Moordverdagte vir waarneming gestuur

Foto ter illustrasie. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Die familie van die tienjarige Lihle Zenzile moet nou nóg ʼn maand wag voordat hul dogter se vermeende moordenaar weer in die hof sal verskyn. Dit is omdat Ayabulela Zenzile, Lihle se neef, eers vir sielkundige waarneming gestuur moet word.

Hy moet op 17 November weer in die hof verskyn. Action SA het die “gebroke gesin” Dinsdag by die Paarl-streekshof bygestaan. Lihle se gesin het die organisasie vroeër vanjaar om bystand genader om te verseker reg en geregtigheid geskied.

Maroela Media het vroeër berig die meisie is in Januarie vanjaar vermoedelik deur haar neef, Ayabulela Zenzile, vermoor. Die verdagte het ten tyde van haar moord by Lihle en haar ouers in die Paarl gewoon.

Hy het haar liggaam na bewering in ʼn trommel onder haar ouers se bed versteek nadat hy haar doodgewurg het.

Die 18-jarige verdagte het homself op dieselfde dag aan die polisie oorgegee en vir hulle die trommel gewys waarin hy haar lyk versteek het.

“Ek kan nie glo dat my kind weg is nie. Ek het twee familielede verloor, wat vir my hartverskeurend is,” het Julia, Lihle se ma, kort ná haar dogter se dood gesê.

Action Society sê hy deel die frustrasie van Lihle se familie.

Kaylynn Palm, woordvoerder van Action Society, sê kinders word elke dag teen ʼn aansienlike tempo in Suid-Afrika vermoor, “maar ons gebroke regstelsel en polisie is te treurig om op te tree; hulle vertraag net geregtigheid”.

“Hierdie onskuldige kinders word doodeenvoudig net nog ʼn regmerkie op ʼn statistiese blad, wat elke dag net langer word.

“Tussen April en Junie vanjaar is 293 kinders vermoor. Dit is 98 per maand en drie per dag. Dit is ʼn pandemie in Suid-Afrika en ons moet dit beëindig,” sê Palm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karoo ·

Simpatie aan die Ouers en Familie, ons lewe in tye wat my benoud maak, oral slaan daar net geweld deur. Mag daar geregtigheid en verlosing vir die Ouers van hierdie joung dogtertjie wees.

Bolandse Nooi ·

Dis vir my net eienaardig – eintlik lagwekkend en terselfdertyd hartseer! – hoe politieke partye nóú, so kort voor die verkiesing volgende jaar, almal op die “bandwagon” spring met gevalle soos hierdie, om ‘die gesin in hul rou’ by te staan en om ‘hulp te verleen aan diegene wat dit die nodigste het’. Alles net om “brownie points” aan te teken t.w.v. die verkiesing. Volgende jaar, ná die verkiesing, is dit net “poof” en dan is al hul hartstogtelike beloftes daarmee heen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.