Motoriste gewaarsku oor swaar verkeer

(Argieffoto)

Die N3-tolkonsessie (N3TC) het diegene wat die langpad die langnaweek aanpak, gewaarsku om hul reis met ekstra omsigtigheid te beplan omdat baie druk verkeer die naweek op die N3 verwag word. Afgesien van swaar verkeer in spitsverkeertye, kan verkeersopeenhopings by tolhekke verdere vertragings op die pad veroorsaak.

Spitsverkeertye op die N3-roete word Donderdag tussen 15:00 en 18:00, Vrydag tussen 09:00 en 12:00, asook Maandag tussen 12:00 en 18:00 verwag. Druk verkeer word Donderdag en Vrydag veral in ʼn suidelike rigting en Maandag in ʼn noordelike rigting verwag.

Tydens spitstye kan verkeer met meer as 2 500 voertuie per uur in die rigting van KwaZulu-Natal en 3 500 voertuie per uur in die rigting van Gauteng toeneem.

“Indien dit enigsins moontlik is, word motoriste aangeraai om hul reise buite spitstye te beplan. Laat ook bykomende reistyd toe vir moontlike noodgevalle en vertragings,” sê Thania Dhoogra, bedryfsbestuurder van N3TC.

Nood- en wetstoepassingsdienste sal van Donderdag tot Maandag op gereedheidsgrondslag geplaas word.

Volgens Dhoogra gaan satellietstasies die naweek strategies langs die N3-tolroete opgerig word, wat as basis vir wetstoepassing, padverkeersbestuur en nooddienste sal dien.

“Hierdie tydelike satellietstasies vir padveiligheid en wetstoepassing maak voorsiening vir ’n vinnige reaksietyd op enige noodgevalle wat langs die roete kan ontstaan.”

Ongelukke weens menslike foute

Luidens die N3TC se ongelukstatistieke van 2022, het die meeste ongelukke plaasgevind weens menslike foute, hetsy roekelose of nalatige bestuur, gebrek aan konsentrasie of die oorskryding van die spoedgrens.

“In 2022 is 77% van alle ligtemotorvoertuigongelukke op die N3-tolroete deur menslike foute veroorsaak, vergeleke met 73% in 2021. In dieselfde tydperk het 85% van alle vragmotorongelukke weens menslike foute plaasgevind. Dit is ’n toename van die 80% in vragmotorongelukke wat in 2021 deur menslike foute veroorsaak is.”

Die totale getal sterftes weens ongelukke op die N3-tolroete het in 2022 met 19% afgeneem. Die algehele getal ongelukke wat ernstige – dikwels lewensveranderende – beserings tot gevolg gehad het, het egter met 28% toegeneem.

Op ’n positiewe noot, dit blyk dat bestuurders meer verantwoordelik is tydens swak weerstoestande, met net 17,5% van alle ongelukke wat verlede jaar tydens swak weerstoestande plaasgevind het, teenoor 22,2% van ongelukke in 2021.

Toenemende vragmotorverkeer stel uitdagings

Vragmotors maak ongeveer 44% van alle voertuie uit wat daagliks op die N3-tolroete ry, met ’n jaarlikse groei van tussen 8% en 10% in swaarvoertuigverkeer wat die afgelope dekade aangeteken is. Dit is hoofsaaklik te wyte aan die vervoer van vragte, veral grootmaatprodukte, wat toenemende padlangs eerder as deur middel van die spoorlyn vervoer word.

“Padgebruikers word gewaarsku om nie ’n beduidende afname in vragmotorverkeer gedurende vakansietye te verwag nie en om voorsiening te maak vir swaar voertuie wat stadiger op die paaie ry en tot die algemene verkeersopeenhoping kan bydra.”

In 2022 was vragmotors betrokke by 57,3% van alle ongelukke op die N3-tolroete, terwyl daar in 53,1% van alle ongelukke in 2021 swaarvoertuie betrokke was. Hierdie toename in vragmotorongelukke korreleer met die bestendige groei in swaarvoertuigverkeer op die N3-tolroete.

“Alhoewel die getal noodlottige swaarvoertuigongelukke van 52,2% in 2021 tot 45,1% in 2022 afgeneem het, bly die erns van ongelukke waarby vragmotors betrokke is, ’n groot bekommernis.”

Dhoogra vra motoriste om ten alle tye aan die verkeersmaatreëls te voldoen om veilig by hul bestemmings aan te kom.

“Motoriste moet getrou by die spoedbeperkings hou en ’n veilige volgafstand hou, en ook gereeld (omtrent elke 200 km) blaaskanse by motorhawens langs die pad neem.”

Enige probleme op die N3 kan by die 24-uur-hulplyn aangemeld word by 0800 63 4357. Volg ook die N3-tolkonsessie op Twitter (@N3Route) vir die jongste verkeersinligting op dié roete.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JohanR ·

Sal nooit weer oor die paas naweek lang reis nie, na die familie amper dood was op pad Tzaneen toe deur Pierterburg nog daai tyd, met al daai karre en busse op pad Zion toe. Nee dankie. As ‘n bus op jou afpeil met spoed, dan los jy net bruin in jou sitplek!

Jaco ·

Wat dan nou van die ekonomiese resessie, rommelstatus, gryslys en stygende pryse van alles?

Perdeby ·

wat het dit met die verkeer te doen? Busse en taxi gee nie om oor die brandstofpryse nie.

Perdeby ·

Dit is mos maar algemene kennis. Enige langnaweek behoort aan busse en taxi’s

Niklaas ·

Met al ons kinders uit die huis , is dit nou makliker om tuis laag te lê. Die verkeer , mense massas en hoë verblyf pryse vermy ek maar eerder. Maar ek hoop almal se reis is veilig en ongeluksvry.

TruthDealer ·

Ja ek sou ook gaan vakansie hou eerder oor die “tail end” vd somer seisoen of end April, Mei, daar rond. I don’t like crowds. En ek sou KZN toe, Kaapstad is eenvoudig te duur. Ek weier om die belaglike pryse vir verblyf daar te betaal.

Eugene ·

Lang naweke is ek en my familie by ons huis, vernaam paas naweek. Daar is sommige kulture wat dink die paaie behoort aan hulle. Daars geen Respek vir Ander se lewens nie. Nou die paas naweek, is ons veilig by ons huis.

TruthDealer ·

Beste so. Die verste wat ons gaan ry is 8km om by my jongste dogter te braai. Res vd tyd tuis. Miskien kry ek dit selfs reg om in te haal op heelwat dinge waarby ek net nooit uitkom nie.

Eugene ·

Daai 24 uur hulp lyn nommer, werk nie. Dis lang naweek, hulle Antwoord nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.