Myn sluit ook werkers uit wat loonaanbod aanvaar

Sibanye-Stillwater se Kloof-myn aan die verre Wes-Rand. (Foto: Sibanye-Stillwater)

Solidariteit gaan hom tot die hof wend nadat die mynmaatskappy Sibanye-Stillwater glo vandeesweek ʼn uitsluitingskennisgewing aan sy lede uitgereik het.

Hierin word die vakbond se lede van die werksplek uitgesluit ondanks die feit dat hy reeds verlede week Sibanye-Stillwater se loonverhogingsaanbod ná maande lange onderhandelings aanvaar het.

Luidens die aanbod moet Solidariteit se lede ʼn verhoging van 5% vir die volgende drie jaar kry.

Talle vakbonde het egter nie hierdie aanbod aanvaar nie en glo steeds met ʼn beplande staking teen die maatskappy voortgegaan.

“Volgens die uitsluitingskennisgewing moet die meerderheid van al die betrokke vakbonde se lede die aanbod aanvaar voordat ʼn skikking bereik kan word,” sê Riaan Visser, adjunkhoofsekretaris vir die Mynbou-, Landbou- en Chemiese Bedryf by Solidariteit.

“Dit beteken dat Solidariteit se lede, wat die aanbod reeds aanvaar het, ook uitgesluit sal word en die beginsel van ‘geen werk, geen betaling’ nou ook vir hulle sal geld.”

Solidariteit beplan nou om die arbeidshof op ʼn dringende grondslag te nader om ʼn interdik teen die uitsluiting van sy lede by Sibanye-Stillwater te bekom.

Boonop meen die vakbond dat hierdie skuif die maatskappy se morele verval ten toon stel, aangesien sy lojale werknemers ook hierdeur gestraf word.

“Hierdie optrede is tekenend van waarom die maatskappy die een staking ná die ander ondervind,” sê Visser.

“Sibanye-Stillwater se geneigheid om sy werknemers te minag is ook een van die hoofredes waarom die maatskappy verlede jaar as die gevaarlikste mynhuis beskou is om voor te werk.”

Solidariteit het ʼn beroep op die maatskappy gedoen om te herbesin oor sy besluit om ook die uitsluitingskennisgewing aan sy werknemers wat reeds die loonaanbod aanvaar het, te gee.

“Sibanye-Stillwater se topbestuur sal moet besin oor sy morele kompas, aangesien hy nie werknemers se reg om ʼn loonaanbod te aanvaar respekteer nie. Dít boonop nadat die maatskappy se onderhandelaars aan Solidariteit beloof het dit sal nie gebeur nie,” sê Visser.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

B-Man ·

Ja, die unies en vakbonde. Niks anders as hedendaagse mafia nie.

chareen ·

Die Unies moet wakker skrik, werk is skaars, aanvaar die aanbod ongeag, Jul unielede het werk, Jul vat elke maand n bedrag….sonder dit hoe gaan Jul “survive” gaan dit oor julle of Jul lede??? Vra maar net…

B-Man ·

Ek dink nie hulle lees Afrikaans nie. Staking gaan hulle lede duur te staan kom, maar nie vir die die unies self nie. Hulle het klaar vergeet wat met die vorige groot staking gebeur het. Van daardie lede betaal nou nog af aan lenings wat doerie tyd aangegaan is…
Buitendien – die platinumgroepmetale doen nou so goed op die mark, SSW sal ‘n staking kan bekostig.

Marcello ·

Ek stem aanvaar dit, anders gebeur, wat met ons gebeur het, wat 1,1 persent gekry het, in my 39 jaar in die maatskappy was dit die swakste verhoging, maar ten minste het ons nog ‘n werk.

Jr ·

Suid Afrika ‘s se nasionale winter sports.
STRIKING AND TOI TOI.
SA’ s goue medaljes 15467
Res van die wêreld = 0

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.