‘Moenie hasies, kuikens as geskenke oor Paasfees gee nie’ – DBV

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: DBV)

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het Suid-Afrikaners opnuut gemaan om nie hasies of kuikens as geskenke vir hul kinders hierdie Paasfees te gee nie.

Dié vredeliewende diere word jaarliks in hierdie tyd aan jong kinders gegee, aangesien hulle as die “perfekte” troeteldier beskou word wat kinders sal help om verantwoordelikheid te leer.

Die DBV meen egter die verantwoordelikhede op die lange duur nie in ag geneem word wanneer mense in die oë van hierdie oulike diere staar nie.

“Ongeag hoe hasies en kuikens se verbintenis met Paasfees ontstaan het, het hierdie diere sedertdien glad nie daarby baat gevind nie,” het die Kaap van Goede Hoop se DBV in ʼn verklaring gesê.

“As gevolg van hierdie verbintenis het ons ongelukkig ʼn toename in mense gesien wat hasies of kuikens aan kinders gee sonder om die diere se langtermynbehoeftes om gelukkig en gesond te wees, in ag te neem.”

Hase byt, krap

Hoewel hasies die illusie voorhou dat hulle dit geniet om vasgedruk te word, meen die DBV dat hulle eintlik ʼn prooi-spesie is wat nie daarvan hou om opgetel of vasgehou te word nie – dus is dit meer as moontlik dat hul eienaars ʼn paar byt- en skraapplekke ryker gaan wees.

“Hulle brose spysverteringstelsels kan baie duur uitstappies na die veearts tot gevolg hê en hulle kan boonop ʼn huis en tuin heeltemal vernietig as hulle verveeld of gefrustreerd is.”

Hasies is ook baie sosiale diere wat nie in isolasie kan lewe nie. Hulle kort ʼn groot grasperk om op rond te hardloop en te speel en ʼn gesonde dieet van hooi, groen groente en vars water.

Kuikens is broos

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Volgens die DBV is kuikens uiters broos en kan hulle binne ʼn paar dae doodgaan as hulle te veel opgetel of laat val word.

“Baie mense wat kuikens vir Paasfees koop het nie die vermoë of voorneme om volwasse hoenders te versorg nie. Boonop is daar geen onderskeid tussen manlike en vroulike kuikens totdat hul sekondêre seksuele eienskappe ontwikkel nie,” sê die DBV.

“Die mees akkurate manier om kuikens se geslag te bepaal is om te kyk hoe hulle groei. Dit beteken dat jy moontlik met ʼn haan kan sit wat daagliks as ʼn wekker sal optree.”

Daar is glo ook spesifieke toelatingsvereistes waaraan eienaars van hane in ʼn residensiële gebied moet voldoen voordat hulle die haan kan aanhou.

“Soos hasies word hoenders en hane dikwels aan skuilings oorhandig of erger: in die veld vrygelaat waar hulle geen ervaring het om roofdiere te vermy of vir kos te soek nie.”

Die DBV het ʼn beroep op lede van die publiek gedoen om twee keer te dink voordat hulle ʼn hasie of ʼn kuiken as ʼn troeteldier aanskaf en liefs dié diere aan hul naaste skuiling te oorhandig indien dit nie meer deur die persoon aangehou wil word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.