Munisipale bestuurder wil vertoë rig oor VBS-aanklagte

Die saak teen die voormalige bestuurder van die Mahikeng-munisipaliteit is tot volgende maand uitgestel sodat die verdediging skriftelike vertoë aan die direkteur van openbare vervolging in Pretoria kan rig.

Thabo Isaac Mokoena (61) se regspan het Dinsdag in die Molopo-landdroshof gesê die vertoë hou verband met die aanklagte teen Mokoena. Daar is egter nie bekend gemaak wat die vertoë sal behels nie, sê Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes.

“Weens die erns van die aanklagte is ʼn akte van beskuldiging voorberei om die saak na die hooggeregshof te skuif vir verhoor, hangende die afhandeling van alle voorlopige kwessies, waaronder die uitslag van die vertoë.”

Die saak sal weer op 26 Julie aangehoor word.

Mokoena het na bewering gehelp om miljoene rande van die Mahikeng-munisipaliteit in VBS Mutual Bank te belê en vergoeding daarvoor te ontvang.

Hy word aangekla van die oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur en die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteite.

Maroela Media het vroeër berig Mokoena was na bewering in 2017 betrokke by die besluit om minstens R92 miljoen van die Mahikeng-munisipaliteit se geld in VBS te belê. In ruil hiervoor het hy glo vergoeding in die vorm van krediet ten bedrae van meer as R1,2 miljoen vir die aankoop van twee motors en ʼn eiendom in Klerksdorp ontvang.

Mahikeng is een van die 20 munisipaliteite wat munisipale geld by die omstrede bank belê het. ʼn Voorlopige ondersoek deur die Valke het bevind dat sleg R7 miljoen van die R92 miljoen wat dié munisipaliteit belê het, aan hom terugbetaal is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kobus ·

vertoë rig? waarvoor? sal altyd tot die einde stry en onskuldig pleit. En ons howe gaan maar net uitstel en uitstel. Raak nou ‘n grap.

Cherokee ·

‘Waarvoor’ vra jy? Hy weet dat waarskynlik sy belonings terug gevat sal word.

SjN ·

Hul kan nie eers hu rekeninge betaal nie maar daar word beleggings gedoen, hy het lekker tjo tjo geld gekry en pleit nou bewusteloos.

Shakespeare ·

Waneer word skelm korrupte Malema rassis vasgevat ? Skuus ek het vergeet……ons het nie meer ‘n “reg” stelsel nie en die gemors word vrygestel van alle aanklagtes.

Yvonne ·

En so sloer en sloer elke saak jaar in en jaar uit….maar die klein vissies word vervolg

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.