek so ondersoek sal professioneel en bo verdenking wees.

JvR ·

Hy sal nie. Nie binnekort. Storie moet eers uitgerek word. SA se Johny Depp saga

Chris ·

My genugtig, ek kon dit amper nie glo nie. die mnre Pauw en sy gewese bende maat is gou om ander mense se kundigheid en vemoens te bevraagteken. Dit lyk vir my al hoe meer jy deesdae uit die kalklig verdwyn skryf jy gou-gou ‘n boek wat die leser will koop en dan jou hongerpyne met die opbrengs ook sommer te stil. Ek glo nie Die Ruyter van Swart sal sommer enige lieplapper se informasie op die tafel sit tensy hy hom vooraf vegewis het van die feite nie.

Oosieoos ·

Pauw en Pieter du Toit het geslaap nou wil hulle ook a eiertjie lê. Hulle speel nou gevaarlik reg in die hande van die kaders. Hulle tyd is verby

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.