Moord-intrige verdiep in hof

Zaheera Boomgaard, merkbaar maerder in die hof. (Foto: Susan Puren)

ʼn Vrou wat vir 20 jaar langs een van die beweerde slagoffers van Zaheera Boomgaard in Johannesburg gewoon het, het Dinsdag in die hof getuig hoe sy desperaat hospitale en verkeersowerhede in Pretoria gebel het nadat sy gehoor het haar buurvrou was glo in ʼn motorongeluk in die hoofstad betrokke.

Boomgaard word van die moord op drie mense, insluitend ʼn Britse burger, aangekla.

Die vrou, Mirka Yptis, wou die 72-jarige Lynette Mustapha opspoor om haar by te staan want sy het geweet dat Mustapha se laaste lewende familielid, haar suster Marlene, kort tevore dood is.

Yptis het in die Palm Ridge-streekhof getuig hoe sy by Mustapha se tuinier, Christopher Chidimba, gehoor het dat sy werkgewer hom gebel het om te sê dat sy in die hospitaal is. Toe Yptis terugskakel kon sy nie na die betrokke nommer, of na Mustapha se eie selfoon deurkom nie. Sy het later SMS-boodskappe gestuur, maar die antwoorde wat sy terug ontvang het, was vaag en die skrywer wou nie sê waar sy is of in watter hospitaal sy behandel word nie.

Toe Yptis se oproepe uiteindelik twee dae later beantwoord word, kon sy duidelik hoor dat dit nie haar buurvrou is met wie sy praat nie, maar die vrou (aan die ander kant van die lyn) het volgehou dat sy wel Mustapha is en slegs moeilik praat omdat haar kakebeen gebreek is.

Wat Yptis ten tyde van die oproep nie geweet het nie, was dat Mustapha se verbrande liggaam toe reeds vier dae vroeër langs ʼn pad in die Vaaldriehoek gevind is, maar nog nie uitgeken kon word nie en dat sy (Yptis) waarskynlik besig was om met haar buurvrou se moordenaar op die foon te praat.

Sy het wel besef dat alles nie pluis is nie en het die volgende dag ʼn klag by die Norwood-polisie gelê dat Mustapha vermis word. Kort daarna het Chidimba ʼn nota op Mustapha se tuinhek gevind waarin gevra word dat iemand wat daar woon met die polisie op De Deur kontak maak. Yptis het aan die hof gesê dat sy skepties was en eers by die Norwood-polisie navraag gedoen het of daar wel ʼn polisiestasie op De Deur is voordat sy hulle kontak.

Die volgende dag het ʼn motor in Mustapha se oprit stilgehou en Yptis het die vrou in die motor gevra of sy haar kon help. Die vrou het haarself as Zaza voorgestel en gesê dat sy ʼn ou vriendin van Mustapha is wat vir haar kom kuier het.

Terwyl hulle besig was om te gesels, het Chidimba ʼn oproep van die polisie ontvang wat gesê het dat Mustapha se liggaam gevind is. ʼn Ondersoekspan het kort daarna opgedaag om Mustapha se huis te deursoek.

Yptis het aan die hof gesê sy was bang en geskok oor die nuus en dat Zaza aanhoudend “I’m so sorry, I’m so sorry” uitgeroep het. Op ʼn vraag van die hof het Yptis die beskuldigde, Zaheera Boomgaard, uitgewys as die vrou wat sy as Zaza in die oprit van Mustapha se huis ontmoet het.

Die Brit Hari Nathvani. (Foto: Verskaf)

Sy het verder getuig dat Zaza, oftewel Boomgaard, aangebied het om Mustapha se liggaam by die lykshuis te gaan uitken en gevra dat Yptis haar vergesel. “God sal aan ons die krag gee,” het sy aan Yptis gesê om haar te oortuig om saam te gaan, maar Yptis het geweier. Die lyk is later deur ʼn priester uitgeken.

Volgens Yptis se getuienis het Boomgaard daarna subtiel probeer om Chidimba ʼn verdagte in Mustapha se moord te maak. Boomgaard het ook dadelik aan haar gesê dat sy die eksekuteur van Mustapha se boedel is en wou weet of daar geld beskikbaar is om die begrafnis te reël.

Die bekende gospelsanger Deborah Fraser het Maandag ook in trane getuig dat sy op Mustapha se smeulende lyk afgekom het toe sy ondersoek ingestel het na ʼn brand by haar kleinhoewe in die De Deur-omgewing. Sy het aan die hof gesê dat die vrou wat gebrand het dalk steeds gelewe het toe sy daar in die veld gegooi is omdat daar tekens was dat sy beweeg het.

Mustapha is soos Boomgaard se ander beweerde slagoffer, die Brit Hari Nathvani, met ʼn plastieksak oor die kop en toue om die nek aangetref. Nathvani was onherkenbaar verkool en kon eers maande later aan DNS en tandheelkundige rekords uitgeken word. Boomgaard se derde beweerde slagoffer, John Naisby, se liggaam is nooit gevind nie. Boomgaard is in 2013 aan bedrog skuldig bevind nadat sy Naisby se bankkaarte onregmatig gebruik het. Sy is destyds tot korrektiewe toesig gevonnis.

Die saak word Donderdag voortgesit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SomeOne ·

die prentjie hier van haar is heeltemal die teenoorgestelde van al die ander fotos van haar, mm, is jul seker die prentjie is van boomgaard

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.