Motorfietsryer ernstig beseer in ongeluk op N1

Die motorfietsryer is met ’n Netcare 911-helikopter na ’n hospitaal geneem. (Foto: Emer-G-Med)

’n Motorfietsryer is Saterdagoggend per helikopter na ’n hospitaal geneem nadat hy in ’n ongeluk op die N1 naby die Rigel-afrit in Pretoria-Oos beseer is.

Emer-G-Med is na die toneel ontbied en het met hul aankoms die beseerde man in die pad aangetref.

Volgens Kyle van Reenen, woordvoerder van Emer-G-Med, het die man ernstige beserings opgedoen.

Die motorfietsryer is ongeveer 60 jaar oud.

“Paramedici het vinnig gewerk om die man van gevorderde lewensondersteuning te voorsien om hom te stabiliseer voordat die besluit geneem is om hom met ’n Netcare 911-helikopter na ’n gespesialiseerde fasiliteit te vervoer.”

Die presiese omstandighede van die ongeluk is nog onbekend.

’n Motoris wat verby die ongelukstoneel gery het, het aan Maroela Media gesê dit het gelyk of die man ’n ernstige besering aan sy bobeen opgedoen het. Verskeie motorfietsryers het ook op die toneel om die beseerde man saamgedrom.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.