Moord op veearts: ‘Dit was beplan’

Dr. Corli van der Walt (Foto: Verskaf)

Dr. Corli van der Walt (43), ’n veearts van Krugersdorp wat in Junie vanjaar vermoor is, se verloofde glo haar moordenaar moes weke voor haar dood reeds oor die moord besluit het.

Corli was Saterdag 12 Junie op pad werk toe, toe sy minder as ’n kilometer van haar huis koelbloedig doodgeskiet is. Haar liggaam is met verskeie skietwonde in haar motor gevind.

Die moordenaar is steeds op vrye voet. Die polisie vra nou dat lede van die gemeenskap na vore kom indien hulle inligting het rakende die bestuurder van ’n wit Isuzu-bakkie wat met die moord verbind word.

Intussen het die gebeure van vyf maande gelede die lewe van Van der Walt se verloofde onherroeplik verander en onthou hy dit nog soos gister.

Ferdi Kruger vertel Van der Walt was nie van plan om dié Saterdag – die dag van haar moord – te werk nie, aangesien hulle een van haar tienerdogters se verjaarsdag later die dag sou vier. Sy het hom egter die Woensdag meegedeel dat sy ongelukkig daardie naweek moes werk.

“Wie ook al die sneller getrek het, moes tussen die Woensdag en Saterdag vasgestel het dat sy moet werk,” vermoed Kruger.

Die polisie is op soek na inligting om die bestuurder van dié bakkie te identifiseer. (Foto: Verskaf)

Volgens die polisie se inligting het Van der Walt se moordenaar haar Saterdag vanaf omstreeks 06:00 in ’n wit Isuzu-bakkie om die hoek sowat 100 m van die paartjie se huis ingewag.

Kruger sê Van der Walt is omstreeks 08:10 by die huis weg. Sy het hom gevra om haar dogters later te vat om hul hare en naels te laat versorg vir die verjaarsdagviering.

Die bakkie het Van der Walt se motor agternagesit en sy is vermoedelik minute later by ’n T-aansluiting sowat 500 m van die huis doodgeskiet.

Terwyl sy verloofde vermoor is, het ’n niksvermoedende Kruger op die bank gaan lê om ’n fliek te kyk en eers later opgemerk dat hy tien oproepe misgeloop het.

“Ek het die nommer van die laaste oproep teruggebel. Dit was my voormalige buurman. Hy het gesê ek moet dadelik die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) bel. Dit is in verband met Corli.”

Die GPF het Ferdi aangesê om hom na Bellstraat te haas. Met sy aankoms was daar reeds ’n ambulans en die toneel was toegespan.

‘Toe crash ek’

Ferdi Kruger en Corli van der Walt. (Foto: Verskaf)

Kruger onthou dat hy stilgehou en Corli se motor opgemerk het. “Haar voet moes nog op die rem gewees het, want die remlig was aan. Ek het eers vermoed dat sy dalk ’n hartaanval gehad het en dat hulle haar help.”

Hy vertel toe hy nader stap, het iemand op die toneel hom voorgekeer en aangesê om liewer nie te gaan kyk nie. “Jy vra heeltyd wat gebeur het en wat aangaan, maar niemand kan óf wil vir jou sê nie.”

Hy onthou dat ’n lid van die GPF eindelik vir hom gesê het dat Corli dood is. Hy het egter eers later gehoor hoe sy dood is toe ’n polisiebeampte by hom op die toneel gaan kniel het.

“Hy het gesê Corli is geskiet. Ek het eers gedink dit was ’n kaping. Toe sê hy: ‘Nee, dit was moord. Iemand het haar gehaat …’”

“Toe crash ek,” vertel Kruger.

“Dit was asof ek daarna in ’n twilight zone was. Ek kon nie ophou huil nie. Dit was so ʼn verskriklike skok gewees.”

Hy is later huis toe om die tyding met haar twee kinders te deel. “Ek was in ’n dwaal gewees. Ons het vir Corli die week daarna begrawe.”

Die polisie is op soek na inligting om die bestuurder van dié bakkie te identifiseer. (Foto: Verskaf)

Kruger meen Van der Walt moes weke voor haar dood ’n voorgevoel gehad het dat iets met haar gaan gebeur. “Sy het drie weke voor die voorval vir my gesê sy weet nie wat aangaan nie, maar sy droom sy sien haarself dood in haar motor, maar sy kan nie haar gesig sien nie.” Corli is in die kop geskiet.

Kruger glo die moordenaar het in dié tyd besluit om haar te vermoor en daar was geen omdraaikans meer nie.

Volgens Kruger sal hy berusting kan vind wanneer die “wie, wat en waarom” duidelik word en Van der Walt se moordenaar tot verantwoording geroep word.

“Ek het dit nodig om haar verlies te verwerk, maar ek moet ook verwerk dat iemand haar lewe geneem het. Ek staan soveel tyd daaraan af om te wonder waarom hulle dit gedoen het …”

Die polisie het reeds die wit Isuzu-bakkie en die eienaar daarvan opgespoor. Die bakkie het egter die dag van die moord vervalste nommerplate opgehad en die verdagte is steeds op vrye voet.

Die polisie doen nou ’n dringende beroep op lede van die publiek om met enige inligting rakende die bestuurder van die bakkie op die betrokke dag van die moord na vore te kom.

Inligting kan by die ondersoekbeampte, sers. Masongane by 081 253 1071, óf AO Drotsky wat tans help met die saak by 081 476 9484 aangemeld word. Die polisie sê lesers kan Maroela Media ook by [email protected] laat weet indien hulle inligting het wat met die ondersoek kan help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

miavos ·

En daarom was ek nog al die jare na my egskeiding nog nooit weer by enige man betrokke nie. Dis n nes van kompleksiteit en van komplotte om uit komplekse situasies te ontsnap.

Magda ·

Arresteer die eienaar van die bakkie. Hou hom in die tronk tot hy se wie sy bakkie gebruik het daai dag. Maar ja ons polisie weet nie hoe om hul werk te doen nie.

Elmarie ·

Wel ‘n dowwe foto maar ek is seker die polisie kan met die regte kundiges genoegsaam die registrasie kry. Daar is beslis tegnologie om naby genoeg aan die registrasie te kom al is dit hoe dof. Regtigwaar doen hulle nie moeite om die beste kundiges in te kry nie?

Toetsie ·

Regte tegnologie deur kundiges kan ook daardie man beter identifiseer!

Vicky ·

Apparently is dit “vervalste nommerplate”…
Nou waar is dit geprint? As hulle weet dis vervals,moet hulle weet waar dit vandaan kom.

Di ·

“You can run but you cannot hide” Die waarheid sal wel uitkom en die skuldige sal vasgetrek word. Die lewe loop snaakse draaie met mens. Hoop hulle vang hierdie lafaard binnekort, hy het baie mense se lewens verwoes.

Linx ·

Die wit Isuzu is opgespoor en die eienaar? Die voertuig het vals registrasie nr op dai dag gehad,so n ander wit Isuzu bakkie is opgespoor want as dit d spesifieke moord Isuzu was moes d eienaar mos Al toegesluit was,want die voertuig was gebruik in commission of a crime,hy moet mos clarity gee rondom wie d bakkie gebruik het daardie dag,of lees ek verkeerd

Mariaan ·

Hmmmm..weer n slang in die gras..
Iets is nie pluis…hou maar die verdagte n verdagte…waarheid gaan uitkom

Mariaan ·

Foto nie so onduidelik..komaan speurders! Kry tegnologie om daai gesig uit te ken..kom kom..! As dit oorsee was..was hy lankal agter tralies

Danie ·

“Die polisie het reeds die wit Isuzu-bakkie en die eienaar daarvan opgespoor. ”
Goeie werk maar nou?
Hoekom volg hulle nie op met die eienaar nie?
Sy bakkie sleutels loop sekerlik nie vanself by die deur uit nie.

Anna ·

Magda en Elmarie in die berig staan daar die nommer plate is vervals. Dit is regtig so hartseer hoeveel vrouens deesdae vermoor word. Sterkte an haar Man, kinders en res van die Familie. Ek hoop regtig hulle kry die persoon wat dit gedoen het en hulle kry antwoorde hkm dit gedoen is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.