Mosselbaai beveg hondsdolheid

Ronnie Kwinda, dieregesondheidstegnikus, maak vriende met ‘n hond in Mosselbaai. (Foto: Verskaf)

Die Wes-Kaapse departement van landbou se veeartsenydienste het oor die afgelope tien dae ʼn hondsdolheid-inentingsveldtog in die Mosselbaai-omgewing gehou. Die veldtog het gefokus op minderbevoorregte gemeenskappe waar diere nie noodwendig vir voorkomende behandeling na private veeartsenyklinieke geneem word nie.

Tydens hierdie veldtogte ry die staatsamptenare deur die gebiede en ent gesonde honde en katte vanaf drie maande oud in. Dit is ʼn gratis diens en troeteldiereienaars bring hul diere vrywillig om ingeënt te word.

“Hondsdolheid is ʼn ernstige virussiekte wat nie net diere aantas nie, maar ook na mense versprei kan word. Hierdie siekte is voorkombaar met inenting,” sê dr. Leana Janse van Rensburg, staatsveearts op George.

Hondsdolheid tas die brein aan en veroorsaak in 100% van die gevalle verwarring, epileptiese aanvalle, spierverlamming en die dood. Buiten troeteldiere kan dit ook wilde diere soos vlermuise, jakkalse en muishonde, asook vee aantas. ʼn Besmette dier kan ʼn mens of ander dierespesie besmet deur dit te byt, lek of krap.

Janse van Rensburg sê daar het sedert verlede jaar ʼn oplewing in uitbrekings van hondsdolheid in die Oos-Kaap voorgekom en daar bestaan ʼn vrees dat dit kan versprei. Die Wêreldorganisasie vir dieregesondheid het verlede jaar saam met die Voedsel en landbou-organisasie van die Verenigde Nasies ʼn wêreldwye veldtog van stapel gestuur om menslike sterftes weens hondsdolheid teen 2030 te beëindig.

 

Felicity Smith, dieregesondheidstegnikus; Ronnie Kwinda, dieregesondheidstegnikus; dr Naomi Wolfaardt, gemeenskapsveearts en Rebecca Mabula, dieregesondheidstegnikus het die strate ingevaar om Mosselbaai se troeteldiere teen hondsdolheid in te ent. (Foto: Verskaf)

 

“Om die verspreiding van hondsdolheid by honde in die Wes-Kaap te voorkom, beoog ons om inenting van minstens 70% van die bevolking te bewerkstellig,” sê sy.

Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR van landbou, het in kommentaar op die veldtog gesê: “Die veiligheid van ons gemeenskappe is ʼn prioriteit vir die Wes-Kaapse regering. Die inenting van troeteldiere soos honde en katte is daarop gemik om diere en mense te beskerm teen besmetting deur die siekte.

“Verlede jaar het Wes-Kaapse veeartsenydienste 139 580 katte en honde teen hondsdolheid ingeënt. Gesonde diere en veilige gemeenskappe sal lei tot verbeterde voedselsekerheid en veiligheid,” sê hy.

Meyer het troeteldiereienaars aangemoedig om hier meer oor hondsdolheid te wete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Charles ·

Die woord “beveg” is “cringe”. Mens hanteer of doen iets oor n saak of nie.

Delia ·

Daai hond op die foto…my bloed kook. Vasgemaak met n ketting aan n draad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.