Twee vermeende voertuigdiewe is in hegtenis geneem nadat hulle tydens ʼn hoëspoedjaagtog met twee polisievoertuie gebots het.
Kol. Thembeka Mbhele, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse polisie, het gesê ʼn motor is Dinsdagmiddag in KwaMakhutha naby Amanzimtoti gesteel.
Die polisie se provinsiale taakspan en Durban-Sentraal se honde-eenheid het die verdagtes in die gesteelde motor omstreeks 15:30 opgespoor en hulle agternagesit.
Die verdagtes het in Dumisani Makhaye-rylaan teen aankomende verkeer ingejaag en teen twee polisievoertuie gebots voordat dit die pad verlaat en ʼn lamppaal getref het.
“Die verdagtes het uitgespring en te voet gevlug terwyl hulle op die polisiebeamptes geskiet het,” het Mbhele gesê.
“Die polisie het teruggeskiet en twee verdagtes is in hegtenis geneem. ʼn 9 mm-pistool en ammunisie is op die toneel gevind.”
Volgens Mbhele het die verdagtes en ʼn polisiebeampte beserings in die botsing opgedoen, maar niemand is tydens die skietgeveg gewond nie. Die beseerdes is almal na ʼn hospitaal geneem.
Die verdagtes sal binnekort in die Ntuzuma-landdroshof verskyn op aanklagte van besit van ʼn gesteelde voertuig, besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en poging tot moord.
Goed gedaan SAPS!!! Trots op julle SAPS!