Verhoor oor Brit se moord in SA begin

Zaheera Boomgaard

Zaheera Boomgaard, wat onder meer daarvan beskuldig is dat sy ʼn Britse burger vermoor het, se verhoor het Dinsdag in die Palm Ridge-streekhof begin. Sy het skuld ontken op 56 aanklagte, waaronder drie van moord, twee van roof met verswarende omstandighede en meer as 50 van bedrog en diefstal.

Boomgaard (61) is in 2020 in hegtenis geneem. Sy is reeds 16 maande in aanhouding en het nooit om borgtog aansoek gedoen nie. Familielede van die vermoorde Hari Nathvani, een van haar beweerde slagoffers, en ʼn verteenwoordiger van die Britse ambassade het Dinsdag die saak bygewoon.

Boomgaard, ʼn inwoner van Randburg, word moontlik met die moord of verdwyning van minstens sewe mense verbind, waaronder die moord op Nathvani, ʼn Britse burger wat haar in 2019 op ʼn afspraak-webwerf ontmoet het.

Nathvani (71) se verbrande liggaam is in Maart 2020 langs ʼn pad in die De Deur-omgewing gevind. Hy was op besoek in Suid-Afrika en sy bekommerde familie in Engeland het hom aanvanklik as vermis aangemeld toe hulle kontak met hom verloor het. Hy is eers maande later aan sy tandheelkundige rekords uitgeken.

Die lyk van Boomgaard se vriendin, Lynette Mustapha, is in Augustus 2020 in soortgelyke omstandighede in dieselfde omgewing gevind. In albei gevalle was swart plastieksakke oor die slagoffers se koppe getrek en met toue om hul nekke vasgebind. Hul liggame is daarna aan die brand gesteek.

Harkant Nathvani se verkoolde liggaam kon slegs aan sy tande uitgeken word

Die derde moordklag spruit voort uit die verdwyning in 2012 van John Naisby. Die 83-jarige Naisby het Boomgaard, wat destyds die van Wookey gebruik het, ook op ʼn afspraak-webwerf ontmoet. Hy het van Kaapstad af gevlieg om haar in Johannesburg te besoek en is die laaste keer op kringtelevisie by die OR Tambo-lughawe gesien toe hy saam met Boomgaard deur die aankomssaal gestap het.

Die staat voer verder aan dat Boomgaard haar slagoffers se bank- en kredietkaarte onregmatig gebruik het en ook die testament van die suster van haar laaste slagoffer vervals het. Boomgaard het na bewering haarself as wyle Marlene Mustapha se enigste erfgenaam benoem, nadat sy Marlene se suster, Lynette Mustapha, vermoor het.

Maroela Media het in 2020, toe Boomgaard in hegtenis geneem is, berig dat sy reeds voorheen aan bedrog skuldig bevind is, nadat sy die vermiste Naisby se bankkaarte gebruik het. Sy is in 2014 tot vier jaar korrektiewe toesig gevonnis, maar nie van Naisby se moord aangekla nie omdat daar nie genoegsame bewyse was nie. Naisby is intussen dood verklaar hoewel sy liggaam nooit gevind is nie.

Die saak word Woensdag hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JM ·

Suid-Afrika: moord-hoofstad van die wêreld. Afgryslik! Mag sy die swaarste straf moontlik kry.

Jaco ·

Goeie vraag Maritza want in SA is dit definitief nie “what’s good for the goose is good for the gander” nie…

Perdeby ·

Dis hoekom ek sê bly WEG van internet dating dis ‘n baie groot kans wat jy vat met jou lewe.

Misky ·

Voeg nog ‘n oortreding tot die klagstaat vir daai wenkbroue asb

SomeOne ·

hoop dat haar sel net een sleutel sal hê, en dat die nooit weer gevind sal word nadat sy toegesluit is

Alfred E Neuman ·

Magtig, maar dit is n bose vrou. Moet verseker n gesertifiseerde psigopaat wees. Sluit haar vir altyd toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.