’n Paar Bomb Squad-lede in opdrafspan!

Malcolm Marx is in die Springbokke se opdrafspan teen Argentinië. (Foto: Michael Bradley/AFP)

Uiteindelik!

Malcolm Marx dra Saterdag die no. 2-trui teen Argentinië op Ellispark, terwyl spelers soos Manie Libbok, Grant Williams en Kurt-Lee Arendse ook in die opdrafspan is.

Duane Vermeulen sal, net soos wat hy in die openingswedstryd van die Rugbykampioenskap teen Australië gedoen het, weer die kapteinskapleisels vasvat.

“Dit is ʼn topgehalte-span wat oor die nodige vaardighede beskik om Argentinië te troef. Daar is ʼn goeie balans tussen ervaring en jong spelers; iets wat baie belangrik in aanloop tot die Wêreldbeker-rugbytoernooi is,” het Jacques Nienaber gesê.

Daar is altesaam nege veranderinge aan die span aangebring wat twee weke gelede met 35–20 teen Nieu-Seeland in Auckland vasgeval het.

Duane Vermeulen sal die span weer aanvoer. (Foto: GB Jordaan)

“Die uitslag teen die All Blacks was baie teleurstellend, maar ons het ʼn plan gereed wat ons hopelik nie net sal toelaat om die beste span vir die Wêreldbeker te kies nie, maar ook sal sorg dat ons op die regte tyd op ons beste is.”

Marx sal saam met Steven Kitshoff en Frans Malherbe die Argentyne se voorryaanslag probeer hokslaan, terwyl Marvin Orie saam met Eben Etzebeth in die lynstane sal rank.

Williams vorm ʼn opwindende skakelpaar met Libbok, terwyl Arendse en Cheslin Kolbe ʼn vleuelkombinasie is wat beslis vir hoofbrekens kan sorg.

Jesse Kriel.  (Foto: GB Jordaan.)

Jesse Kriel sal ook in sy eerste Springbok-wedstryd van die jaar speel.

Nienaber het egter gewaarsku dat die Suid-Afrikaners vanuit die staanspoor op alle suiers sal moet vuur; Argentinië kan immers gevaarlike teenstanders wees.

“Hulle het in hul laaste twee wedstryde gewys dat hulle ʼn krag is waarmee daar rekening gehou moet word en ons moet van die afskop af op ons skerpste wees. Argentinië is trots op hul spel in die vaste fasette en hulle weet presies hoe om uit jou foute munt te slaan.”

Die wedstryd begin Saterdag om 17:05 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Springbokke: Willie le Roux (heelagter), Cheslin Kolbe (regtervleuel), Jesse Kriel (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Kurt-Lee Arendse (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Grant Williams (skrumskakel), Duane Vermeulen (agtsteman en kaptein), Pieter-Steph du Toit (flank), Marco van Staden (flank), Marvin Orie (slot), Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (stut), Malcolm Marx (haker) en Steven Kitshoff (stut). Plaasvervangers: Bongi Mbonambi, Trevor Nyakane, Vincent Koch, Kwagga Smith, RG Snyman, Faf de Klerk, Lukhanyo Am en Damian Willemse.

Uitslae van die laaste tien wedstryde tussen Suid-Afrika en Argentinië (Springbokke se telling eerste):

19 Augustus 2017: 37–15 in Gqeberha

26 Augustus 2017: 41–23 in Salta

18 Augustus 2018: 34–21 in Durban

25 Augustus 2018: 19–32 in Mendoza

10 Augustus 2019: 46–13 in Salta

17 Augustus 2019: 24–18 in Pretoria

14 Augustus 2021: 32–12 in Gqeberha

21 Augustus 2021: 29–10 in Gqeberha

17 September 2022: 36–20 in Buenos Aires

24 September 2022: 38–21 in Durban.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Niklaas ·

Ek glo dis een gedugte span wat die Arg Pumas sal laat les opsê . Dit sal seker nie ‘n rekord hoê eindtelling hê nie , maar dit beloof om ‘n baie aksievolle wesdtryd te wees en ons sal wen. Ek sou net graag vir Andre Esterhuizen iewers daar wou sien.

Chopper ·

Ek is seker in ons land is daar beter op senter as chappie-kouende Lam en Ellende. Esterhuizen was teen Aus top klas, sit hom eerder saam Kriel.

Cassie Carstens ·

Ek kan nie heeltemal saamstem nie, maar is tog vaan mening dat as De Allende nie Saterdag presteer nie, sal hy nie weer plek kry in die Bokspan nie. Kom ons hoop vir die beste en wees positief.

Republikein in die Wes Kaap ·

Geen land kan “normale” sport in ‘n abnormale samelewing beoefen nie.

kragaap ·

Bokke kom uit ‘n abnormale samelewing uit en is wêreldkampioene. Verduidelik nou jou stelling? Inteendeel bokke het al 3 wereldbekers gewen in 7 toernooie waarin hul deelgeneem het. All Black het ook 3 gewen in 9 toernooie. Maak jou verduideliking nog moeiliker.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek herhaal net wat Sam Ramsany in die 1970s en 80s gesê het toe sportboikotte teen SA ingestel is. Hy het verduidelik dat sport nie normaal is in ‘n rasmal land nie. Ons is weer in ‘n rasmal land. Dis so eenvoudig.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek was destyds nog jonk en het met hom verskil. Nou besef ek hy was heeltyd reg. Daar is Afrikaners wat reken ons kan nou voortgaan om balle rond te skop terwyl ons gebuk gaan onder meer rasse beleide. En dan kla ons daaroor. Dis dubbelestandaarde. Gaan terug na 1992. Terugkeer na internasionale sport was een groot rede waarom wittes ja gestem het. Sport beteken niks vir vryheid. Die wedstryd is vinnig verby en dan ploeter ons voort.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek volg eerder Afrikaner Volkseie Skolesport se Bokkie weke voordat ek SA Rugby, netbal en krieket se twak volg. Alle ware Afrikaners behoort dit te doen.

JohanR ·

Ek lees rerig nie Jacques Nienaber en Rassie Erasmus se plan vir die finaal 33 wat Wereldbeker toe sal gaan.

JohanEtz ·

Die telling teen NZ was realisties.
My voorspelde telling was net 2 punte uit…35 – 18
Kan nie glo mense het verwag dat NZ op hul tuisbodem sou verloor of die Bokke kanse sou gegee het nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.