ʼn Luiperd van ʼn ander kleur

Liana en haar besonderse boetie, Madiba, speel voor die fotograwe. Hier kan 'n mens duidelik die verskil tussen die gewone luiperd en die groot kat met eritrisme. Foto: Esté Meyer Jansen.

Liana en haar besonderse boetie, Madiba, speel voor die fotograwe. Hier kan ‘n mens duidelik die verskil tussen die gewone luiperd en die groot kat met eritrisme. Foto: Esté Meyer Jansen.

Akwaaba Lodge en Roofdierpark net buite Rustenburg in Noordwes, raak al hoe meer bekend vir hul baie besonderse dieresoorte. Die park het bekendheid verwerf vir die onafskeidbare jaguar en Jack Russellterriër, Jag en Bullet, wat saam in ʼn hok woon, en nou huisves die park ook die eerste donkerblondkleurige (strawberry) luiperd, wat in aanhouding gebore is.

Roofdierkenners was tot dusver bewus van net een ander soortgelyke luiperd, wat in 2012 wêreldwyd opslae gemaak het. ʼn Fotograaf het dié besonderse luiperd in die Madikwe Natuurreservaat, ongeveer 90 km noord van Zeerust, in dieselfde provinsie, op film vasgelê.

Die luiperd se unieke rooigemmerkleurige pels is te danke aan ʼn genetiese afwyking genaamd eritrisme. Die afwyking lei tot die oorproduksie van rooi pigment en die onderproduksie van donker pigment in die pels, maar het blykbaar nie ʼn invloed op die dier se lewensgehalte nie. Volgens National Geographic is dit ook nie ʼn afwyking wat algemeen in groot katte voorkom nie, maar dit word wel dikwels by wasbere en prêriewolwe opgemerk.

“Ons het besluit om die luiperdmannetjie na Madiba te vernoem omdat hy net so besonders is soos die oudstaatshoof,” verduidelik Sonnette Boshoff, bestuurder by Akwaaba Lodge.

Madiba is nou ses maande oud en weeg ongeveer 12kg. Sy jonger suster Liana, het ʼn gewone pels met die kenmerkende swart rosetvormige kolle. Hulle is albei deel van die eerste werpsel van ʼn doodgewone luiperdmannetjie en -wyfie wat rondloop op Aloe Ridge-natuurreservaat, wat behoort aan Akwaaba Lodge se  eienaars, Nazir en Leila Cajee. Leila sê Madiba is “ʼn nuuskierige groot kat” en hy is glo sterker, maar effens rustiger van geaardheid, as Liana.

Lede van die publiek kan dié besonderse luiperd by Akwaaba Lodge en Roofdierpark gaan besoek. Klik hier vir meer besonderhede.

Hier is video van die onafskeidbare jaguar en Jack Russellterriër wat ook by Akwaaba Lodge woon:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

P Meyer ·

Dit is ‘n lekker Suid Afrikaanse storie oor ons natuurlike erfenis. Die kans dat ‘n mens die unieke natuur verskynsel sal kan waarneem elders in die wereld is baie skraal en om dit in Afrikaans te kan lees maak dit nog lekkerder!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.