MTN verlaag ook datapryse

Argieffoto

MTN het Vrydag aangekondig dat hy sy datapryse met tot 50% gaan verlaag.

Dit kom nadat die Mededingingskommissie in Desember sy langverwagte verslag bekend gemaak oor die hoë koste van data nadat hy in Augustus 2017 met ʼn ondersoek in dié verband begin het. Die kommissie het die diensverskaffers Vodacom en MTN opdrag gegee om hul prys van data met tot 50% goedkoper te maak.

Volgens MTN sal al sy 30 dae-databondels tot en met 1GB vanaf 15 April met tot 50% goedkoper word. Die 1GB-databondel sal met 33% goedkoper word en voortaan R99 kos. MTN het gesê hy sal die bykomende prysveranderings bekend maak sodra dit vir kliënte beskikbaar is.

Die prysverlagings sal egter eers van 20 April via USSD-kode (byvoorbeeld *135#) en die diensverskaffer se app beskikbaar wees. Weens kontraktuele verpligtinge met ander kanale soos die diensverskaffer se bankvennote en winkels wat lugtyd verkoop sal datapryse eers in Mei goedkoper word indien dit op dié manier aangekoop word.

“Tussen Februarie 2017 en Februarie 2020 het datatariewe op die MTN-netwerk effektief met 76% afgeneem en is dit ons bedoeling om aan te hou om ons pryse te verlaag ten einde al ons verbruikers te bevoordeel,” het Godfrey Motsa, uitvoerende hoof van MTN, gesê.

MTN-gebruikers sal ook daagliks 20MB gratis ontvang. “Die 20MB Ayoba Data Lifeline sal verseker dat MTN-kliënte elke dag met vriende en familie kan kommunikeer, selfs al het hulle nie lugtyd nie. Dit is die ekwivalent van 600MB se gratis data per maand.

Ayoba is MTN se kitsboodskap-app. Die app is in isiZulu, isiXhosa, Engels en Afrikaans beskikbaar en kan op Android-toestelle gebruik word. Van vandag af maak die Ayoba Data Lifeline voorsiening vir kitsboodskappe (Ayoba Chat), die deel van foto’s, video- en klanklêers, ligging en stemnotas (Ayoba Media), sowel as die gebruik van Ayoba se vele nuus-, leefstyl- en vermaakkanale wat die besigtiging van video’s (Ayoba Channels) insluit.

Die diensverskaffer het intussen ook ʼn nuwe inisiatief genaamd MTN OpenTime bekend gemaak. Dit behels dat MTN-gebruikers gratis toegang tot 500 webtuistes sal kan kry. Dit sluit onder meer webwerwe vir onderwys, gesondheid en indiensneming in. Kliënte moet vir hierdie diens registreer op www.mtn.co.za.

MTN se aankondiging van laer datapryse kom nadat Vodacom vroeër die maand aangekondig het dat hy ’n ooreenkoms met die Mededingingskommissie gesluit het om sy datapryse met meer as 30% te verminder. Dié aansienlik laer pryse sal op 1 April in werking tree.

Vodacom het ingestem tot ʼn meerjarige vermindering van sy maandelikse databondels. Dit beteken dat ʼn maandelikse databondel van 1 GB voortaan slegs R99 sal kos vergeleke met sy oorspronklike prys van R149. Dié prys is met 34% verminder.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Faraway ·

Vodacom se 1gig data bundel kon ek al baie lank koop vir R99 …. dink sedert 2018
So watse nuwe vreeslike goeie verlaging is dit dan? Ek sien geen verskil nie ……

Vriendelike Frikkie ·

Ek verstaan nie van die verlaging nie. Hierdie boodskap tik ek met ‘n databondel van 40GB vir R249 by Vodacom. Ek kry die bondel al 6 maande. 20GB in die dag en 20GB in die nag. Ek sal nie omgee as hulle dit 80GB maak nie…

Grassie ·

Ek sien nêrens dat hulle die peperduur lugtyd ook goedkoper maak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.