Moenie ondersoek na wapentransaksie heropen, vra Corruption Watch

Argieffoto

Corruption Watch, wat gevra het vir ʼn hersiening van die Seriti-kommissie van ondersoek se verslag oor die omstrede wapentransaksie, sê hy wil nié hê die kommissie moet heropen word nie.

Die hooggeregshof in Pretoria het Woensdag die kommissie se verslag ter syde gestel.

Corruption Watch en die organisasie Right2Know het gevra dat die bevindings van die kommissie, wat gelei is deur regter Willie Seriti, ter syde gestel word. Hulle het aangevoer dit het die publiek mislei deur politici en staatsamptenare van blaam te onthef.

Caroline James, namens Corruption Watch, het gesê die organisasie is nie by magte om te vra dat die ondersoek heropen word nie, maar het gehoop dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sou optree, asook dat pres. Cyril Ramaphosa sy diskresie oor die saak sou gebruik.

“Corruption Watch vra nie vir die heropening van die kommissie wat die wapentransaksie ondersoek het nie. Die rede vir die aansoek was om te bevestig hoe die kommissie moet optree,” het James gesê.

Sy het gesê Woensdag se uitspraak stel ʼn presedent vir die manier waarop kommissies, in ooreenstemming met die beginsels van wetlikheid en rasionaliteit, moet optree.

Die ondersoek het sowat R140 miljoen beloop, nóg een van die organisasie se besware teen ʼn moontlike heropening.

Regter Dunstan Mlambo het in sy uitspraak gesê dit word aanvaar dat die howe omsigtig moet wees wanneer besluit word oor die verrigtinge van ʼn kommissie.

“Wanneer onbetwiste bewyse soveel regsfoute uitwys, asook ʼn duidelike versuim om getuienis van sleutelgetuies te toets én boonop ʼn weiering om gedokumenteerde bewyse in ag te neem wat verband hou met die  ernstige bewerings rakende sy ondersoek, kan daar net een gevolgtrekking wees: die bevindings van só ʼn kommissie moet ter syde gestel word,” het hy bevind.

Hy het daarmee die bevindings ter syde gestel.

Mlambo het die manier gekap waarop die kommissie se getuienisleiers die sleutelgetuies, veral Chippy Shaik en Fana Hlongwane, benader het en bevind dat dit ʼn “algehele versuim was om die weergawes van die getuies behoorlik te toets”.

Ramaphosa het nie die aansoek teengestaan nie.

Die kommissie is in 2011 op die been gebring, twee jaar nadat pres. Jacob Zuma se ampstermyn begin het. Daar is destyds gesê Zuma het die kommissie onder dwang aangestel, terwyl die kommissie self geteister is deur bewerings van vooroordeel, die uitsluiting van getuies en ʼn vlaag bedankings van senior amptenare.

Die kommissie moes bewerings van grootskaalse omkopery en korrupsie ná die multimiljoenrand-transaksie ondersoek. Die transaksie is in 1999, in oudpres. Thabo Mbeki se ampstermyn, afgehandel.

Die kommissie het geen bewys van enige wederregtelike optrede deur die destydse regering óf enige staatsamptenaar gevind nie.

Die EFF het intussen gesê Seriti, en diegene wat hom aangestel het, moet verantwoordelik gehou word vir die koste daarvan.

Die party het gesê dit is onaanvaarbaar dat die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, persoonlik vir koste verantwoordelik gehou kan word, terwyl diegene in die Seriti-kommissie “doelbewus” versuim het om hulle mandaat uit te voer, maar nié vir die koste daaraan verbonde moet pa staan nie.

Patricia de Lille, deesdae die leier van Good, het die hofbeslissing verwelkom.

De Lille het in 1999 die fluitjie oor beweerde korrupsie met die wapentransaksie geblaas. Sy het vandag gesê die uitspraak gee die land ʼn nuwe kans om te bewys hy gaan optree teen diegene wat skuldig is aan enige oortredings wat met die transaksie verband hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Sarel ·

Ja dis tyd vir optrede. Hierdie ondersoek komissies skommel net die pak kaarte verder deurmekaar. Het en beoefen GEEN jurisdiksie nie? Resulteer net in aanbevelings.

Joke! ·

Ja die kokkerotte ryk die gif kom maar hul wil nie uit hul skeiling skarrel nie…

Henk ·

Nou wanneer word al die verdagtes in die saak gearresteer en aangekla vir korrupsie? En al die korruptes van die seriti kommissie ingesluit seriti vir regsverydeling

Johanna Botha ·

Niemand ….net mooi NiEMAND word vervolg nie ! Almal kom heetyd met alles weg…..hier is GEEN wet en orde in die land ! Kyk maar net na die vlakke van korrupsie, moord en doodslag ! !

Maljan ·

Maar nog n kommissie kan weer n hele spul kaders bevoordeel.

AndrewL ·

‘n Paar bedankings en alles is weer “Open for business”.

Marius ·

Al wat die komisies doen is maar net om vir almal bekend te maak oor wat verkeerd gedoen is. Die gevolge van die verkeerde dade is nie deel van die “deal” nie. Almal se wasgoed hang aan die draad vir almal om te sien maar dis hoe ver dit kom geen optrede of straf.

Naas ·

Is Corruption Watch bang die skelms word uitgewys? Ons weet mos in elk geval wie hulle is.

Elizabeth ·

Dit is duidelik dat die kommissie nie sy werk gedoen het nie, maar lede het wel ontsaglike(!!!) salarisse ontvang. Ons kan met reg eis dat dié salarisse terugbetaal word.

Robert ·

Die ondersoek na die wapen trnasaksie hoef nie weer aan die gang te kom nie. Die beweerde persone moet nou aangekla en gevonnis word.

Eddie ·

Ek sou sê as ‘n Hof ‘n Kommissie bevinding ter syde stel , moet dieselfde Hof sekere onmiddelike remidiërende optrede , met arrestasies sonder versuim , beveel as deel van die uitspraak !

Bach ·

Waarom word Sereti nie dadelik afgedank nie? Hy sit steeds op die regbank. Watter skande!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.