Myners vertel van gyselaarshel by Gold One

Gold One Modder-Oos-myn. (Foto: Google)

Honderde myners is vyf dae lank in die Gold One Modder-Oos-myn buite Johannesburg as gyselaars gehou. Pieter Jordaan het met van die slagoffers gesels. Hier is die gruwelverhaal.  

Waarskuwing: Hierdie berig bevat fotos wat sensitiewe lesers kan ontstel.

“Luister nou mooi, jou boer,” sê een van die hoofindoenas in die yskoue goudmyntonnel 350 m ondergronds.

“Elke twee uur wat ons niks van die bestuur daarbo hoor nie, maak ons iemand hier onder dood.”

Met dié dreigement is ʼn ernstig beseerde gyselaar van die Gold One-myn verlede Sondagmiddag, met ʼn brief in die hand, na sy bogrondse “vryheid” gestuur.

“Hier is genoeg wittes om dood te maak en dán sal hulle luister,” spoeg hulle dit uit – vol vertroue dat hierdie laaste uitweg resultate sal lewer.

“Toe, beweeg!” jaag hulle hom aan.

Hy probeer maak soos hulle sê, hoe seer dit ook al is.

Hy is alleen en in trane. Bebloed en kaal. In dié toestand strompel die middeljarige mynwerker, eggenoot en pa met die besmeerde losprysbrief in die tonnel af, na die oopskuifhek van die skag se hokhyser.

Hy is só gekneus en voel hy kan nie meer beweeg nie. Die pyn laat hom vooroorgebuk loop. Maar stilstaan kan hy nóg minder. Dis dan wanneer die houe val. Pikstele, planke en pype gewetenloos gebruik deur ʼn wrede bende martelaars wat nou op die hakke van die beseerde boodskapper bly, om hom so tot by die hyser te kry.

Dit is die bende wat hierdie nagmerrie by Gold One se Modder-Oos-myn reeds drie dae lank uitrek.

Mynwerks van Gold One-myn in Springs is met pikstele, planke en pype gemartel. (Foto: Verskaf)

Ondanks waarskuwings aan die mynbestuur dat ʼn herhaling van Oktober se gyselaarsdrama op hande is, is 440 mynwerkers steeds op Donderdag 7 Desember vir die nagskof onder die grond gestuur.

No work, no pay,” word aan hulle gesê. Nog ʼn dag sonder produksie is glo buite die kwessie.

Maar elke groepie wat onder uit die raserige hokhyser vir skofdiens by die skagstasie afklim, besef gou iets is verkeerd. Daar aangekom, is dit donker en doodstil. Pleks van ʼn gewoel van arbeiders, staan lang rye myners strak met rûe teen die mure van die tonnels, na links en na regs. Wanneer jy jou voet uit die hyser sit, jaag mans vermom in balaklawas jou in ʼn trop ʼn vertrek binne.

Later kom kry hulle jou weer, boender jou in ʼn bakkie en ry sowat 300 m verder in die tonnel af – ʼn nuwe plek van aanhouding.

“Sit daar en bly stil. Hier gaan ons lánk sit. Ons het baie werk om te doen,” kom die waarskuwings.

Wat die “werk” is, weet die meeste van hulle nie presies nie. Maar dit gaan oor die eise van die onvergenoegde Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu). Oktober se gewelddadige taktiek om vakbond-erkenning by die myn te eis, het toe nie hulle honger gestil nie. Buitendien dring hulle nou daarop aan dat die 52 werkers wat weens Oktober se misdade afgedank is, weer moet terugkeer werk toe.

Wat die mynbase daarbo doen om dit te beredder, weet die gyselaars nie. Hier ondergronds waar hulle is, gee hulle gehoor aan die bevele wat uit die balaklawas blaf.

Die meeste werkers ken hulle plek. Hulle bly stil. Hulle soek nie moeilikheid nie, want sommige van hulle was in Oktober óók hier vasgekeer. Hou jou doof vir die mynpolitiek en laat dit sy gang gaan.

Maar in die koue donker gange gaan dit stadig. Die ligte is doelbewus afgeskakel en al het die meeste ʼn flitslig byderhand, is almal sonder kos en met beperkte toegang tot drinkwater.

24 uur gaan verby. Nog niks. Diegene wat durf vrae vra, word gedreig met geweld. Alle tweerigtingradio’s is mettertyd afgevat sodat niemand na bo kan uitpraat nie.

Wanneer die mynbakkie weer roekeloos in die tonnel afgejaag kom en hy gly tot stilstand waar jý gevange sit, vrees jy moeilikheid.

Jy sit stil, en kyk af. As hulle jou beveel om op te staan en te skree “Amandla, Amcu”, dan skree jy dit maar saam. Dis wat lede van die National Union of Mineworkers (NUM) as Amcu se mededinger ook maar doen – vernedering in ruil vir genade.

48 uur gaan verby en die gyselaars raak onrustig. Hulle afdreigers ook. Geen kos word van bo af gestuur nie – blykbaar omdat dit die grypers óók langer ondergronds sal laat vasbyt.

En toe … ʼn bietjie hoop. ʼn Jong werker vertel:

“Ons het probeer ontsnap en een skofbaas kon by die stasietelefoon uitkom om vir die mynkaptein te vra om die cage af te stuur. Hulle het woord versprei dat almal solank na die cage toe kan beweeg. Dit was sodat ons kon begin opgaan. Ons het gedink ‘hier is dit uiteindelik verby’.”

Maar die hokhyser het nooit gekom nie.

“Ons het nog daar gestaan en skielik, toe ons deur die turnstiles na die cage se kant toe wil beweeg, toe kom ʼn groot groep van hulle van die ander kant af en begin almal net te m***.”

Beserings wat een van die gemartelde mynwerkers aan sy boude opgedoen het. (Foto: Verskaf)

Die duiwel was los. Gewapen met hoofsaaklik pikstele en planke is almal in gevangenis in teruggejaag. Dit was Saterdag. Een jong man oorweeg dit om hom teë te sit, maar sien dan sy jong vriend – histeries terwyl bloed uit ʼn gapende wond uit sy kop stroom.

ʼn Veiligheidsbeampte kan hulle darem met verbande help, maar selfs terwyl die wond verbind word, word die beseerde met klippe bestook en geskop.

Die skielike aggressie het ook ʼn ander oorsprong, vertel nog ʼn werker.

“Van die mense wat aangehou is, het gesien hoe die ouens [die aanhouders] in die noodhulpkamer ingaan om sakke pynpille te gryp wat hulle dan fynmaal en rook. Dit maak hulle heeltemal mal,” sê hy.

Dan loop almal deur …

Wanneer dit lyk of die boewery faal en hulle eise geïgnoreer word, neem intimidasie toe.

Hulle wil hê die bestuur moet self ondertoe kom om te kom praat. Nóú!

Hulle gaan ʼn boodskap stuur wat “die wit mynbase verstaan”.

“Kom hier, boertjies!”

Hulle begin die middeljarige wit man wat later die boodskapper sou wees van alle kante af te slaan. ʼn Swart kollega probeer tussenbeide tree, maar word erg aangerand en ná verskeie houe teen sy kop lê hy daar. Bewegingloos.

Hulle sleep hom uit die vertrek en keer ná ʼn ruk terug.

“Daai ou is dood,” sê hulle as waarskuwing met hulle terugkoms aan die ander gevangenes. Hulle het hom in ʼn sak gedruk en iewers anders in die donker doolhof gegooi.

72 uur gaan verby.

Honger en dors word verdwerg deur vrees, pyn … en ook vernedering.

Verskeie werkers word beveel om hulle klere uit te trek. Die bendelede kap twee paletplanke met spykers aan mekaar vas en deel met die dubbellaag ʼn pak slae uit op boude, bene, arms en rûe. Van hulle word herhaaldelik met ʼn brandblusser in die gesig gespuit.

Mynwerks van Gold One-myn in Springs is met pikstele, planke en pype gemartel. (Foto: Verskaf)

Hulle dwing vriende ook om mekáár te slaan … anders sal húlle dit doen.

Elke nou en dan word iemand uit die vertrek geruk en keer nie weer terug nie.

“Ek kan Fanagalô verstaan en kon hoor hoe hulle sê dat hulle die een skofbaas in die tip gaan afgooi,” sê nog een van die slagoffers. Hy praat van die glygang van 6 m wyd tot 40 m diep tot onder op die klip-voetwal – ʼn doodsput.

“Ek het al begin dink hoe ek my lyf moet draai as ek daar afgegooi word om myself te probeer red as ek val. Ons het gedink ons gaan doodgaan.”

Kommunikasie na bo het ook ʼn dooiepunt bereik. Die mynbestuur is blykbaar nie een bereid om af te kom nie. Onder is die telefone alles vermorsel. Daar is klaar gepraat.

Die oortreders wil nóg ʼn sterker boodskap stuur. Hulle trek die middeljarige man nader en ruk sy klere af.

Hulle gaan van hom ʼn voorbeeld maak en slaan hom tot hy bloei, huil … en bid.

Hulle prop ʼn stok in sy hand en laat hom dans terwyl hy “Viva, Amcu” moet skree.

Dan kom die opdrag: “Hier is ʼn brief. Jy vat dit vir management met die cage boontoe.”

So slaan-slaan dryf hulle hom na die hyser toe met die waarskuwing wat hy en die ander gyselaars gehoor het, nog vars in sy gedagtes: “Elke twee uur wat ons niks van die bestuur daarbo hoor nie, maak ons iemand dood.”

Soos hy desperaat en bebloed na die hyser kruip, wens hy vir ʼn oomblik dat die dood hom eerder van die pyn kon verlos.

Sondagmiddag net voor eenuur steier die man in die sonlig uit sy donker nagmerrie uit. Kaal en stukkend, ten aanskoue van die mynbestuur, en glo selfs min. Gwede Mantashe self.

Hy sou eers later hoor dat die ander gyselaars tot Maandagmiddag moes wag om verlos te word. Die “betogers” het bes gegee. Sommige slagoffers was bykans 100 uur onder grond sonder enige kos, maar gelukkig ook sonder enige lewensverlies.

Die lafhartige “twee uur”-dreigemente was toe net dit. Selfs die swart kollega wat die “boer” wou verdedig, leef wonderbaarlik nog.

Hy is honderde meters verder in die tonnel af ondertoe in die sak gevind, toe iemand daarop wou gaan sit en beweging voel. Hy het nog gelewe – sy oë dik toegeswel en bebloed.

Aan die afdreigers se eise is nie gehoor gegee nie, en almal daarbinne is bevry.

“Dissiplinêre stappe sal volg, waar toepaslik en waar nodig,” word die myn se regshoof in die media aangehaal. En dan benadruk hy die myn se standpunt dat unies tog liewer interne appèlprosedures moet gebruik om geskille te besleg.

Werkers wat berading benodig, sal dit glo in die nuwe jaar kan ontvang.

Maar vir eers is dit Geseënde Kersfees almal, en sien julle weer volgende jaar.

Solidariteit het aangedring dat die mynbestuur aksie teen die oortreders neem. Lees Maroela Media vir meer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.