Mooinooi-skietery: Beloning uitgeloof om vermiste man op te spoor

ʼn Beloning word aangebied aan enigiemand wat Tebogo Ndlovu kan opspoor. Foto: Verskaf

ʼn Groot beloning is uitgeloof in ʼn poging om Tebogo Ndlovu (24) op te spoor wat sedert Augustus vermis is nadat hy glo op ʼn plaas buite Mooinooi in Noordwes geskiet is.

Matthew (Bennie) Benson (24), wat aangekla word van die beweerde moord op Ndlovu en poging tot moord op sy twee vriende, is steeds in aanhouding nadat sy borgtogaansoek Vrydag in die Brits-landdroshof van die hand gewys is.

Ndlovu, van Majakaneng, en sy vriende is glo op 2 Augustus na Benson se plaas naby Mooinooi om lemoene en skrootmetaal te steel, toe Benson hulle opgemerk en op hulle geskiet het om hulle te verjaag. Ndlovu is glo tydens die voorval in die been geskiet. Sy vriende het hom opgetel en probeer weghardloop met hom, maar glo agtergelaat aangesien hy te swaar was.

Hulle beweer hulle het hom onder ʼn boom gelos en na ʼn berg gehardloop. Toe hulle terugkyk, het hulle glo Benson en ʼn groep mense gesien waar hulle Ndlovu gelos het. Ndlovu het daarna vermis geraak. Bloed is glo op die toneel gevind, maar sy liggaam is nog nie opgespoor nie.

Benson se vriende, aanstaande verloofde, Scharlene Oosthuizen (21), en haar ma, Marianna Audrey, is oortuig Ndlovu lewe nog en het sedert Benson se inhegtenisneming op 16 September geld ingesamel om ʼn beloning aan te bied aan enigiemand wat Ndlovu opspoor.

Marianna het Woensdag aan Maroela Media gesê hulle het geen twyfel dat dat Benson onskuldig is nie.

Die plaashuis van Matthew Benson se ouers is heeltemal geplunder nadat hulle die plaas vir hul eie veiligheid moes verlaat. Foto: Verskaf

“Ek het aanvanklik ʼn R10 000 beloning aangebied en die nuus wyd bekend gemaak. Een van sy vriende het my daarna geskakel en gesê hulle wil geld bydra. Teen vandag staan ons op R51 000 wat ons uitloof. Ek sal al die meubels in my huis verkoop om nog geld by te kry om die beloning nóg groter te maak as ek moet,” het sy gesê.

Sy het gesê hulle het die beloning op Facebook en in die plaaslike koerante geadverteer. Plakkate is ook by verskeie winkels opgeplak en daar is Saterdag honderde pamflette in die omliggende nedersettings gaan versprei.

“Ons het al baie goeie leidrade gekry, maar dit was altyd te laat. Daar is selfs iemand wat ons geskakel het om te sê dat Ndlovu in Pretoria glo by sy meisie gesien is. ʼn Vrou beweer ook sy het die dag van die voorval gesien hoe paramedici ʼn man met ʼn beenwond langs die pad behandel het, maar niemand weet wie die paramedici was nie.”

Marianna het gesê hulle is in besit van ʼn foto van Ndlovu wat op SAUK-nuus gebruik is. Daar is glo ook ʼn man op Facebook wat soos Ndlovu lyk en dieselfde naam het, wie se profiel nog aktief is. Die polisie is glo oor hierdie verwikkeling genader, maar het ontken dat dié man Ndlovu is.

Benson en Scharlene het saam gewoon tot hy homself op Scharlene se 21ste verjaardag aan die polisie oorgegee het. Volgens Marianna het hy so baie planne gehad om haar op die dag te bederf.

Die plaashuis van Matthew Benson se ouers is heeltemal geplunder nadat hulle die plaas vir hul eie veiligheid moes verlaat. Foto: Verskaf

“Die hele gedoente raak haar baie erg en het haar geknak. Sy sien Bennie elke Donderdag. Met Bennie gaan dit onder omstandighede goed en sy geloof is sy redding. Hy lees elke aand sy Bybel en doen ook sendingwerk daar. Hy glo die Here het ʼn doel met hom daar binne.”

Marianna het gesê Benson se ouers moes die plaas vir hul eie veiligheid verlaat nadat onluste in die omgewing uitgebreek het nadat Ndlovu spoorloos verdwyn het. Ndlovu se verdwyning het in Augustus tot gewelddadige betogings in die gebied gelei waartydens die N4, R104 en R566 afgesper is. Die betogers het in dié tyd hul plaas onregmatig betree en glo gesê hulle kom soek die liggaam van die slagoffer. Die plaashuis is intussen heeltemal geplunder.

Sy het gesê daar is ʼn span vrywilligers wat gereed staan om dadelik positiewe leidrade op te volg as dit deurkom.

Marianna het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om ʼn pamflet van die beloning te versprei met die hoop dat Ndlovu daardeur opgespoor kan word.

Benson moet weer op 7 November in die hof verskyn vir voorverhoorprosesse om te begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

willie ·

Baie slim van die familie en vriende! Hy gaan nou baie vinnig na vore kom inteendeel ek sal nie verbaas wees indien hy die losprys nie self sal gaan opeis nie! Ongelukkig gaan dit nie vergoed vir al die emosionele en finansiële skade wat die familie reeds gely het nie!

Adam ·

Willie, jy kan vergeet daarvan. Hoekoem na vore kom om ‘n beloning te euis wat hom inkrimineer. Hy kan meer as genoeg as ‘n skrootmetaal “versamelaar” verdien.

Boet Fasie ·

Ek is seker hy kruip erens weg en hoop van harte dat hy opgespoor sal word en sy dag in die hof sal kry.

WonderOok ·

Ek stem saam met jou. Begin nou wonder wat wil hy nou eintlik by Afriforum kom maak. Help my reg. Weet nie van een saak wat hy tydens die amp hanteer het nie.

Robert ·

@DW: Gerrie Nel is nie ‘n verdedigings advokaat nie. Gerrie Nel sal slegs gebruik word waar die NVG nie vervolg nie en privaat vervolging aan die gang gesit word

Vermeende ·

DW, my vraag ook, mag hy (Benson) ook die finansiele steun geniet wat Me Engels geniet.

pieterdp ·

Wat doen die poliesie om te verhoed dat die ouers se huis nie geplinder word nie.

Kan die ouers nie beskerim word nie. Of is dit weer net omdat hul wit is.

PJC ·

Ek verstaan nie lekker wat hier aangaan nie. Waar is die omliggende bure en vriende en plaaswag dat niemand help om hierdie mense (sy ouers) en hul eiendom te beskerm nie.

Tiger ·

PJC welkom in SA!Dit is hoe dit op die landelike gebiede gaan.Elkeen vir homself!

al ·

Die saak het n politieke gedrewe agenda. Mag die Heer die boer en sy gesin help teen die skreiende onreg teen hom.

Boet Fasie ·

Daar word beweer die boer het die mannetjie dood gemaak, so die jag is oop, man gaan mos nie twee keer dood nie.

Wonder maar ·

Hoe werk n klag van moord sonder n lyk en wat het nou geword van “Onskuldig tot skuldig bewys”. Dis verregaande om n “moord klag” te ondersoek met net bloed op die beweerde toneel? Die mense wat die berge in gehol het se getuienis is “hoor sê” daar kan mos nou enige bol storie opgedis word, enige plek in die land as mens nou op sulke getuienis kan staat maak. En ja, die staat sal nou nie die fandaliste vervolg nie, dis mos deel van hulle kultuur om verwoesting te saai.

Dalene de Vente ·

Dagsê Rechaen

Dankie vir jou valkoog! Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Dalene
nms. Maroela Media

bgj van der westhuizen ·

al wanneer daar eits gedoen gaan wod as die boere saam staan en geen graan diere groente verskaf nie dat hulle kan sien sonder die boere is hulle sonder kos

G ·

Ek stem saam, maar ongelukkig gaan ALMAL daaronder ly as die boere ophou om kos te voorsien. Ek kan nie eers ‘n kaktus aan die lewe hou nie, wat nog te sê van ‘n groentetuin, haha.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.