Moontlike scenario’s vir nasionalisering van die Reserwebank

Die Reserwebank. Foto: ANA

Sprake van die nasionalisering van die Suid-Afrikaanse Reserwebank en kwantitatiewe verruiming – ʼn mooi woord vir die druk van meer geld – het die markte op hol. Wat beteken dit vir die rand en Suid-Afrika se ekonomie?

Daar is drie moontlike scenario’s hiervoor, sê Russel Lamberti, strateeg by ETM Macro Advisors en skrywer vanWhen money destroys nations, ʼn boek oor die redes en verloop van Zimbabwe se hiperinflasie.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, het met Lamberti oor die scenario’s gesels.

Lamberti het verduidelik dat alle kwantitatiewe verruiming ongelukkig nie dieselfde is nie. Terwyl die strategie vir lande soos die VSA en Brittanje werk, het dit ongelukkig rampspoedige gevolge as ontluikende markte dieselfde roete probeer volg.

Le Roux het op sy beurt gesê dit lyk of die markte nie so bekommerd is oor die nasionalisering van die Reserwebank as wat hulle is oor Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, se aankondiging dat Suid-Afrika eenvoudig meer geld sal druk om sy skuldlas te help hanteer nie.

“Magashule se aankondiging wek ook die indruk dat die ANC se beleid toenemend meer sal inmeng met die werksaamhede van die Reserwebank,” sê Le Roux.

Dit het die plaaslike geldeenheid verlede week tot bo die R15-merk teen die dollar gedryf.

Lamberti sê daar bestaan steeds ʼn wanindruk dat ʼn land sy ekonomiese probleme kan oplos deur net meer geld te druk.

“Hierdie wanindruk kan toegeskryf word aan pure ekonomiese onkunde of politieke opportunisme, want dit kan ʼn regering help om vinnig meer geld te verkry.

“Onthou, die Suid-Afrikaanse regering staan op ʼn fiskale afgrond en as ʼn staat se finansiering uit belasting opdroog, moet ʼn regering na ander maniere begin soek om geld te kry.

“Twee eeueoue wyses waarop state weer die nodige fondse vir hulleself probeer verkry, is om eiendom te steel en fisiek meer geld te druk.”

Lamberti sê een van die maniere waarop die nasionalisering kan plaasvind, is die wyse waarop dit in Venezuela en Zimbabwe gebeur het.

“Die Reserwebank is volledig gekaap en word net gebruik om die regerende party se politieke belange te finansier. Geld sal in hierdie geval gedruk word om die regering se staatskuld te delg, regeringsprojekte te finansier en staatsamptenare se salarisse te betaal.”

Volgens Lamberti is dit ongelukkig ook die manier waarop ʼn land die vinnigste sy geldeenheid en sy ekonomie verwoes. “Dit stuur altyd af op hiperinflasie en massa-emigrasie uit die land.”

Die tweede scenario is meer gematig en Lamberti glo dit is die roete wat pres. Cyril Ramaphosa, Tito Mboweni, minister van finansies, en Lesetja Kganyago, die goewerneur van die Reserwebank, eerder sal volg as daar iets drasties gedoen moet word.

“Hier sal die regering ʼn staatsbank die lisensie gee om met beperkte reserwes geld te skep deur geld uit te leen. Dit word in die algemeen beskou as ʼn meer gerespekteerde wyse om meer geld te maak. Hierdie scenario kan ongelukkig ook misbruik word en ons het dit dan ook met VBS Bank sien gebeur.”

Lamberti sê die derde scenario is waar daar niks drasties met die Reserwebank gedoen word nie, maar dié bank se verdraagsaamheid vir inflasie word vergroot.

“Die teiken vir inflasie is tans 4,5%, maar dit kan byvoorbeeld verander word na 7% of selfs 9%. Suid-Afrika se bankstelsel word toegelaat om normaalweg voort te gaan, maar ons verlaag rentekoerse verder as wat dit eintlik moet verlaag.

“Daar is egter ook nadele aan hierdie scenario verbonde, want dit kan talle onvolhoubare siklusse vir sakeondernemings skep, maar dit is nie naastenby so erg of drasties soos die eerste toekomsblik waar ons eenvoudig meer geld druk nie.”

Lamberti voeg by dat die Reserwebank nou een van die oorlogvelde is, waar ʼn stryd hom afspeel om die toekomstige politieke diskoers van Suid-Afrika.

“Mboweni en Kganyago het vasgeskop teen hierdie planne. Dit het my beïndruk, maar hulle is maar ʼn klein minderheid binne die ANC. Hulle het egter die steun van die burgerlike samelewing, redelike stemme in die finansiële sektor en die bankstelsel, asook die internasionale samelewing.

“Ek dink nie Suid-Afrika sal die eerste scenario, wat die slegste van die lot is, volg nie. Kganyago het ʼn sterk wil en daarom dink ek ook nie die land se inflasieteiken sal nou verhoog word nie. My bekommernis is egter oor wat verder in die toekoms gaan gebeur en hoe lank die situasie volgehou kan word.”

  • Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, het met Russel Lamberti van ETM Macro Advisors gesels oor kwantitatiewe verruiming en die moontlike scenario’s as die ANC die Reserwebank wil nasionaliseer. Lamberti sê die druk wat ʼn stagnante ekonomie op ʼn regering plaas, kan veroorsaak dat dit drastiese stappe wil doen om staatskuld te delg. Hy verduidelik na watter rooi vlae ons moet uitkyk en hoe ʼn mens jou sakeonderneming teen hierdie soort politieke risiko’s kan beskerm. Luister na die volledige onderhoud hier:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

John ·

… en die Sweet Six in Lethuli-huis sal besluit. In die era van Van Rooyen is daar gesè dat almal besef dat veranderinge bietjie skokkend sal wees, maar sake sal gou weer herstel…
Is dit steeds die gevoel of gebruik die slimmes nou ander tandepasta? En dan is daar die kwessie van ons goud. Het ons nog enige voorrade of is dit ook in Koebaai se laai. Destyds is beweer dat die beroemde vlug na die Ooste volgelaai was met sakke geld en stawe. Was die getuies onder verdowing of het hulle dit gesien. Ons sal weldra uitvind as ons tandartse kla dat goud ten duurste ingevoer moet word in ruil vir renosterhoring.

Lorette ·

Hoe gouer Ace Magashule die land verlaat, hoe beter vir Suid-Afrika. Die man loop orals en nonsens aanjaag. Kyk hoe lyk dit in Bloemfontein na sy termyn daar! Hoe meer geld gedruk word, hoe meer kan hy in sy sak steek, want ‘n manier sal hy kry om dit te doen! Hopenlik het die President meer verstand as om na hom te luister, hy is tog self ‘n sakeman en behoort te verstaan hoe dinge werk. Ek neem natuurlik vir die “agbare” Zuma kwalik vir dit waarmee ons nou sit.

Manie van Worcester ·

moenie die swyger onskuldig maak, as hy die land eerste stel sal hy ophou swyg en die regte dinge doen

Jaco ·

Uhm…ek dink ek gaan maar al my spaargeldjies onttrek, sommer hierdie week al en begin kruger rande koop, ek stel voor die wat wil agter bly in SA, doen dieselfde….

Andreas ·

Dis omdat kaders in beheer van die land is dat dit gaan soos dit gaan. Hulle is die mense wat in top poste is sonder kennis, maar dan laat hulle hul uit oor dinge soos die ekonomie en die reserwebank. Plaas dat Ace ‘n finansiële adviesdiens begin …. Ace Financial en Economic Solutions ….

Andreas ·

En sy eerste kliënt sal Zuma wees, tweede Dlamini, dan die res.

marous ·

Verstaan hulle gaan R200 note perforeer en aanmekaar heg . Dit sal net vir een doel gebruik kan word . Hou maar dop .

Dirk ·

Die ANC wil die Reserwebank nasionaliseer, inteendeel wil die ANC alle finansiele instellings nasionaliseer, net nie nou al nie. Hulle hoop eers op buitelandse investering.

Johanna Botha ·

Die land word deur uiters dom mense bestuur wat nie wil leer nie !

Jan ·

Nee julee is die dommies wat die land vir hulle gegee het ou suster…

Hanna Hoekom ·

“Pure ekonomiese onkunde” kan ook beskryf word as swart ekonomiese bemagtiging. Het die staat dan niks uit die VBS skandaal geleer nie of gee hul bloot net nie n duit om oor die dag van more nie? Zimbabwe, Venezuela… Wat kan nog steeds duister wees? Ek dink die konsep van selfverryking speel die hoofrol.

George in Bloem ·

Mens Ace om te dink op watter vlak die Rand sal verhandel indien chief tsotsie en sy tjommies hulle sin kry met die Reserwebank. Hallo Zim & Venezuela. Maar nou ja,om met die breindood spul te argumenteer is ‘n mors van tyd en asem. Hulle wil Monopoly speel en die bank wees. Lekker man lekker.Viva!

Jan ·

Julle is die oukies wat so dom was om nulle landvir hierdie spul te gee hehehe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.