MultiChoice moet opdok oor inentingsbeleid

MultiChoice se kantore in Randburg. (Foto: Google)

Die betaalkanaal MultiChoice is verlede week beveel om ʼn voormalige werknemer te vergoed nadat hy die trekpas gekry het omdat hy geweier het om teen Covid-19 ingeënt te word.

Donaldson Mofokeng is vroeër vanjaar “permanent onbevoeg” op grond van MultiChoice se inentingsbeleid verklaar omdat hy nie die entstof wou ontvang nie.

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het op 12 Desember beslis dat Mofokeng se afdanking in April onregverdig was.

Die KVBA het verder opdrag gegee dat R104 150, oftewel agt maande se salaris, aan Mofokeng verskuldig is nadat MultiChoice nie voldoende bewyse kon lewer dat die Covid-19-inenting Mofokeng en sy kollegas wel teen die virus sou beskerm nie.

Mofokeng se regsverteenwoordiger, Kgwaedi Setlago, sê MultiChoice het destyds ʼn inentingsbeleid ingestel en sy werknemers die geleentheid gegee om aansoek te doen vir vrystelling om die Covid-19-inenting te ontvang.

Die maatskappy het egter voorgehou dat al sy werknemers as “hoë risiko” beskou kan word en daarom moes almal ingeënt word.

“Mofokeng het, saam met baie van sy ander kollegas, ʼn vrystellingsaansoek ingedien, maar dit is van die hand gewys. Hy is aan ʼn interne verhoor onderwerp en die uitkoms was dat hy permanent onbevoeg verklaar is om sy werk as ʼn tegniese ondersteuning- en betalingskonsultant voort te sit,” sê Setlago.

“MultiChoice het die reg voorbehou om alle werknemers wat nie ingeënt is nie en permanent onbevoeg verklaar is, die trekpas te gee en Mofokeng was een van hulle.”

Volgens Setlago het MultiChoice reeds sy kliënt se grondwetlike reg op liggaamlike integriteit geskend toe hy destyds die vrystellingsaansoek van die hand gewys het. Mofokeng het egter staatgemaak op sy grondwetlike regte tydens die KVBA-verhoor.

Sy prokureur het tydens die verrigtinge aangevoer dat daar geen wetenskaplike bewyse is dat diegene wat teen die virus ingeënt word, nie die virus kan opdoen of versprei nie. Inteendeel, ingeënte mense kan steeds die virus opdoen en dit versprei wat dus albei groepe kwesbaar laat vir die siekte.

Setlago het aangevoer dat Mofokeng dus nie ʼn groter bedreiging vir sy kollegas en kliënte is as enigiemand anders nie en as sodanig nie permanent onbevoeg verklaar kan word nie omdat hy in staat is om sy werk te doen.

MultiChoice het teruggekap en gesê hy is ingevolge die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid gelas om ʼn veilige werksomgewing vir al sy werknemers te skep, asook deur die minister van indiensneming en arbeid bemagtig om ʼn verpligte inentingsbeleid aan te neem.

Die KVBA het beslis dat MultiChoice nie bewys het dat Mofokeng se besluit om nie teen die virus ingeënt te word, daartoe kon lei dat hy permanent ongeskik is om sy werk te doen nie en ook nie dat ingeënte werknemers nie Covid-19 kan opdoen of versprei nie.

News24 berig dat MultiChoice bewus is van die KVBA se beslissing, maar glo “duidelikheid van die arbeidshof vereis oor hierdie aangeleenthede waar werknemers geweier het om ingeënt te word, gegewe die teenstrydige beslissings wat gemaak is tydens die hoogtepunt van die pandemie”.

MultiChoice sal na verwagting die kwessie in die arbeidshof laat hersien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.