Musikant se moordenaars gevonnis

Thoriso Themane (Foto: ANA)

Die musikant Thoriso Themane se moordenaars, onder wie vier tieners, is Woensdag gevonnis. Themane (28) is in 2019 in ʼn park in Polokwane, Limpopo, doodgeslaan.

Twee volwassenes, Chuene Maleka en Alfred Mothapo, het saam met ses tieners in die landdroshof in Polokwane verskyn in verband met Themane se moord. Die tieners was ten tyde van die aanranding tussen 14 en 16 jaar oud. Hulle is nou 18 jaar of ouer.

Volgens Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het die vonnisoplegging ingevolge die Wet op Kindergeregtigheid geskied aangesien die misdryf gepleeg is toe die tieners minderjarig was.

Daar was aanvanklik sewe tieners in die saak betrokke, maar een – Tlisetso Mphahlele (14) – het voor die verhoor gesterf.

Vier van die tieners, Kgothatso Tumelo Teffo (18), Raofa Mahloromela Vincent Mothemela (18), Tshiamo Miyeni (19) en Lesetja Kabelo Ramokgopa (20), is in Desember skuldig bevind op aanklag van moord. Hulle is elk tot tien jaar tronkstraf gevonnis.

Die ander twee tieners, Thabang Mohubedi (20) en Adaho Mudau (20), wat skuldig bevind is op aanklag van aanranding, is elk drie jaar tronkstraf opgelê wat vir vyf jaar opgeskort is.

Maleka en Mothapo is elk ’n boete van R20 000 opgelê of vyf jaar direkte tronkstraf op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Maroela Media het vroeër berig Themane, ʼn plaaslike musikant van Polokwane, is op 23 Februarie 2019 in die Florapark in die stad aangerand, waarna hy vir dood agtergelaat is. Themane was glo op pad huis toe van ʼn musiekoefening by sy kerk toe hy deur ʼn groep oorval en aangerand is.

Video’s van die voorval wys hoe ʼn bebloede Themane gesleep, geslaan en geskop word en hoe sy liggaam later in die straat afgesleep word. Themane het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Clifford ·

Dit gaan my verstand te bowe hoekom iemand wat moord pleeg nie lewenslank tronkstraf kry nie ? Ek meen jy het iemand se lewe geneem

TO ·

Verregaande, absoluut verregaande. Ons maak dronkaards (taverne) en moordenaars groot en dis aanvaarbaar vir die samelewing en ‘n baie groot grap

Delia ·

Hoe de……. opgeskorte vonnisse vir aanranding. En 10 jaar vir moord.

Di ·

Hieruit kan ons duidelik sien hoe hulle “kinders” opgevoed word. Geen wonder hulle ruk handuit in Taverns en skole nie. Sien SWAAR dae wat voorle vir hierdie land met joeug soos DIE in die samelewing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.