Motoriste gewaarsku oor verkeer, padwerk oor Paastyd

(Argieffoto)

Die N3-tolkonsessie (N3TC) het diegene wat die langpad die langnaweek aanpak, gewaarsku om hul reis met ekstra omsigtigheid te beplan omdat baie druk verkeer die naweek op die N3 verwag word. Afgesien van swaar verkeer in spitsverkeertye kan verkeersopeenhopings by tolhekke verdere vertragings op die pad veroorsaak.

Spitsverkeertye op die N3-roete word Donderdag tussen 15:00 en 21:00, Vrydag tussen 09:00 en 12:00, asook Maandag tussen 09:00 en 18:00 verwag. Druk verkeer word Donderdag en Vrydag veral in ʼn suidelike rigting en Maandag in ʼn noordelike rigting verwag.

Tydens spitstye kan verkeer met tot meer as 2 500 voertuie per uur in die rigting van KwaZulu-Natal en 3 500 voertuie per uur in die rigting van Gauteng toeneem.

“Indien dit enigsins moontlik is, word motoriste aangeraai om hul reise buite spitstye te beplan,” sê Thania Dhoogra, bedryfsbestuurder van N3TC.

Nood- en wetstoepassingsdienste staan gereed

Nood- en wetstoepassingsdienste sal van Donderdag tot Maandag op gereedheidsgrondslag geplaas word.

Dhoogra sê N3TC werk saam met die nodige wetstoepassingsagentskappe, nood- en mediese dienste, padveiligheidsowerhede, drankowerhede en wegsleepdienste om hul vermoë om ondersteuning aan padgebruikers te bied, te verbeter en te verseker dat hulle aan die nodige veiligheidsmaatreëls voldoen.

Mediese dienste met lewensondersteuningseenhede sal op strategiese punte langs die roete gereed staan. Helikopterambulanse sal ook digby die N3 by hul basis op gereedheidsgrondslag geplaas word. Vrywilligers van verskillende humanitêre groepe sal beskikbaar wees om op groot ongelukstonele te help en die nodige ondersteuning ná ongelukke te bied.

Die N3TC se voorvalbestuursdienste sal vir toneelveiligheid vir die duur van die Paasnaweek ʼn toegewyde voertuig aan die bokant van die Van Reenen-pas beskikbaar stel.

Padwerk

Dhoogra waarsku motoriste dat noodpadwerk moontlike opeenhopings en vertragings op die N3-tolroete kan veroorsaak. Kontrakteurs werk al sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie om die pad op te knap. Padwerk is deur die Covid-19-pandemie en afsonderingstydperk beïnvloed en konstruksiespanne moet nou die verlore tyd inhaal.

Minstens twee noordelike en twee suidelike bane op die tolroete sal vir die langnaweek vir verkeer oopgestel wees. Sommige konstruksiegebiede word vir veiligheidsdoeleindes steeds vir verkeer gesluit.

Dhoogra vra motoriste om streng by die spoedbeperkings by konstruksiegedeeltes te hou en ag te slaan op waarskuwingstekens.

“Ons doen ʼn ernstige beroep op reisigers om deeglik vooruit te beplan en geduldig te wees wanneer hul reise vertraag word.”

Tolhekke teen maksimum kapasiteit

Alle N3-tolkonsessie-plazas sal teen maksimum kapasiteit funksioneer. Dhoogra waarsku motoriste dat verkeer Maandag in spitstye by tolhekke, veral in die rigting van Gauteng, kan ophoop. “Die Padverkeersinspektoraat kan egter opdrag gee dat spesiale maatreëls getref moet word om die verkeersvloei te bestuur om die opeenhopings en algemene veiligheid langs die roete te verbeter.”

Vir verhoogde mobiliteit en veiligheid word elektroniese etikette sterk aanbeveel en in alle bane by N3TC-tolhekke aanvaar. Alternatiewe betaalmetodes sluit kredietkaarte, vlootkaarte en kontant- of petrolkaarte in. Geen betalings met debietkaarte kan by enige van die tolplekke in Suid-Afrika gemaak word nie.

Dhoogra sê omdat die meeste ongelukke weens menslike foute of roekelose bestuur plaasvind, moet motoriste te alle tye die nodige voorsorgmaatreëls gehoorsaam om veilig by hul bestemmings aan te kom. “Padongelukke veroorsaak geweldige fisieke, emosionele en finansiële trauma, wat vermy kan word deur waaksaam op die pad te wees.

“Hou altyd by die spoedbeperkings, handhaaf ʼn veilige volgafstand en dra ʼn sitplekgordel. Moet nie nalatig of moeg bestuur nie. Moet ook onder geen omstandighede onder die invloed van alkohol agter die stuurwiel inklim nie.”

Enige probleme op die N3 kan by die 24-uur-hulplyn aangemeld word by 0800 63 4357. Volg ook die N3-tolkonsessie op Twitter (@N3Route) vir die jongste verkeersinligting op dié roete.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

VaalDonkie ·

is eintlik beter so. Minder kans vir jaaggatte om ander mense dood te maak.

koos10 ·

Onder die invloed bestuur is gister ‘n realiteit gemaak. Jy mag nie drank koop oor die naweek en by jou huis drink nie, maar jy mag in ‘n kroeg gaan sit en drink! Nou hoe moet jy by die huis kom? Loop of ry en beide is ewe gevaarlik as jy gedrink het.

Cindy ·

eintlik is daar ‘n derde opsie – moenie drink nie. Of as jy dan nou MOET drink, maak seker daar is “designated driver” soos ons maar altyd gemaak het in die ou dae….. Die reels is vertraag, ja, maar drink en bestuur is al baaaaie lank ‘n probleem, nie die alkohol verkope verbod wat dit gaan veroorsaak nie….

koos10 ·

Cindy, ek stem 100% saam, wat ek enitlik wil sê is dat die regering reëls afkondig sonder om bietjie logika toe te pas. Vir jou en my maak wat jy sê sin, maar nie vir our people nie.

Elsabe ·

Ja nee, kyk. Ek lag ook sommer terwyl ek jou kommentaar lees. Ek dink jy gaan voorgele word. Oppas.

Jaco ·

Druk verkeer oor Paasnaweek. Waars die ekonomiese resessie en rommelstatus en hoë petrolprys dan nou?

Bella ·

Sanral moet bietjie hul huis in orde kry. Hul e-tol hekke werk nie almal op die N3 Polokwane toe en terug nie. Dit het verkeer verskriklik laat ophoop met die gaan en terugkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.