Mynbou: Produksie afgeskaal oor koste

myn staking mynhoed

Argieffoto

Nog veranderinge staar Suid-Afrika se mynbou in die gesig. Twee van die land se oudste en grootste goudmyn-maatskappye, AngloGold Ashanti en Goldfields, gaan hul produksie in Suid-Afrika afskaal.

Die maatskappye beoog om net ʼn aks bo 10% van hul aandele in Suid-Afrika te behou, asook om in die buiteland te belê waar produksiekoste goedkoper is.

Die hoofekonoom by economoists.co.za, Mike Schussler, sê daar is verskeie struikelblokke in die weg van mynmaatskappye. Dit sluit arbeidskoste en regeringsbeleid in.

Boonop is bedryfskoste in Suid-Afrika volgens hom besonder hoog weens onder meer duur water en elektrisiteit asook belasting.

ʼn Paar jaar gelede het Goldfields sy Suid-Afrikaanse bedrywighede in Sibanye Gold ontknoop. AngloGold Ashanti se vorige hoofaandeelhouer, Anglo American, het ook sy meerderheidsbelang sowat 20 jaar gelede verkoop.

In ʼn stadium is Goldfields deur Rembrandt en Standard Bank beheer. Schussler sê ʼn groter getal Suid-Afrikaanse maatskappye belê in die buiteland. Volgens hom is die probleem dat buitelandse maatskappye nie maklik in Suid-Afrika belê nie.

“Bedryfswins is onder druk en nie aanloklik nie. Dit maak dit problematies om hier te belê,” sê hy.

Goldfields se uitvoerende hoof, Nick Holland, sê die besluit was maklik. Die maatskappy het op buitelandse maatskappye gekonsentreer waar erts meganies ontgin word teen ʼn goedkoper koste.

In Suid-Afrika is die meeste myne nog ondergronds wat produksiekoste opjaag.

Goldfields gaan miljarde rande in projekte in Australië en Ghana belê.

Schussler sê nuwe tegnieke maak oopskagmyne meer aanloklik en winsgewend. Goldfields kyk ook na projekte in Peru. Die myngroep koop tans belange in kleiner mynmaatskappye aan en brei sy belange uit. Hy doen ook ʼn lewensvatbaarheidstudie in Chili.

Goldfields se enigste belang in Suid-Afrika is die South Deep-goudmyn. Dit word beskou as die myn met die rykste ertsopbrengs in die land.

Holland wys daarop dat beleggers na koste kyk en na die soort winsopgawe wat myne kan oplewer.

Ontleders sê AngloGold sit met ʼn buitengewone probleem. Die meeste van sy myne is verouderd en het die einde van hul lewenspeil bereik. Net die Mponeng-myn in Suid-Afrika sal vanjaar ondersteun word.

Sy bestuurshoof, Srinivasan Venkatakrishnan, sê dat hy nou ʼn strategie moet volg om interne groei optimaal te benut.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Cherokee ·

Dan het daar ‘n paar veranderinge ingetree want ek is onder die indruk South Deep (Western DeepLevels) behoort aan Anglo en Oos Driefontein wat aan Goldfields behoort is die rykste in die wêreld.

CHRISTA ·

Ongeag wat die myn of eienaars se naam of van is, ‘n myn is nie ‘n onuitputlike bron soos die weduwee se kruik nie!! Gaan kyk na Kimberley se gat waar die grootste diamant gemyn was!! Hoeveel myners sien jy daar?

Cherokee ·

Vul jou redenasie aan deur van olie te praat wat myle belangriker is as goud. Dìt word soos ‘n weduwee se kruik gebruik en is beslis nie onuitputlik nie. Ek is verstom dat daar soveel olie is as wat gebruik word om in aanvraag te voorsien. Wat gebeur as olie uitgeput is, behoort die vraag te wees.

Lorene ·

South Deep behoort aan Gold Fields.(2 woorde) Voorheen het hul ook Kloof, Driefontein en Beatrix besit. Hul het ontbondel en die 3 myne is oorgesit in ‘n nuwe maatskappy, Sibanye Gold. Gold Fields het net South Deep in SA behou.

Peet Schabort ·

Mynbou waar afbouing plaasvind. Die ontginning van goud is nie so eenvoudig as wat dit klink. Dit kan selfs jare neem om vas te stel waar die goudrif is en dan met inagneming van geologiese besonderhede (diepte, verskuiwings, stabiliteit van die rots, die teenwoordigheid van ondergrondse water, helling van die goudrif, omvang, betalend?, waar geleë? ens.) word dan bepaal deur boorgate waar skagte gesink kan word. Die posisie van ‘n skag begin op ‘n ondergrondse plan met inagneming van alle faktore. Daarna word bogronds vasgestel of die skagposisie uitvoerbaar is. Nou val die ko-ordinaatpunt op ‘n snelweg, bo-op ‘n berg, binne ‘n dorp/stad en moet geskuif word. Nou is dit terug na die ondergrondse planne om die mees voordeligste alternatief te vind. Nou val die skag in ‘n mielieland en moet die boer uitbetaal word vir die oes wat nie meer daar is. ‘n Spoorlyn na die reduksiewerke moet aangelê, paaie moet gebou word, dorpstigting (soos Evander) moet plaasvind. KUNDIGE personeel word aangestel en met nog ‘n swetterjoel vereistes (o.a. sementasie van die skag wat uiters belangrik indien van toepassing) ) kan daar dan eers BEGIN word met die skagsinking. Na skagsinking is dit eers tonnels en dan uiteindelik die proses van afbouing. Soos wat daar verder van die skag gemyn word so styg onkostes ook. Werklik ‘n duur proses wat uiters beproef word met o.a. stakings. Hierdie spasie is té min om die omvang van vertikale skagte se ontginning te beskryf.

Eish ·

Dit gaan eenvoudig die Zama-Zama probleem vererger deurdat afskaling, groter mynbare areas vir hul ooplaat.
Groot probleme lê voor in die mynbedryf.
Jammer dit dit altyd eers moet slegter gaan voor dit beter gaan. Zim 2 in vertraagde aksie is besig om hom af te speel.

Reguit ·

Daar is ‘n klomp faktore wat saam speel. Maar basies kom dit daarop neer dat al hoe meer maatskappye besef dat dit nie aangenaam en/of lonend is om in ‘n hool besigheid te bedryf nie. Ek is een van hulle. Ons disinvesteer en ons waai. Volgende jaar is ek en my gesin weg.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.