MRK ontken VN-rasseverslag was ‘ommekeer’

Argieffoto (Foto: Shutterstock)

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) ontken dat sy verslag aan die Verenigde Nasies se komitee vir die uitskakeling van rassediskriminasie (CERD) ʼn ommeswaai was in sy eie standpunte rakende rassewette.

Solidariteit het die MRK vroeër skriftelik genader om antwoorde te eis oor die kommissie se rasseverslag aan CERD. Solidariteit voer aan die jongste MRK-verslag weerspreek sy eie gelykheidsverslag van 2018.

In die 2018-verslag het die MRK aanbeveel dat regstellendeaksie-wetgewing aangepas moes word om groepe meer genuanseerd op grond van behoefte en sosiale en ekonomiese omstandighede te teiken. Daar is toe ook geëis dat die regering binne ses maande nadat die gelykheidsverslag vrygestel is, aan die MRK moes terugvoer gee.

Solidariteit meen die kommissie se jongste VN-verslag skets egter ’n ander prentjie. “Dié verslag verwelkom selfs ’n kwotastelsel en vra dan boonop ook vir nóg strenger toepassing van rassewette – so asof hulle eie gelykheidsverslag skielik nie meer bestaan nie,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Wisani Baloyi, waarnemende woordvoerder van die Menseregtekommissie, ontken egter dié bewerings. Volgens Baloyi is die November 2023-verslag by CERD ingedien in afwagting van die regering se hersiening van sy 9de tot 11de periodieke verslag onder die internasionale konvensie oor die uitskakeling van alle vorme van rassediskriminasie (ICERD).

“Die kommissie benadruk sy toewyding om die staat aanspreeklik te hou om die ICERD te implementeer, met sy voorskrifte oor spesiale maatreëls. In sy parallele verslag aan die CERD het die kommissie kommer uitgespreek oor die voortgesette ongelykheid in Suid-Afrika,” sê Baloyi.

“Die kommissie herhaal sy standpunt, soos vervat in die MRK se gelykheidsverslag van 2017/18, dat maatreëls, soos die Wet op Gelyke Indiensneming, nog steeds nie doeltreffend ingestel is nie. Dit is spesifiek die versuim deur die staat om die definisies van toegewysde groepe in die wet te wysig om meer genuanseerde faktore in te sluit. Dit sal die assessering van verskeie vorme van benadeling van kwesbare groepe makliker maak, soos voorheen aanbeveel deur die MRK.”

Baloyi sê die kommissie het gevolglik die CERD in kennis gestel dat die regering nog steeds nie aan die CERD voldoen nie. “Die kommissie het dus nie van sy standpunt afgewyk nie. Die kommissie se volgehoue standpunt oor die voortgesette behoefte aan spesiale maatreëls om werklike transformasie te bereik, is nie gewysig nie.”

Die kommissie meen werklike transformasie behels die toepassing van meganismes soos die Wet op Gelyke Indiensneming en dit is binne dié konteks dat voorstel van numeriese teikens verwelkom word.

“Die numeriese teikens kan egter nie op sy eie transformasie bereik nie. Dit bly ʼn kommernis vir die kommissie dat dit uiteindelik nie wanbalanse en patrone van ongelykheid sal oplos nie. Dit is dieselfde standpunt wat die kommissie gehuldig het in sy wetgewende insette oor die Wysigingswet oor Gelyke Indiensneming.”

Baloyi sê die kommissie benadruk dat die arbeidshof in 2019, in die saak van Solidariteit teen die minister van arbeid en ander, Solidariteit se aansoek van die hand gewys het. Die hof het bevind dat Solidariteit se interpretasie van die MRK se gelykheidsverslag van 2017/2018 verkeerd was. “Die hof het bepaal dat daar nie enige statutêre of regulatoriese voorskrif is wat die gelykheidsverslag bindend maak op die regering of enige ander party nie.”

Baloyi sê die MRK is gretig om seker te maak dat sy standpunt oor spesiale maatreëls deur almal begryp word. “Om hierdie kwessie en ander aan te roer, sal die MRK in die nuwe jaar direk met Solidariteit kontak maak om die kommissie se standpunt oor regstellende aksie en ander kwessies te bespreek. Intussen wag die kommissie gretig op die CERD se samevattende waarnemings oor Suid-Afrika se implementering van die ICERD.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.