‘ʼn Bysaak’ – Ramaphosa reageer op Veelpartyhandves

President Cyril Ramaphosa (Foto: Marco Longari / AFP)

ʼn “Bysaak” is hoe pres. Cyril Ramaphosa Saterdag die sewe opposisiepartye bestempel het wat hulle verbind het tot ʼn voorverkiesingsooreenkoms in die hoop om ʼn nuwe koalisieregering ná volgende jaar se verkiesing tot stand te bring. Hy beskou dit allermins as ʼn “hoofvertoning”.

“Partye wat, soos hulle sê, die ANC wil ontsetel – dit is ʼn blote bysaak of byvertoning vir ons,” het Ramaphosa vroeër vandag in sy hoedanigheid as president van die regerende party aan verslaggewers gesê voor ʼn vergadering met die ANC in Gauteng se leierskap.

“Hulle is geregtig daarop om konferensies te hou. Hulle sal egter nooit op die steun wat die ANC het, kan aanspraak maak nie,” het Ramaphosa gesê in reaksie op die opposisiepartye se nasionale konvensie vroeër vandeesweek.

“Dit is rotsvaste ondersteuning wat oor die hele land strek.

“Daar is geen organisasie met so ʼn groot reikwydte na die mense van Suid-Afrika as die ANC nie. Daarom is ons vol vertroue om te sê ons werk vir ʼn oorwinning. So, hierdie kwessie van ʼn pessimistiese touopgooi-benadering – dat ons in koalisies gaan wees – is ver verwyder van ons denke,” sê Ramaphosa.

Die DA, VF Plus, IVP, ActionSA, United Independent Movement (UIM), die Spectrum National Party (SNP) en die Independent South African National Civic Organisation (Isanco) het tydens die nasionale konvensie tot ʼn ooreenkoms gekom.

Die ooreenkoms staan bekend as die Veelpartyhandves vir Suid-Afrika en bied opposisiepartye die heel beste kans om die ANC te ontsetel, die mag buite die EFF se hande te hou en ʼn meerderheid van 50% plus 1 te behaal om ʼn alternatiewe regering tot stand te bring.

Die opposisiepartye het egter intussen ander partye buiten die ANC en EFF uitgenooi om hulle by die alliansie aan te sluit nadat projeksies gewys het dat hulle waarskynlik nie alleen ʼn meerderheid in die 2024-verkiesing sal kan behaal nie.

Lees al Maroela Media se berigte oor die Veelpartyhandves vir Suid-Afrika hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

KB ·

Die “bytjie” in die bysaak steek seer…en die ANC is allergies vir bye, nè!

Republikein in die Wes Kaap ·

Ramaphosa, die EFF is jou grootste bekommernis.

Papsak ·

As ek sy gesig sien wil ek kots moenie te vol van jou self wees nie Ramaphosa ons gaan sien ek staan agter hierdie partye sterkte wys hulle dink mos hulle kan alles oorvat en maak en breek soos hulle wil hy like vreeslikkkkk van fotos neem

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.