Motshekga flous niemand oor Bela-wetgewing – AfriForum

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Jacky Watt/Unsplash)

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het die naweek volgehou dat die omstrede wysigingswetsontwerp op basiese onderwys, ook bekend as die Bela-wet, nie ʼn aanval op Afrikaanse skole is nie.

AfriForum is egter nie oortuig óf beïndruk nie. Die burgerregteorganisasie sê die omstrede wetsontwerp is ʼn aanslag spesifiek teen Afrikaanse skole en dat Motshekga net weer haar – en die ANC – se ware kleure gewys het.

Die minister het Sondag gesê die regering is “verby die stadium” van toegewings maak aan beheerliggame “ter wille van vrede in die land” en dat “’n selfrespekterende regering” nie kan toelaat dat ʼn skoolbeheerliggaam voorskryf wat ʼn skool se taal- of toelatingsbeleid mag wees nie.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, sê dit is duidelik dat die ANC daarop uit is om alle moontlike mag in sy hande te sentreer, geen idee het wat ʼn werklike demokrasie is nie, skole se beheerliggame as ʼn las eerder as die bate, wat dit in werklikheid is, beskou, en eentalige Engelse onderrig voorstaan.

Maroela Media het vroeër vandag berig volgens Motshekga is daar gevalle waar swart leerders weens ʼn skool se beheerliggaam nie toegang tot ʼn skool verkry nie, al woon die leerders op die skool se voorstoep.

Bailey sê die minister praat weer van die “mitiese kind” wat oorkant die skool woon.

“Die minister meen die kind moet kan aandring op Engelse onderrig, al is die skool Afrikaans. Sou dieselfde dan geld vir die Afrikaanse of Zoeloe-kind wat oorkant ʼn Engelse skool woon en op moedertaalonderrig aandring – veral omdat Motshekga enkele weke gelede kwansuis ʼn groot voorstander van moedertaalonderrig was?

“En wat van die laerskoolkind wat oorkant ʼn hoërskool woon, of oorkant ʼn skool wat nie die vakke aanbied wat hy wil neem nie? Net soos ouers bereid is om honderde kilometers af te lê of kinders in koshuise te plaas ter wille van onderrig in spesialisrigtings, is ouers bereid om honderde kilometers af te lê vir moedertaalonderrig.

“Motshekga se uitsprake maak dit duidelik dat net kinders wat Engelse onderrig verlang, in haar en haar party se oë regte het.”

Bailey sê die “selfrespekterende regering” waarvan Motshekga praat, het boonop min om op trots te wees.

Dieselfde beheerliggame en skoolgemeenskappe wat Motshekga slegsê, is diegene wat sorg dat die staat se skamele bydraes aangevul word sodat onderwysers in beheerliggaamposte aangestel kan word, behoeftige kinders ondersteun word, skoolterreine opgeknap en in stand gehou word en skole se ligte letterlik aan kan bly wanneer die staat nie munisipale diensterekeninge vereffen nie. As ons na dié sake en die uitslae van internasionale toetse soos PIRLS kyk, moet daar eerder van ʼn regering sonder selfrespek gepraat word.

Bailey hou vol dat die Bela-wetsontwerp ʼn aanslag spesifiek teen Afrikaanse skole is en dat die effek van die implementering daarvan, veel wyer sal uitkring.

“In Gauteng het ons reeds gesien dat selfs ook Engelsmedium skole gedreig word om hulle leerderinname dramaties te vergroot en ruimtes wat vir onder meer biblioteke, rekenaarsentrums en laboratoriums gebruik word, ook as klasse in te span. Saam met die vernietiging van Afrikaanse moedertaalonderrig en beëindiging van ander inheemse tale se aspirasies om ook meer geleenthede vir moedertaalonderrig te kan aanbied, sal die departement eenvoudig wanfunksionele skole aan hulle lot oorlaat en funksionele skole volstop ten einde kiesers te probeer tevrede hou.

“Bela is dus ook ʼn aanslag teen gehalteonderrig,” sê Bailey.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Verkeerd. Ons word maklik mislei. Glo almal en alles.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis wat die geskiedenis ons vertel Frank. Waarom is ons in die moeilikheid? Ons glo alles.

Cherokee ·

Nou hoef jy nie op my vorige kommentaar te reageer nie. Nou het jy dit duidelik gemaak wat jy bedoel. Ek is egter nie deel van die ‘ons’ waarvan jy praat nie. Ek is deel van die oorspronklike ‘Nee’ stemmers, wat nie skuldig voel oor die pad wat die land loop, want ons het nie bygedra daartoe nie.

Karoo ·

Nou ja… kom asb net aan die gang met die Bela, kom maak julle maak. Dalk veras hulle ons nog? Die kinders is almal reeds moedeloos, kyk net hoeveel self-dood gevalle was daar nie tot onlangs, daar is fytlik geen werk en hierdie gaan net meer kinders met kinders wees wat op sassa gaan moet staat maak.

Oom Charles ·

En as elke selfrespekterende skool sy eie oortuiging volg en voortgaan om hom soos voorheen toe te spits op wat reg is vir die skool en sy ingeskrewe skoliere – gaan Motshekga dan opdrag gee om alle ‘ongehoorsame’ skole te sluit?
As wette deurgeforseer word nadat die publiek se deelname geïgnoreer is, is dit myns insiens die gemeenskap se goeie reg om sulke wette te ignoreer.

Cherokee ·

Oom Charles, jou ‘myns insiens’ moet nie vergeet dat die onderwysers salarisse verdien wat deur ‘n regeringsorganisasie betaal word.

Piet ·

Antie Angie. Jy kan maar dans nes jy wil.
Was die moedertaalkwessie nie deel van die ’76 opstande nie?

annie ·

Gelukkig is ons edele minister se haardos darem eg en geloofbaar. Sy stem mens so rustig wanneer jy haar foto van nader bekyk; so haarself.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.