MRK ondersoek plasing van leerders in Gauteng

(Argieffoto: Unsplash)

Die Menseregtekommissie (MRK) se kantoor in Gauteng gaan verskeie kwessies betreffende die plasing van leerders in Gautengse skole ondersoek nadat die kommissie klagtes oor ongeplaaste leerders in die provinsie ontvang het.

Die MRK sê hy is bewus van ʼn “groot getal” ongeplaaste leerders in verskeie distrikte in Gauteng.

Die kommissie gaan nou onder meer die beweerde oortreding van kinders se reg tot basiese onderwys deur die Gautengse regering ondersoek.

Die kommissie gaan ook probeer vasstel of die Gautengse regering en die Gautengse LUR vir onderwys hul plig versuim het om te verseker daar is genoeg plekke in skole vir leerders in die provinsie.

Die MRK beplan ook om as deel van sy ondersoek ’n paar vrae oor die Gautengse departement van onderwys se aanlyn toelatingstelsel te vra en ’n oorsigbesoek aan Gautengse skole te doen om te bepaal of die skole hul volle kapasiteit benut.

Die kommissie gaan ook probeer vasstel hoeveel skole sedert 2019 in Gauteng gesluit is teenoor die aantal nuwe skole wat gebou is.

Die kommissie vra nou vir voorleggings van lede van die publiek om die ware omvang van die probleem te bepaal.

Die voorleggings kan via e-pos by [email protected] of via WhatsApp by 082 059 6520 aangemeld word.

“Die kommissie beoog om te verseker dat alle leerders in Gauteng in ’n skool geplaas word, ten spyte van aansienlike uitdagings, om te verseker dat voortgesette onderrig en leer plaasvind en dat die reg op basiese onderwys gehandhaaf word.”

Maroela Media het onlangs berig van Wian van Biljon (14) wat vir meer as ’n jaar lank gesukkel het om plek te kry in ’n skool aan die Oos-Rand. Skole hier is tot barstens toe vol.

Wian is maar een van talle Gautengse leerders wat moes hoor dat daar nie vir hulle plek in ’n skool is nie.

Die VF Plus skryf die alewige kopseer oor skoolplasings in Gauteng toe aan die Gautengse onderwysdepartement se “gebrekkige beplanning om genoeg skole in die provinsie te bou”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jack ·

Nee wat die MRK is net ‘n grap.Niks meer nie.Daar is niks om te ondersoek nie.Daar is nie genoeg skole nie.Eenvoudig soos dit.Gaan gesels met die persoon wat aan die hoof van onderwys is in Gauteng ” werk”

Manie ·

Toe dinge nog gewerk het, was ons verplig om ons kinders geografies te plaas, daar was nie ‘n keuse nie. Slegs in uitsonderlike gevalle kon ons motiveer hoekom ‘n kind in ‘n spesifieke skool geplaas moes word.( bv vakkeuse) Skole het eers die kinders in hulle gebied opgeneem en daarna kinders van buite. Dit het gewerk toe dinge nog gewerk het.

Andre ·

…die skole se geld gaan soek nuwe weiveld by die kaders.
Hulle moet eet!!

Christine ·

Daar is nie genoeg skole vir die aanwas nie
Nog minder ordentlik opgeleide onderwysers punt

Karoo ·

13 miljoen kinders is op SASSA…. hoeveel skole word gebou…. en hoeveel word af gebrand? Waar is die EFF… hulle het nog onlangs gespog dat hulle skole gaan bou?

Casper ·

Hoekom word skole gesluit.Ek weet van ‘n skool wat gesluit is omdat dit te naby aan ‘n spruit gebou is en half voltooide skole.

Martie ·

Daar is te veel kinders! Eenvoudige oplossing, steriliseer vroue na 2 kinders en mans ook.

Ronél ·

“Hulle” skole word viniger afgebreek as wat dit gebou word…………….skole in standvastige gebiede word die teiken.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.