Motoris sterf toe voertuig rotswand tref

Hidrouliese gereedskap is gebruik om die insittendes uit die voertuig te bevry. (Foto: Verskaf)

ʼn Motoris is vroeg Dinsdagaand in Durban dood aangetref nadat sy motor ʼn rotswand getref het.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê paramedici het om 18:15 ʼn oproep ontvang van ʼn ongeluk op Dumisane Makhaye-rylaan in KwaDabeka in die weste van Durban.

Volgens ooggetuies het ʼn bestuurder beheer oor sy motor verloor en teen ʼn rotswand aan die kant van die pad vasgery.

“Paramedici het by hul aankoms op die toneel ʼn motor met vier mans daarin aangetref,” sê Herbst.

“ʼn Netcare 911-reddingstegnikus het saam met die Ethekwini-brandweer- en -reddingsdienste hidrouliese gereedskap gebruik om die insittendes uit die voertuig te bevry.”

Die bestuurder van die motor, ʼn volwasse man, is egter op die toneel dood verklaar.

Die ander drie insittendes, ook volwasse mans, het die ongeluk oorleef, maar het ernstige beserings opgedoen.

“Die pasiënte is op die toneel gestabiliseer voordat hulle na ʼn hospitaal geneem is vir behandeling.”

Die omstandighede rondom die ongeluk is nie in hierdie stadium bekend nie, maar die plaaslike polisie was op die toneel en ondersoek die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Christine ·

Klink of hulle weggejaag het. Spoed is maar die oorsaak wanneer mens beheer verloor van jou motor. Duur les om te leer. Bestuurders moet meer verantwoordelik bustuur, maar ja, ons paaie met al die gekoopte lisensies, is ‘n bloedbad.

Yvonne ·

Ek is nie n kenner nie maar die inpak lyk na n hengse spoed….ai tog

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.